fbpx

Hoe Om Jou Plante Te Bemes

Read in English

Om te floreer, benodig plante voedingstowwe. Hulle kry dalk nie al die voedingstowwe wat hulle nodig het uit die grond nie. Dit is ‘n goeie idee om jou binne- en buiteplante te voed om hulle op hul beste te laat presteer. Hier is ‘n paar maniere waarop jy jou plante kan bemes.

Blaarvoeding

Blaarvoeding beteken om ʼn wateroplosbare misstof met ʼn spuitbottel of rugsakspuit direk op die plantblare toe te dien. Die beste tyd om bemesting volgens dié metode toe te dien is vroeg- tot midoggend of laatnamiddag op ʼn windlose dag omdat die opname deur die plant se huidmondjies (openinkies in die epidermis van blare en stingels) plaasvind. Blaarvoedsel of wateroplosbare misstowwe is ryk aan spoorelemente wat help om sterk selstrukture in plante te ontwikkel, wat op sy beurt plante help om teen plae bestand te wees. Die meeste wateroplosbare misstowwe het ʼn seewiermengsel as basis.

Hoe om dit toe te dien: Meng die misstof in water volgens die aanwysings op die verpakking. Spuit egalig op die plant asook onder die blare en op die stingels.

Plante wat sal baat vind: Jong saailinge, groente

Deurweking of natmaak onderom

Hierdie keuse is uitstekend vir delikate plante in potte. Jou huisplante sal die meeste hierby baat vind omdat jy talle plante in ʼn verdunde wateroplosbare misstof in ʼn houer of jou bad kan indompel. Hierdie misstowwe bevat gewoonlik baie spoorelemente, waaronder boor (B), molibdeen (Mo), mangaan (Mn), koper (Cu), sink (Zn) en yster (Fe), wat alles goed vir jou plant se groei en algehele gesondheid is.

Week werk deur middel van die grond se vermoë om water deur kapillariteit op te neem. Deurweking verminder ook plantplae en swamsiektes.

Hoe om dit toe te dien: Meng die misstof in die water in jou bad volgens die aanwysings op die verpakking. Minstens eenderde van die pot moet in die water staan. Laat week die plante minstens 30 minute. Dit laat genoeg tyd toe vir die water om in die grond in te beweeg en die hele wortelstelsel te bereik. Haal die potte uit die bad en laat die oormaat water uitloop voor die pot weer in sy potplanthouer gesit word.

Plante wat die beste vir hierdie soort bemesting geskik is: peperomias, calatheas, orgideë en enige soort kokedama. Tillandsias kan 15 minute lank heeltemal in die water gedompel word.

Korrelvoeding

Verkorrelde misstowwe verleen voedingstowwe aan die grond en daarom mettertyd aan die plantwortels, en staan bekend as stadig vrystellende misstowwe. Organiese misstowwe hoef nie onmiddellik goed natgemaak te word nie, hoewel chemiese misstowwe wel moet omdat hulle die plantblare en vlak wortels kan brand. Die meeste korrelmisstowwe het ʼn NPK-waarde (wat ook as makrovoedingstowwe bekend staan) wat aandui watter plante meer baat daarby sal vind.

N (stikstof): moedig blaargroei aan.

P (fosfor): is goed vir wortelontwikkeling.

K (kalium): is tot voordeel van algehele plantgesondheid deur voedingstowwe in die plant te help rondbeweeg.

Hoe om dit toe te dien: Hierdie misstowwe word droog gebruik en om die plante op die grond gestrooi tot by die plantdrupsone (dit is die gebied wat direk onder die buiteomtrenk van die plant se takke geleë is). Maak vir vinniger opname die gebied om die plant nat waar die misstof toegedien gaan word. Hierdie misstowwe kan ook in die boonste grondlaag ingewerk word.

Alle plante kan uit hierdie metode voordeel trek, selfs potplante. Meng voor oorpot korrels met potgrond en plant jou potplante in potte, of sit dit bo-op die grond en maak soos gewoonlik nat as plante reeds gepot is.

-->
The Gardener