fbpx

Langdurige blomme vir lente tot herfs

Wat kan meer aandag trek as ‘n pragtige kleurspatsel wanneer jy ‘n dorp, park of tuingebied binnekom? Jy sal saamstem dat die aanskouing van kleurryke, goed onderhoude beddingplante nie net die gees lig nie, maar ook ‘n baie goeie indruk skep.

Sommige jaarplante en meerjarige plante het waarvan ons almal in ‘n tuin of houerplant hou: dit blom lank en bly kleurvol. Hierdie spesiale variëteite sal aan jou ‘n verskeidenheid van kleure bied wat in jou tuin benodig word vir son-sowel as skaduwee-areas.

Impatiens

Die nuwe, verbeterde Impatiens-variëteite is ‘n moet vir enige lentetuin. Hierdie jaarplante is een van die kleurrykste plante vir skaduryke areas, en sommige kan selfs in volson geplant word, wat hulle baie veelsydig in die tuin maak. Hulle maak ook uitstekende houerplante.

  • Sunpatiens: Hulle verdra alle weerstoestande en het langdurige blomkrag van vroeg lente tot vroeg winter. Kommervrye skakerings van kleur gedurende sonskyn sowel as reënerige dae. Hulle groei in volson of skaduareas en is siekteweerstandig. Hul kompakte vorm maak hulle uitstekend vir houers en die tuin. 66 cm x 81 cm.
  • Beacon: ‘n Groot kleurkeuse in hierdie verbeterde hibriede met ‘n hoë weerstand teen donsskimmel. Hulle helder ’n skadukol op en sorg vir pragtige helder hangmandjies of houers. 36 cm x 46 cm.  
  • Solarscape: Onverbeterlike kleur in volson is hoe hierdie variëteit beskryf word. Dit blom van lente tot laatsomer en is ook uitstekend in die skaduwee. Hierdie bekroonde jaarplant het fluweelagtige blomme en ‘n tropies-agtige plant. 51 cm x 28 cm.

Wat Impatiens benodig

✔Son of skaduwee, afhangende van die variëteit.

✔ Goed dreinerende, ryk grond met ‘n effens suur pH (6.0-6.5).

✔ Gereelde besproeiing. Hulle doen goed naby waterelemente, maar vermy oor- en onderbesproeiing, wat siektes kan veroorsaak.

✔ Voed met ‘n gebalanseerde kunsmis elke vier tot ses weke.

✔ Verwyder verwelkte blomme om dit netjies te hou en saadvorming te voorkom, wat die blomseisoen verleng.

Salies

Die reeks salies beteken daar is een vir elke toestand, en baie verskillende tipes is selfs beter in ‘n tuin. Hulle blom vir lang tydperke, benodig baie min sorg, en die meerjarige tipes kan tot op die grond gesny word om die volgende seisoen weer kragtig te groei. Daar is ‘n paar regtig pragtige variëteite beskikbaar. Kyk na hierdie:

Salgoon: Uitsonderlik presterende tuinplante met sterk, robuuste blare en takke en baie blomstingels van vroeë lente tot herfs. Droogteen hitte-verdraagsaam. 60 cm x 60 cm.

Plum Crazy: Pragtige wynrooi blomme wat bye en skoenlappers lok. Droogte- en hitte-verdraagsaam, met blomme van laatlente tot laatsomer. 122 cm x 122 cm.

Mirage: Hierdie Salvia greggii het verskillende vorms blomme maar het steeds die gehardheid van enige van die ander salies – hitte-verdraagsaamheid, lae onderhoud, en lang blomtyd. Perfek vir volson en trek bestuiwers aan. 41 cm x 36 cm.

Black & Bloom: ‘n Helder donkerblou-enswart salie wat nie omgee vir skaduwee nie. Hierdie taai meerjarige salie floreer in hitte, droogte en humiditeit. 122 cm x 122 cm.

Purple & Bloom: Hierdie meerjarige het massiewe blomkrag van lente tot laatherfs in son of gedeeltelike skaduwee. 122 cm x 122 cm.

Mystic Spires: ‘n Kompakte salie met bewese somerprestasie en suiwer blou blomme in volson. ‘n Regop groeivorm en droogte- en hitte-verdraagsaam. 46 cm x 61 cm.

Mysty: ’n Regop, natuurlik kompakte mediumgrootte salie met donkergroen blare en donker-persblou tot pers blomme. Werk baie goed in die middel van beddings saam met kontrasterende blaarplante. 46 cm x 46 cm.

Salmia: Hierdie salie groei enige plek, lok bestuiwers soos bye en skoenlappers en kom in ‘n paar ongewone kleure wat nie in ander salies gevind word nie. Hulle het ‘n oorvloed van blomme van middellente tot herfs. 30 cm x 40 cm.

New Dimension: Helderblou of pienk, hierdie regop, blomryke salie het alles wat jy nodig het in ‘n mediumgroote plant vir die middel van beddings. Sy eienskappe sluit in die lok van bye en skoenlappers, droogte-, hitte- en rypverdraagsaamheid. 15 cm x 25 cm.

Wat salies benodig

✔ Meestal volson met sommige variëteite wat ‘n bietjie skaduwee kan hanteer.

✔ Goed dreinerende grond met bygevoegde kompos wanneer jy dit plant.

✔ Vul reën in die somer aan indien nodig; moenie oorwater nie.

✔ Voed met ‘n gebalanseerde kunsmis aan die einde van die lente en voed houerplante maandeliks met ‘n vloeibare kunsmis.

✔ Verwyder verwelkte blomme om meer blomme aan te moedig.

Aan jou gebring deur die Beddingplantkwekersvereniging (BPGA) 

-->
The Gardener