fbpx

Hartvormige Huisplante

Read in English

Op soek na ʼn interessante geskenk vir daardie spesiale iemand? Dalk wil jy jou binneruimte ʼn bietjie romantieser en speelser maak.

Wel, moenie verder soek as die wêreld van hartvormige huisplante nie. Dit wissel van ʼn sterk ooreenkoms tot ʼn onmiskenbare verband, en met ʼn wye verskeidenheid vorms, groottes, kleure en sorgprobleme sal jy stellig die perfekte plant vir jou op hierdie lys kry.

1. Epipremnum aureum

Hierdie klimplant wat algemeen as die goue-ceylonranker bekend staan, is een van die gewildste huisplante ter wêreld. Die goue-ceylonranker is geliefd vanweë sy minsorgaard en vermoë om baie verwaarlosing te duld, en is die ideale hartvormige plant vir beginners. Sommige kultivars het opvallender hartvorms en is te kry met interessante bont patrone wat verseker dat daar altyd iets interessants is om na te kyk. Wees op die uitkyk na die ‘Glacier’– kultivar met sy dramatiese hartvorm en wit of roomkleurige strepe of bontheid.

2. Cyclamen persicum

Hierdie blompragstuk wat algemeen as die siklaam bekend staan, bied altyd iets interessants om na te kyk. As dit nie die kleurryke blomme in pienk, rooi en wit is wat bo die blare verskyn as dit die regte hoeveelheid lig gegee word nie, is dit die hartvormige loof met sweempies silwer in interessante patrone. Die hartvorm is subtieler met geronde rande, wat aan die hele plant ʼn sagter voorkoms gee.

3. Ceropegia woodii

Nog ʼn huisplant, die halssnoerranker, waarvan sy vorm in sy Engelse volksnaam as “string of hearts” beskryf word, is ongelooflik gewild – en dis maklik om te sien hoekom. Hierdie ranker spog met oulike hartvormige blare met interessante bearing aan pienkperserige stingels wat die plant se romantiese voorkoms perfek komplementeer. Die gemarmerde blare is baie dik en hou volop water, wat van hulle die ideale plante vir vergeetagtige plantouers maak. Sit dit op ʼn helder plek om die dieper groen kleur na vore te bring en om moontlik blomme te sien as dit lente word.

4. Scindapsus

Die plantgenus Scindapsus is nou verwant aan ander rankplante soos die goueceylonranker of hartblaarfilodendron en is die perfekte hangplant vir binnetuine. Die gewildste spesie, Scindapsus pictus, het hartvormige blare met ʼn silweragtige glans wat tot die Engelse volksnaam “satin pothos” gelei het (al is dit nie werklik lid van daardie genus nie). Hoewel daar spesies met effe groen blare is, is die meeste te kry met ʼn mate van silwer bontheid om jou binnetuin werklik te laat skitter.

5. Hemionitis arifolia

Varingliefhebbers op soek na hartvormige blare vir hul huis het ook ʼn keuse – die hartblaarvaring. Hierdie varing het een van die kenmerkendste hartvormige blare op die lys, wat aan dun stingels uit die grond uitspruit. Hemionitis arifolia is ʼn oulike plant wat kompak bly, en is die ideale geskenk vir iemand spesiaal in jou lewe. Sit dit in die badkamer of naby ʼn waterbron in jou kombuis om voordeel te trek uit die hoër vogtigheid wat hierdie romantiese plante in staat stel om te gedy.

6. Anthurium andraeanum

Enige huisplantveteraan ken reeds die bekende “blomme” van Anthurium andraeanum, wat algemeen die flaminklelie genoem word. Die kleurryke “blomme” is in werklikheid gewysigde blare wat die ware blom, die bloeikolf in die middel, omring. Sowel hierdie gewysigde blare as die effe groen blare van die plant het ʼn subtiele hartvorm. Dit, saam met die talle kleure waarin hierdie plante te kry is (van tradisionele klassieke rooi tot blourooi en selfs waatlemoen), maak hulle onweerstaanbaar vir enige huistuinier.

7. Hoya kerrii

Hierdie spesie is ongetwyfeld een van die interessantste hoyas op die mark. Die lang rankplant spog met groot halfsukkulente blare in ʼn amper perfekte hartvorm. Dié blare kan ook ʼn hele rukkie alleen oorleef as dit op hul eie geplant word, en word dus dikwels afsonderlik in klein potjies as Valentynsdaggeskenke verkoop. Hulle is ook te kry met interessante bont patrone wat die loof alles behalwe saai maak. Hierdie hoyas is egter moeilik te kry; as jy dus een sien, gryp hom!

8. Philodendron scandens

Van al die plante met hartvormige blare versterk dié een sy status met sy volksnaam – hartblaarfilodendron. Dit word gewoonlik as Philodendron scandens in kwekerye geëtiketteer, maar jy kan dit dalk vind onder sy sinoniem Philodendron hederaceum. Hierdie Philodendron met diep hartvormige blare in ʼn reeks interessante kleure is van die maklikste om te kweek en te versorg. Die meeste is diepgroen, maar sommige kultivars soos ‘Brazil’ spog met kolle helder kleur wat stellig die koppe sal laat draai.

Advertisements
-->
The Gardener