fbpx

Die veelsydigheid van Anthuriums 

Met hul blink hartvormige blare en kleurryke blomskede is anthuriums ‘n helder en eksotiese toevoeging tot enige huisplantfamilie. 

Anthuriums, wat floreer in ‘n tropiese omgewing en bekend staan as flaminkplant, hou van ‘n warm, vogtige omgewing om te groei. Die nuwe kleure op die mark is so ryk en ongewoon dat jy dalk ‘n paar sal wil koop. Daar is verskeie maniere om hulle te gebruik, wat hulle veelsydig in die huis maak. 

Vertoon dit in pothouers 

Die verskeidenheid pothouers wat deesdae beskikbaar is, beteken dat jy dit maklik by jou dekor kan aanpas of dit kan aanvul deur net pothouers te gebruik. As jy nie presies kry wat jy nodig het nie, kan jy ‘n gewone pothouer met verf of découpage opkikker. Kies ’n servet met ’n pragtige patroon op, verwyder die rugkant sodat dit ‘n dun velletjie is en découpage dit op ‘n gewone pot vir iets besonders. 

Groei in water 

Omdat hulle die vermoë het om epifities te wees, het anthuriums vlesige wortels wat maklik in water groei. Om die beste van die tipe vertoning te maak, gebruik ‘n glasbak of vaas om die warboel van wortels in die water te monitor. Was die wortels af voordat jy hulle in vars water sit. Onthou dat water beperkte voedingstowwe het, so voer dit met ‘n vloeibare kunsmis en verander dit minstens een keer per maand om te keer dat dit slymerig word. 

Maak ‘n kokedama  

Kokedamas is ‘n wonderlike manier om anthuriums te vertoon. Dit is ‘n eenvoudige DDS-projek wat jou plante nog beter sal laat vertoon. Plaas ‘n laag mos op ‘n oppervlak, verwyder die plant uit die pot, lê dit op die mos neer, en draai die mos om die wortels om ‘n bal te vorm. Die gebruik van klam mos sal help dat alles aanmekaarklou. Gebruik tou of nylondraad om die mos in plek te hou en ‘n bal te vorm. Vertoon die kokedama op ‘n bord of hang dit op in ‘n helder posisie, maar nie direk in sonlig nie. Spuit die bal gereeld nat, en wanneer dit lig voel, neem dit na ‘n wasbak met water en doop dit vir 10-20 minute in die water om te week voordat jy dit terugplaas. 

Versorging van anthuriums 

In die wildernis van Colombië en Ecuador, waar hierdie plante vandaan kom, is hulle epifities en groei op bome eerder as in die grond. As huisplante doen hulle egter baie goed in suuragtige potgrond, solank dit goed dreineer. 

Vir die beste versorging, gee dit water wanneer die boonste 2 cm grond droog is en gebruik gefiltreerde of reënwater. Gee in herfs en winter minder water. Voeg een keer per maand vloeibare plantvoedsel by die water. Spuit gereeld nat en groepeer plante saam om vogtigheid te help behou. 

Posisioneer sodat dit baie indirekte sonlig kry. Direkte sonlig sal die blare skroei. Verwyder uitgeblomde blomme en hou dop vir witluise, spinmyte en dopluise wat jou plante kan aanval. Plant elke twee tot drie jaar in ‘n effens groter houer oor. 

Hierdie plante is gekweek deur LVG Plants en is beskikbaar by jou plaaslike huisplanthandelaar.

-->
The Gardener