fbpx

Kweek ’n oerwoud

Tropiese plante is steeds baie gewild, voer ons weg na eksotiese bestemmings en maak plantliefhebbers van ons almal.

Die keuse van plante vir tropiese omgewings is enorm en sluit baie binnenshuise plantvariëteite in. Ons het net drie gekies vir hul uitsonderlike blare, wat ‘n welige tropiese gevoel in ‘n klein ruimte of in ‘n hele vertrek kan skep.

Calatheas

Gekweek vir hul blare, is calatheas die perfekte keuse vir ‘n tropiese oerwoud-tema. Die blare is groot, indrukwekkend en kleurryk en kan plekke met min lig in die huis verdra. Gegewe die regte toestande, is hierdie plante regtig maklik om te kweek. Om die tropiese toestande waarin hulle natuurlik groei na te boots, is die maklikste manier om hulle te gee wat hulle nodig het. 

Vir daardie tropiese gevoel, kies groen en skakerings van groen, sowel as blou, oranje, koraalrooi en geel, vir kleurspatsels. Voeg rottang-elemente, ligte materiale, gemaklike meubels met ontspanne ontwerpe, en eenvoudige pothouers by om die geil voorkoms af te rond. 

Stromanthe

Stromanthe sanguinea ‘Triostar’, is ook deel van die Maranteceae familie, soos calatheas, en hul blare beweeg ook baie saam met die lig en kan snags toevou. Hierdie prettige, helderkleurige plante hou van ‘n bietjie ekstra voeding elke paar weke in die lente en somer.  

Dracaena ‘Lemon Lime’

Hierdie plant, met sy suurlemoen en lemmetjiegroen kleure op dik stamme, is ‘n baie mooi huisplant wat goed met ander plante met groot blare, soos die calatheas, kontrasteer. Dit verkies om ‘n bietjie droog te wees tussen natmaaktye, maar andersins kan hulle maar bietjie verwaarloos word. Hulle sal jou wel laat weet wanneer hulle sorg nodig het as die punte van die blare begin verbruin. 

Wat hulle nodig het

Al hierdie plante het soortgelyke vereistes wat versorging betref:  

  • Watertoediening is die belangrikste stap. Hulle hou van klam grond, maar hou nie daarvan om te lank in water te staan nie, wat tot wortelvrot kan lei.  
  • Hulle verkies hoë humiditeit, so ‘n badkamer is ideaal en die lig is geskik. 
  • Die grond moet goed dreineer en ryk wees aan organiese materiaal.   
  • Te veel sonlig sal die kleur uit die blare bleik, maar hulle sal in helder tot min lig aard. 

Nuut

Wees op die uitkyk na die nuwe Homalomena wallisii ‘Camouflage’, beskikbaar in die binnenshuise plantafdeling van ‘n winkel naby jou. Die unieke blaarpatroon lyk soos weermagkamoeflering, vandaar die variëteitnaam. Hierdie pragtige plant hou van matige tot baie helder, indirekte lig. Te veel sonlig sal die blare verbrand. ‘n Gereelde natmaakroetine is noodsaaklik, en dit moet in ryk, goed dreinerende grond geplant word. 

Hierdie plante is gekweek deur LVG Plants en is beskikbaar by jou plaaslike huisplanthandelaar.

-->
The Gardener