Die Hoya Is Terug
Vir baie van ons is wasplante daardie plante wat ons oumas op die stoep gekweek het of in ʼn pot wat in ʼn macramé-pothanger aan die eetkamerplafon gehang het.
Die genus Hoya bevat tussen 200 en 300 verskillende spesies. Daarby is daar ook ʼn menigte hibriede en kultivars van sekere spesies wat daarvan ʼn ongelooflik uiteenlopende groep plante maak. Hoya-plante staan as wasplante en wasblomme bekend.
Hierdie plante het ʼn verspreidingsgebied wat van Indië in die weste tot China in die ooste, suidwaarts deur Thailand, Viëtnam en Maleisië, deur al die Suidoos-Asiese eilande en selfs tot in die noordelike gebiede van Australië strek. Vanweë hierdie groot verspreidingsgebied, wat talle verskillende habitats insluit, het hierdie plante uiteenlopende groeivereistes, wat ons in gedagte moet hou as ons hulle hier in Suid-Afrika wil aanhou.
Die meeste hoyas kan oor die algemeen as tropies beskryf word, terwyl sekere spesies subtropies is. Die subtropiese spesies is die maklikste om in ons klimaat te kweek omdat die tropiese spesies heeljaar hoë temperature saam met hoë vogtigheid wil hê om die beste te presteer.
Die groeiwyses van die uiteenlopende spesies verskil baie, maar die meeste kan geklassifiseer word as strengelrankers wat in sommige gevalle wortels aan die slingerende stingels maak om vas te kleef aan die bas van bome of aan rotse waarteen die plante opklim. Sommige hoya-spesies vorm eerder ʼn yler bos. Talle spesies groei in die grond of in blaarafval en klim dan teen ʼn boom op of groei as epifiet op ʼn boom.
ʼn Paar hoya-spesies is amper blaarloos, ander het piepklein blaartjies, terwyl die blare van ʼn spesie soos Hoya macrophylla reusagtig groot, tot 30 cm lank, kan word. Die blaaroppervlakke kan wasagtig, fluwelig, korrelrig, glansend, vratagtig, glad en nog meer wees. Die meeste blare is groen (hulle is in baie verskillende skakerings te kry) en sommige het roomkleurige of wit spikkels, kolle of vlekke. Daar is blare met ligter of donker gekleurde are, terwyl sommige maroen, pienk of rooierige are, spikkels, spatsels of omranding het.
Baie bont vorms van die spesies is ook gesog.
Blomme kan afsonderlik aan ʼn bloeiwyse gedra word of in enorme trosse wat ʼn ronde bal vorm, en omtrent enigiets tussenin. Die kleurreeks van die blomme is verstommend. Baie blomme het ʼn blink, wasagtige (soos hul volksname aandui) voorkoms, maar sommige spesies het blomme wat lyk of hulle van kleur verander vanweë hul fluwelige tekstuur. Die meeste hoya-spesies is geurig en dra oorvloedig baie nektar wat by sekere spesies van die blomme afdrup, waar die Engelse naam “Mary’s tears” vandaan kom.
Mense kweek hoyas om verskillende redes. Sommige kweek hoyas as binnenshuise plante om hul tuimelende groeiwyse en welige blare. Sommige versamelaars kweek hoyas vir die uiteenlopende blaarvorms en -patrone, terwyl ander sekere kenmerke in die blomme soek. Wat jou rede ook al is om hoyas te kweek, is hulle waarlik lonende plante wat in baie gevalle selfs met baie min sorg en aandag floreer.
Vir beginners is Hoya carnosa en Hoya pubicalyx die maklikste hoyaspesies om te kweek. Hoya carnosa is in die meeste gevalle die plant wat jou ouma op haar stoep gehad het. Daar is baie verskillende kleurvorms van hierdie spesie, asook variëteite met verskillende vorms en kleure (bont) blare.
Hoe om hoyas te kweek
Dis altyd ʼn goeie plan om ʼn bietjie na te lees oor enige nuwe plant wat jy kry. Kyk in die geval van hoyas na waar jou spesifieke hoya vandaan kom. As dit van ʼn warm, bedompige oerwoud is, sal dit warm, vogtige groeitoestande wil hê, terwyl Hoya carnosa bestand is teen lae temperature van net bo vriespunt. Dis die beste om jou hoya-plante in die herfs en winter teen koue wind te beskerm, maar in die warmer subtropiese gebiede van die land kan baie verskillende hoyas buite gekweek word. In ander gebiede sal ʼn beskutte patio of in die huis die beste wees. Hoya-plante hou van helder lig maar nie direkte sonlig nie. Hoewel hulle in toestande met baie min lig kan groei, sal hulle waarskynlik nie in daardie toestande blom nie.
Baie van die hoyaspesies groei in gebiede waar bome gedurende die droër maande van hul blare kan verloor, wat toelaat dat ekstra lig by hierdie plante uitkom.
Gebruik ʼn mengsel van klapperdop met ʼn bietjie bygevoegde perliet as potmedium. Growwe palmveen werk ook uitstekend as potmedium. Die idee is om die wortels klam te hou maar nie voortdurend nat nie. Die plante baat by die gereelde toediening van wateroplosbare misstof.
Ongelukkig is hoya-plante baie vatbaar vir wolluisbesmetting en daarom moet die blare gereeld nagegaan word vir hierdie goggas. Die verbetering van lugvloei om jou plant sal ook help om wolluisprobleme te voorkom.
Hartvormige hoyas
Een van die plante wat van net ʼn blaar kan wortelskiet, is die nederige Hoya kerrii. Hoya kerrii dra pragtige hartvormige blare wat daartoe gelei het dat afsonderlike blare van die plant in ʼn klein potjie geplant word om as ʼn oulike Valentynsdaggeskenk te verkoop. Die blare maak wortels, en hierdie wortels kan die blaar baie jare aan die lewe hou. As die steggie nie ʼn stukkie stingel en ʼn ogie insluit nie, sal dit nooit verder groei nie. Soms word ʼn ogie by die steggie ingesluit en is die persoon gelukkig genoeg dat die klein blaartjie uiteindelik ʼn stingel en nuwe plantjie maak.
Variëteite
Hoya bella is een van die spesies wat nie klouter nie, maar eerder ʼn yl bos vorm wat dikwels neerhang. Die spierwit blomme het ʼn magentapienk bykroon in die middel.
Hoya linearis het ʼn hangende groeiwyse met die stingels met sy harige geronde blare wat soos ʼn gordyn hang. Die roomkleurige wit blomme wys na onder.
Hoya carnosa ‘Compacta’ is ook bekend as ‘Hindu Rope’. Die blare is gedraai, gekrul en nogal dig opmekaar op die stingel, wat soos ʼn geknoopte tou lyk, gerangskik.
Die kombinasie van die rooierige blaarkleur (as in meer lig gekweek word) en die pienkerige blomtint maak van Hoya obscura ʼn treffende spesie.
Die sitrusgeurige blomme van Hoya cumingiana is geel van kleur met ʼn rooi bykroon in die middel.
Sommige van die spesies met interessante blare sluit in Hoya fusco-marginata, Hoya imbricata, Hoya caudata, Hoya globulosa en Hoya polyneura om maar net ʼn paar te noem.
Die spesies met die grootste blomme is Hoya imperialis, Hoya macgillivrayii, Hoya mappigera en Hoya lauterbachii. Hulle is ongelukkig almal baie tropies en daarom kouegevoelig.
Bestel jou hoyas by Plantae Orchids by www.plantae.co.za.