fbpx

Motte aan ’n stingel

Phalaenopsis-orgideë is een van die mooiste blommende huisplante en dis baie maklik om hulle te kweek.

Die naam Phalaenopsis is van Grieks afgelei en beteken “lyk na ʼn mot” omdat hul blomme soos vlieënde motte lyk. Jy kan raai wat die volksnaam is – ja, motorgideë. Een of twee stingels groei onder uit, word lank en reguit voor hulle knoppe maak en uiteindelik blomme, wat oopgaan en van twee tot ses maande hou. Dis een van die orgideë wat die langste blom en is ʼn lonende belegging vir blommerangskikkings.


Hoe om hulle te versorg

Motorgideë is algemeen by van kwekerye tot supermarkte te kry. Hier is hoe om vir hulle te sorg:

  • Lig – Maak seker hulle kry genoeg helder lig, maar nie direkte sonlig nie. Hoe meer indirekte lig hulle kry, hoe beter groei en blom hulle.
  • Water – Orgideë moet gewoonlik weekliks water kry. Gee hulle minder gereeld water wanneer dit bewolk is. Jy sal weet of ʼn orgideë moet water kry deur die pot op te tel – as dit lig is, moet dit water kry. Laat dit goed dreineer ná natmaak.
  • Voeding – Gebruik ʼn vloeibare visemulsiemisstof of gespesialiseerde orgideekos vir die beste resultate. Voed weekliks in die groeityd (lente en somer) en verminder dit tot elke twee tot vier weke in die kouer, donkerder maande.
  • Lugomloop en vogtigheid – Maak seker jou orgideë kry genoeg lugomloop om swamsiektes te voorkom. Verhoog die vogtigheid in droë gebiede om by hul tropiese herkoms te pas. Missproei gereeld, maar nie op die blomme nie omdat dit merke kan maak.
  • Temperatuur – Hulle verkies ʼn temperatuur bo 18 °C. Hulle is opgewasse teen ʼn temperatuur van om en by 12 °C, maar blom dalk minder.
  • Plae – Motorgideë is oor die algemeen plaagvry, maar hou dop vir die gewone boosdoeners soos spinmyte, dopluise, witluise, plantluise en blaaspootjies. Behandel hulle as dit nodig is.

Praat met jou plante

Baie mense glo dat deur met jou plante te praat, laat hulle beter groei en blom, en dit kan dalk selfs waar wees. Wat ons ongetwyfeld wel kan sê, is dat deur met jou plante te praat, begin jy hulle as indiwidue beskou. Jy raak ook oplettender wanneer hulle ʼn bietjie ekstra sorg nodig het en sal hulle dadelik probeer gee wat hulle nodig het.

Hierdie plante word deur LVG Plants gekweek en is by kleinhandelafsetpunte en kwekerye te kry.

Advertisements
-->
The Gardener