Skitterende kleur vir Oktober



Bekend vir hul helder blomme en vermoë om bestuiwers soos bye en skoenlappers te lok, floreer salvias en bidens in sonnige kolle en is perfek vir beddings, houers of hangmandjies. Saam bied hulle ‘n spatsel somerkleur met minimale moeite.
Salies
Daar is ‘n reeks salies algemeen bekend as beddingsalies wat as eenjariges geplant word en altyd helderkleurige blompluime het wat enige tuin sal ophelder. Hierdie kompakte plante groei tot 20-40 cm, wat hulle ideaal maak vir die voorkant van tuinbeddings of vir houers.
Probeer hierdie:
- Salvia ‘Fire Breather’ is ‘n nuwe variëteit van kompakte salies met uitstekende planteienskappe en uitsonderlike eenvormigheid. Die kontras tussen die vurige rooi pluime en die gesonde groen blare maak dit ‘n uitblinker in die tuin.
- Salvia ‘Vista’ is ‘n dwergsalie wat die hele seisoen en tot in herfs blom as die dooie blomme gereeld verwyder word. Hulle het lang buisvormige helder blomme in digte, regop trossies op die eindpunte in rooi, pers, room, salm en laventel.
Hierdie salies bendodig: Volson tot gedeeltelike skaduwee, ryk , goed drienerende grond en matige besproeiing



Bidens
Baie van die Bidens ferulifolia-plante het al toekennings verower te danke aan hul uitstaande prestasie en impak in die tuin. Hulle kom in ‘n verskeidenheid helderkleurige madeliefie-agtige blomme, met meer wat elke jaar by die versameling gevoeg word.
Probeer hierdie:
- Bidens ‘Golden Empire’ het goudgeel blomme op ‘n kompakte, regop plant. Hulle sal die hele seisoen in vensterkassies, hangmandjies, gemengde houers en blombeddings blom. Grootte: 30-40 cm.
- Bidens ‘Bee Meadow White’ het helderwit blomme op ‘n sterk plant, perfek as vullers in blombeddings. Hulle doen ook goed in houers en hangmandjies. Grootte: 35-45 cm.
- Bidens ‘Blazing Star’ is ’n pragtige variëteit wat vroeg blom met donkeroranje sterre binne geel blomme. Helder en vrolik vir blomme deur die somer. Grootte: 30-35 cm.
- Bidens ‘Blazing Ring of Fire’ is deel van die ‘Timeless’-versameling plante wat bekend is vir hul deurlopende blomme op ‘n plant met baie stingels en ryk-oranje blomme met ‘n goudgeel kern. Grootte: 30-35 cm.
- Bidens ‘Pretty in Pink’ het donkerpienk blomme met geel kerns, wat ongewoon is binne die groep bidens-plante. Hierdie is almal hitteverdraagsaam en uitstekend vir bestuiwers. Grootte: 30-35 cm.
Bidens benodig: Volson tot halfskaduwee en ryk, vogtige, goed gedreineerde grond. Gee gereeld water tot hulle goed gevestig is.
Aan jou gebring deur die Beddingplantkwekersvereniging (BPGA)















