fbpx

’n Flaminkfees

Anthuriums wat ook as die flaminklelie bekend staan, is bekend vir hul hartvormige blare en blink blomme wat net die ding is om huise op te helder.

Hoewel daar meer as ʼn duisend anthurium-variëteite is, is die algemeenste een Anthurium andreanum wat in die reënwoude van Suid-Amerika en die Karibiese Eilande ontstaan het. Die ikoniese tropiese blomme word dikwels saam met ʼn vrugteskemerkelkie op ʼn eiland uitgebeeld.


Die regte toestande

Anthuriums sal gedy as hulle die regte toestande gegee word:

• Helder, indirekte lig met geen direkte sonlig wat hul blare brand nie.

• ʼn Warm temperatuur en geen trekke nie. • Hoë vogtigheid met af en toe misbespuiting in droë klimaatstreke. Plante wat saamgegroepeer word, kan ook die vogtigheidsvlakke verhoog.

• Maak nat as die boonste 2 cm van die grond droog is. Gee minder water in die herfs en winter.

• Pot oor as die wortels heeltemal potgeknel is in vars potgrond waarby dreineermateriale soos perliet of vermikuliet bygevoeg is. ʼn Orgideepotmengsel is ideaal vir dié plante.

• Voed maandeliks met ʼn vloeibare plantvoedsel.

• Trek dooie blomme liggies af of sny dit af.

• Vee die blinkgroen blare van tyd tot tyd met ʼn klam doek af om hulle stofvry te hou.


Probleemoplossing

Bruin kolle op blare – Dit kan beteken die plant kry te veel direkte sonlig wat die blare skroei, die lug is nie vogtig genoeg of die plant kry nie genoeg water nie.

ʼn Gebrek aan blomme – Dié plante verlang ʼn gewone rustyd van ʼn paar maande voor hulle weer blom, of maak seker daar word aan al die regte toestande, waaronder behoorlike voeding, voldoen.

Blomme wat van kleur verander – Namate die blomme van veral die tweekleurige variëteite verouder, kan hulle van kleur verander. Blomme wat as groen begin uitkom, het dalk meer lig nodig, of as hulle groen begin verkleur, kan dit ʼn teken wees dat die temperatuur te laag is, of die plante nie genoeg water kry nie.

Plae – Hou dop vir die gewone verdagtes by huisplante: Witluis, spinmyte en dopluis is die algemeenste en moet behandel word deur eers soveel moontlik af te vee, of as dit ernstig is, met sistemiese insekdoders. Neem jou plante buitentoe om hulle te behandel en bring hulle eers dan weer in.


Aangaande bloeiskedes

Die anthurium se blom is eintlik ʼn bloeiskede, ʼn helder gekleurde skutblaar wat insekte lok met ʼn bloeikolf in die middel met piepklein blommetjies al met die lengte langs. Wanneer die blomme bestuiwers wil lok, skei die piepklein vroulike blommetjies ʼn vloeistof af waarvoor insekte lief is. Daarteenoon bevat anthuriums kalsiumoksalaatkristalle in die sap wat ‘n irritant kan wees. Dit weer enige potensiële dier af van die eet van die plant wat dit tegelyk ʼn aanlokkende en afwerende plant maak.

Hierdie plante word deur LVG Plants gekweek en is by kleinhandelafsetpunte en kwekerye te kry.

-->
The Gardener