fbpx
LVG_Ficus -24

Ginseng Ficus

Huisplante wat feitlik vir hulself sorg met aansienlike ontwerpwaarde.

In sy gepotte vorm word die gewilde huisplant Ficus microcarpa dikwels Ficus ‘Ginseng’ genoem wat as ʼn maklike groeier en om sy unieke vorm bekend is. Ginseng is die Chinese woord vir wortels en die naam is aan sy unieke wortels ontleen. Interessant genoeg kan dié boom in die natuur in China en Maleisië tot 20 m hoog word, maar dit bly kompak deur sy wortels in ʼn houer in te perk. Die grootte hang dan van die houergrootte af. Uit sy wortelvorms kan maklik gesien word hoe dit in vogtige tropiese manglietwoude en -moerasse sal gedy. Ficus ‘Ginseng’ is ʼn wonderlike geskenk vir beginnerbonsaientoesiaste vanweë sy min onderhoud en vergewensgesindheid wanneer die kuns beoefen word.


Kweek en versorging

Gebruik hierdie gids om jou plante welig en gesond te hou:

• Sit dit op ʼn helder verligte plek uit direkte sonlig.

• Hou die plante goed benat, maar nie deurdrenk nie en maak seker die plante het goed gedreineer voor hulle op hul plek teruggesit word.

• Hulle hou van hoë vogtigheid wat verhoog kan word deur hulle daagliks met water te besproei.

• Voed tweeweekliks in die lente tot herfs met ʼn oplosbare plantvoedsel

• Pot jou plant elke paar jaar in nuwe potgrond in die oorspronklike houer oor as jy wil hê dit moet klein bly. Snoei die wortelbal met ʼn derde kleiner met ʼn skoon snoeiskêr om alle beskadigde wortels te verwyder voor dit oorgepot word.


Snoei

As jy hierdie plant as bonsai wil gebruik, moet dit gereeld gesnoei word. Ons gereelde bonsai-artikels sal jou help om meer te leer oor hierdie omvattende onderwerp. Dis die beste om in die lente algemeen te snoei. Moedig bosserige groei en ‘n eenvormige voorkoms aan deur nuwe lote uit te knyp. Snoei alle eiesinnige of langbenige stingels af. Let daarop dat dié plant melksap maak, daarom is dit verstandig om tydens snoei handskoene te dra.

Daar word gesê dat Ficus ‘Ginseng’ positiewe energie uitstraal en dit simboliseer geluk en voorspoed in China.

Hierdie plante word deur LVG Plants gekweek en is by kleinhandelafsetpunte en kwekerye te kry.

-->
The Gardener