Anthuriums – Dié klassieke plant is terug
Anthuriums is uitheemse plante met unieke, amper bisarre blomme wat hulle beslis onweerstaanbaar maak. Die naam is aan die Grieks ontleen en beteken “stertblom”, ʼn uitstekende beskrywing van hul blink, tropiese blomme. Hierdie tradisionele basiese tuinplant is met mening terug, en met al die kleure is daar ʼn keuse wat by elke tuin sal pas. Anthuriums is ook gehard en langlewend – ʼn goeie belegging vir jou tuin in 2019.
Variëteite
Die klassiekes: As ʼn mens aan anthuriums dink, is rooi meermale die eerste kleur wat by jou opkom. Hou jy daarvan, is die rooi variëteite ‘Matiz’ en ‘Michigan’ ʼn bietjie anders, met eersgenoemde ʼn oranjerooi skakering en laasgenoemde nader aan pienkrooi. Die blaarvorms verskil ook effens, gevolglik sal jou keuse van jou tuinestetiek afhang. Nog ʼn klassieke keuse is ‘White’, wat vir ʼn elegante tuin geskik is. Die helderwit blomme en bloeikolwe kontrasteer sterk met die donkergroen blare vir ʼn eenvoudige maar eiesoortige voorkoms.
Pienke en perse: Die talle pienk anthurium-variëteite bied talle keuses vir iets sagters. ‘Joli Peach’ het ligte perskekleurige blomme met wit bloeikolwe wat vir dieselfde elegansie as die wit sorg, maar met ʼn tikkie kleur. Die blomme van ‘Cirano’ is ʼn meer tiperende pienkpers wat omraam word met donkerpers wat ook in die stingels herhaal word, en die hart is ʼn gewone pienk. Vir die toonaangewender tuin is die dieppers ‘Aramon’ met heldergeel bloeikolwe beslis nodig, wat geskik is vir aanhangers van die 1990’s se grunge-musiek.
Die uniekes: Anthuriums het nie ʼn tekort aan unieke kleure nie met die blomme van baie variëteite wat uit inmekaargeloopte kleure bestaan. ‘Rainbow Champion’ vermeng lig en donker met ʼn perskepienk hart en swart rande. Die twee kleure meng op die een of ander manier uitstekend en word afgerond met ʼn liggroen bloeikolf in die middel. ‘Mystique’ is ʼn gunsteling onder die massas en herinner baie aan ʼn waatlemoen met sy effense groen basis, pienk-wit binnekant en donkerpienk punt. Die gekleurde are maak die blomme unieker en interessant.
Sorg
Anthuriums is gewilde binnenshuise plante omdat hulle maklik is om te versorg en blomme dra wat lank hou, maar ook buite gekweek kan word. Volg hierdie eenvoudige stappe om seker te maak jou anthuriums lewe lank:
Lig: Hierdie plante hou van helder, indirekte sonlig. Met te min lig sal blomme nie vorm nie en direkte sonlig kan die blare brand.
Water: Anthuriums hou nie van oorbenatting nie. Maak seker die grond dreineer goed en wag dat die grond uitdroog voor natmaak.
Vogtigheid: Aangesien anthuriums tropiese plante is, is hoër vogtigheid beter vir plante om te gedy.
Oorpot: As jy wil hê jou binnenshuise anthurium moet hoog groei, kan jy dit jaarliks in die lente oorpot as dit nodig is.
Hoogte: Anthuriums kan tot 800 mm hoog word, dus kan hulle binnenshuis nogal sterk tref.
Skoonmaak: By anthuriums wat binne gehou word, is die blink blare en blomme geneig om stof aan te trek en moet elke paar weke skoongemaak word. Verwyder dooie blare en blomme om hulle netjies te hou.
Algemene foute
Te min lig: Verskuif jou anthurium na ʼn helderder plek as jy opmerk die blare is dun en reik na die lig, of blom nie.
Verkeerd natmaak: Geel of bruin blare is die gevolg van oor of onderbenatting. Verkeerd natmaak is een van die grootste oorsake van ongesonde plante. Maak seker jy pas jou natmaak aan by die reaksie van jou anthurium.
Siektes en plae: Omgewings met ʼn hoë vogtigheid kan tot swamsiektes lei, wat egter voorkom kan word deur die pot nie in water te laat staan nie en goeie lugbeweging te verskaf. Plae is algemener by anthuriums wat buite is, sien dus betyds besmettings raak en behandel hulle daarvolgens.
Hou dit van kinders en diere af weg: Anthurium-sap wat ingeneem word, is giftig vir mens en dier. Maak seker plante wat binnenshuis vertoon word, is buite bereik van enige iemand of iets wat dit as ʼn lekker happie sal beskou.
Vertonings
Anthuriums is veelsydig en sal amper oral pragtig lyk. Aangesien hulle van hoë vogtigheid hou, is badkamers een keuse om hulle binnenshuis te hou, mits daar genoeg lig is. ʼn Kombuisvensterbak kan met baie kleure ʼn treffende vertoning maak, maar hou die plante uit die wind. Wanneer anthuriums buite geplant word, werk patiohouers goed omdat hulle dikwels in potte gedy. Gebruik verskeie variëteite saam om jou eie klein tropiese woud te skep as jy avontuurliker is en ʼn plek met helder, indirekte lig in jou tuin het. Deur baie anthuriums buite te plant, maak ook dat jy hulle as snyblomme kan gebruik as jy binnenshuise ruimtes wil ophelder.
Al die variëteite wat hier getoon word, is nuwe variëteite wat nou by jou plaaslike tuinsentrum te kry is