fbpx

’n Blitsgids om jou varings welig te hou

Die Britse platteland het ʼn klompie botaniste gelok wat varings begin bestudeer en in so ʼn mate ʼn obsessie begin het dat dit sy eie naam moes kry. Varingversameling het die nuutste stokperdjie geword, varingverenigings het oral in die land ontstaan en varingmotiewe het amper oral verskyn.

Die Victoriaanse weergawe het teen 1890 uitgesterf, maar dit lyk of pteridomanie terug is met die onlangse oplewing in huisplantgewildheid. Varings is om elke hoekie te sien, maar om die een of ander rede het hulle steeds die reputasie dat dit moeilik is om hulle aan die lewe te hou. Hulle is beslis nie onvernietigbaar nie, maar deur by die volgende paar riglyne te hou, kan jy seker maak joune sal baie jare gedy.

Antieke Geskiedenis

Varings is saam met mosse op die kortlys van antieke plante genaamd Pteridophyta wat miljoene jare (meer as 350 miljoen jaar) terugstrek en selfs teruggaan tot voor die dinosouriërs. Hul oorvloedigheid het van hulle die kern van baie plantvreters se dieet gemaak, en dit blyk dat jy hulle ook kan eet. “Varingvioolkrulle”, die opgekrulde punte wat net soos die bokant van ʼn viool lyk, is die eetbare deel van sommige varingspesies wat geoes word as hulle spruite is en in sommige wêreldstreke as ʼn fynproewerslekkerny beskou word.

Nie alle varings is egter eetbaar nie en party kan nogal giftig wees, moet dus nie sommer enige varingblaar in jou tuin gaan soek nie. Party mense sê vioolkrulle smaak soos ʼn mengsel van aspersies en spinasie maar met hul eie kenmerkende geurprofiel wat jy eenvoudig self moet uittoets.

Plek

Omdat dit bekend is dat varings tipies van donker oerwoudvloere afkomstig is, sou ʼn mens dink dat jou huisvaring in die donkerste hoekie van die kamer sal gedy. Dit is egter nie die geval nie. In die natuur kry varings spikkelskadu, en sal daarom sonder redelik baie lig in jou huis sukkel. Sit jou varing naby ʼn venster wat óf oggend- óf namiddagson kry, en vermy direkte sonlig om gebrande blare te voorkom. Vermy dit om hulle naby trekke of ʼn lugversorger te sit omdat dit geneig is om hulle vinnig uit te droog en die vogtige omgewing te verhinder wat varings uiters nodig het.

Vogtigheid

Varings hou van vog en moet ʼn vogtige omgewing hê om te gedy. Badkamers en kombuise is perfek, maar daar is ʼn paar maniere om die vogtigheid self te verhoog.

In plaas van om in ʼn bevogtiger te belê (tensy jy reeds een het), sit jou varing op ʼn bak vol klippies en maak dit vol water om ʼn vogtige omgewing om die plant te skep. Maak seker die water raak nie aan die potonderkant nie omdat varings nie daarvan hou om in water te staan nie. Sit anders jou varing op ʼn plek waar jy dikwels verbyloop en laat ʼn versierde missproeibottel naby om een of twee maal per dag gou nat te spuit.

Natmaak

Maak varings dikwels nat omdat hulle van vog hou, maar maak seker jy oorbenat nie of laat nie die pot in water staan nie anders sal die wortels vrot. Maak in die somer elke drie tot vyf dae deeglik nat en in die winter elke sewe tot tien dae. Om te voorkom dat jy vergeet om jou varings nat te maak, sit hulle naby die opwasbak en laat water vinnig deur die pot loop nadat die skottelgoed gewas is. Wanneer ʼn gieter gebruik word, maak seker die water kom deur die bosagtige blare by die grond uit om dit te deurweek.

Sorg

  • Voed jou varings tweeweekliks met ʼn vloeibare misstof deur dit volgens die aanwysings op die houer by jou gieter te voeg en maak soos gewoonlik nat.
  • Ontstof die blare deur hulle onder die stort af te was of vee hulle af om hulle skoon te hou en ruim enige afval of dooie blare op die grond op.
  • Verwyder gereeld dooie blare om nuwe groei te bevorder, en as die varing regtig sukkel, sny al die blare tot op dieselfde hoogte terug om die nuwe groei eenvormig te hou.

Doen vanjaar mee aan die varingkoors deur ʼn paar te versamel, varingsorg te bemeester en dalk ʼn paar van jou eie te probeer kweek – die Victoriane sou dit beslis goedgekeur het.

Het jy geweet?

Voor mikroskope was die voortplantingsiklus van die varing ʼn raaisel omdat dit geen blomme dra nie. Dit is eers nadat varings noukeurig onder mikroskope bestudeer is dat die piepklein spoortjies ontdek is. Elke spoor is ʼn eensellige organisme, en elke varing het miljoene spore wat deur ʼn paar ander lewensiklusse moet gaan voor dit blare maak en ʼn ware varing raak.

Advertisements
-->
The Gardener