
Kweek Meer Streptocarpus



Inheemse Streptocarpus is vreeslike mooi huisplante wat ook maklik is om te kweek in gebiede met spikkelskadu in die tuin. Net ʼn blaar of twee van ʼn gesonde plant is nodig om meer van hierdie lonende plante voort te plant, en tekens van nuwe groei by die steggies kan so gou as na ses weke verskyn, met perfek gevormde nuwe plantjies wat langs die gesnyde rand van die blaar ontwikkel.
Dis maklik om blaarsteggies te maak en die sukseskoers is hoog met plante wat so voortgeplant kan word.
Voor jy begin, maak seker jou gereedskap en die potte wat jy gaan gebruik, is skoon en gesteriliseer.
6 Maklike Stappe






1. Sny ʼn vars jong blaar in die middel onder van die moederplant af. Moenie meer as een of twee blare verwyder nie omdat dit die plant kan verswak.
2. Sit die blaar op ʼn skoon bord. Sny met ʼn skerp gladdelemmes 5 cm uitmekaar af.
3. Maak 10 cm-potte vol met kommersiële saailingmengsel (wat by kwekerye verkrygbaar is) waarby grint bygevoeg is.
4. Steek die onderste rand sowat 1 cm diep in die grond in. Jy kan twee stukke per pot insteek. Druk die grond liggies vas om hulle op hul plek te hou.
5. Spuit dit met lou water.
6. Sit ʼn helder plastieksak oor elke pot en maak met ʼn rekkie vas. Blaas die sak op en druk ʼn paar gate met ʼn speld in.
Nasorg vir Streptocarpus steggies
Sit die Streptocarpus steggies op ʼn warm, goed verligte plek soos ʼn vensterbank maar uit direkte sonlig. Sodra die steggies goed bewortel is, plant elkeen in sy eie 10 cm-pot om verder te groei.
Berei tuingrond voor
As jy jou nuwe streptocarpus op ʼn plek met ligte skadu in die tuin gaan plant, knap die grond op om lig en goed gedreineer te wees deur organiese materiaal soos grondboontjiedoppe, gemaaldebaskompos, suur kompos of verrotte dennenaalde in te werk – hulle hou van effense suur grond.
Berei huisplantgrond voor
Gebruik gewone potgrond wat met palmveen gemeng is om in potte te kweek. Voed maandeliks met ʼn kaliumryke misstof vir suurliewende plante. Bemes tuinplante ook so.
Streptocarpus Natmaak
Maak gereeld nat in die somermaande, maar nie oormatig nie en moenie dat potplante in water staan nie. Gee minder water in die winter, maar moenie dat die plante lang tye uitdroog nie.