fbpx

Verhelder jou tuinbeddings met kleurvolle eenjarige plante

Onmiddellike kleur, maklike versorging en groot impak – eenjarige plante is die vinnigste manier om tuinbeddings te transformeer. As jou tuin effens vaal lyk, is dit nou die ideale tyd om helder, vinnig-groeiende eenjariges te plant wat gapings vul, tekstuur byvoeg en maande lank blom. Hier is van die topgunstelinge om hierdie maand by jou plaaslike kwekery raak te sien.

Waarom eenjarige plante plant?

Eenjarige plante voltooi hul lewensiklus in een seisoen, maar hulle werk hard terwyl hulle daar is. Eenjariges:

  • Blom vinnig en aanhoudend
  • Voeg seisoenale kleur aan tuinbeddings en houers toe
  • Is ideaal om kaal kolle op te kikker
  • Groei goed in potte, rande en gemengde beddings

Dianthus

Met hul bekoorlike, geriffelde blommetjies en speseryagtige naeltjiegeur, is eenjarige dianthus ’n klassieke keuse vir sonnige tuinbeddings en houers. Hulle staan ook bekend as pinks of sweet Williams en bring kleur én geur na die tuin.

Hoe om dianthus suksesvol te kweek

  • Son: Volle son (ten minste 6 uur per dag). In warm gebiede word middagskadu aanbeveel.
  • Grond: Goed dreinerende grond wat met kompos verryk is tydens plant.
  • Water: Gee water aan die basis wanneer die grond droog is. Vermy nat blare en oorwatering om wortelvrot te voorkom.
  • Spasiëring: Plant met genoeg spasie vir goeie lugsirkulasie.
  • Voeding: Dien elke 6–8 weke kunsmis toe.
  • Onderhoud: Verwyder dooie blomme gereeld om nuwe blom te bevorder.

Gewilde variëteite: ‘Diamond’, ‘Coronet’, ‘Oscar’, ‘Super Parfait’ en ‘Beauties’.

Coleus

As dit by blaar-kleur kom, steel coleus die kollig. Met blare in vuurrooi, lemmetjiegroen, diep pers en dramatiese patrone, verhelder coleus tuinbeddings en houers – selfs sonder blomme.

Wenke vir die kweek van coleus

  • Lig: Halfskadu is die beste, alhoewel sommige variëteite volle son kan hanteer (kyk altyd die etiket).
  • Grond: Vrugbare, goed dreinerende grond met baie kompos en organiese materiaal.
  • Water: Hou die grond klam.
  • Voeding: Dien maandeliks vloeibare plantvoeding toe.
  • Snoei: Knyp groeipunte terug tydens plant om bosser groei aan te moedig.

Gewilde variëteite: ‘Campfire’, ‘Down Town’, ‘Fairway’ en ‘SuperFine’.

Celosia

Vir ’n dramatiese en opvallende voorkoms, is celosia ’n uitstekende keuse. Hul vlamagtige of kamvormige blomme verskyn in helder skakerings van rooi, oranje, geel en pienk. Hierdie plante is ideaal vir tuinbeddings, houers en as snyblomme.

Hoe om celosia te versorg

  • Son: Volle son vir die beste blomvertoning.
  • Grond: Ryk, vrugbare, goed dreinerende grond met bygevoegde kompos.
  • Water: Gee gereeld water, maar vermy versuipte grond.
  • Voeding: Dien maandeliks vloeibare plantvoeding toe.
  • Onderhoud: Verwyder ou blomme en knyp jong plante terug vir bosser groei en meer blomme.

Opvallende variëteite: ‘Kimono’, ‘Armor’, ‘Dracula’ en ‘Ice Cream’.

Gypsophila (Bruidsluier)

Delikaat en lugtig, voeg gypsophila voeg sagtheid by tuinbeddings, potte en hangmandjies. Hierdie maklik-om-te-kweek plante is droogtebestand sodra hulle gevestig is en droog pragtig vir langdurige gebruik.

Maklike wenke vir die kweek van gypsophila

  • Son: Volle son.
  • Grond: Goed dreinerende, krummelrige grond met organiese materiaal.
  • Water: Gee water wanneer die grond droog is, veral tydens vestiging.
  • Voeding: Min kunsmis benodig.
  • Deklaag: Dien ’n kompos-deklaag in die lente toe.

Aanbevole variëteite: Klassieke wit soorte en die pienk ‘Gypsy’.

Plant nou vir ’n tuin vol kleur

Deur ’n mengsel van kleurvolle eenjarige plante te plant, kan jy onmiddellike impak en maande se vreugdevolle blom geniet. Of jy nou hou van helder blomme, opvallende blare of sagte vulplante – daar is ’n eenjarige vir elke tuinstyl.

Besoek jou plaaslike kwekery vir hierdie plante en kundige advies.

-->
The Gardener