![peperomia](https://www.thegardener.co.za/wp-content/uploads/2021/12/5B2A4483.jpg)
’n Peperomia Vir Elke Seisoen
![](https://www.thegardener.co.za/wp-content/uploads/2024/06/Peperomia-argyreia.png)
Peperomia argyreia
![Peperomia ‘Zorro’ in a white pot](https://www.thegardener.co.za/wp-content/uploads/2021/12/5B2A4483-683x1024.jpg)
Peperomia ‘Zorro’
![Leaves of Peperomia caperata 'Variegated'](https://www.thegardener.co.za/wp-content/uploads/2021/12/Main-capitata-683x1024.jpg)
Peperomia caperata ‘Variegated’
Peperomias is ʼn huisplantversamelaar se droom. Hulle is ook as “radiatorplante” bekend (omdat hulle lief is vir warm lug en verskeie klimaatstreke verdra). Daar is meer as ʼn ontsaglike 1,500 peperomiaspesies. Hulle is ook naverwant aan die plant wat die kombuisspesery peper verskaf, vandaar die naam peperomia.
Die menigte variëteite lyk dikwels onverwant, wat bydra tot hul aantrekkingskrag vir versamelaars. Hulle kan ook ʼn bietjie verwaarlosing verdra, wat hulle uitermate geskik maak vir die huisplantbeginner.
Peperomia Sorg
Water: Peperomias behou uitstekend water in hul sappige blare en hoef dus nie te gereeld natgemaak te word nie. Laat die boonste grondlaag heeltemal uitdroog voor weer natgemaak word – dit is beter om liewer te min as te veel water te gee.
Vogtigheid: Peperomias is tropiese plante en groei die beste in gebiede met hoë vogtigheid. Dit is veral belangrik in die somergroeityd. Laat dit in die badkamer staan om vinnig ʼn bietjie stoom van die stort te kry of sit dit op ʼn potpiering vol klippies met water in om die vogtigheid te verhoog. Moenie die plant in ysige weer buite laat bly nie omdat dit nie in ʼn temperatuur onder 0 °C sal oorleef nie.
Sorg: Peperomias is uitstekend vir beginners – hulle kan ʼn mate van verwaarlosing verdra, en al die variëteite het oor die algemeen soortgelyke sorgvereistes.
Lig: Kleur is ʼn noodsaaklike deel van die peperomia se aantrekkingskrag, en die sleutel daartoe is die regte hoeveelheid lig. Die meeste peperomias het matige tot helder indirekte sonlig nodig om hul helderheid te behou, hoewel sommige sal oorleef in gebiede met swakker lig soos bad- en slaapkamers.
Oorpot en voortplanting: Peperomias is nie groot plante nie, hulle hou daarvan om effens potgeknel te wees en daarom hoef hulle nie gereeld oorgepot te word nie. As wortels onder by die dreineergate begin uitgroei, pot hulle oor in ʼn houer wat een grootte groter is in grond met uitstekende dreinering – soortgelyk aan ʼn orgideemengsel.
Vanweë hul soortgelykheid aan vetplante kan hulle maklik van blaarsteggies voortgeplant word. Sny bloot in die lente ʼn blaar van die hoofplant af en plant dit in ʼn aparte pot met goeie potgrond. Hou die grond klam en dit behoort binne ʼn paar weke wortels te maak.
Peperomias om voor uit te kyk
Peperomia angulata
P. angulata staan liefderik in Engels as die “beetle peperomia” bekend. Sy voorkoms is soortgelyk aan die van die waatlemoenpeperomia – groen blare met geel strepe in ʼn soortgelyke patroon as waatlemoenskil – wat sy nuutgevonde gewildheid verklaar. Die oranjegetinte stingels verleen kontras en helderheid wat hierdie variëteit onweerstaanbaar maak vir versamelaars. Dit bly die hele groeityd kompak, reik na bo en tuimel na onder as die stingels swaar is – die ideale keuse vir hangmandjies.
Peperomia caperata
As jy aan peperomia dink, sal P. caperata gewis een van die eerste wees wat by jou opkom. Dit is een van die gewildste peperomias, met hartvormige geplooide blare en roomkleurige of rooi are as die plant blom. Anders as party ander variëteite is dit te kry in verskeie kleure, van groen tot rooi of pers en selfs silwer. As jy onseker is oor watter peperomia om te kies, sal die talle kultivars van P. caperata jou nie in die steek laat nie.
Peperomia clusiifolia
Nog ʼn peperomia wat jy dalk nie dadelik as deel van die familie sal herken nie, is P. clusiifolia, veral die ‘Rainbow’-variëteit wat dikwels in Suid-Afrika aangetref word. Hierdie plant het langwerpige blare met ʼn fassinerende kleurpatroon – groen in die middel met roomkleurige bontheid en helderpienk rande. ‘Rainbow’ is ʼn speelse variëteit wat beslis jou huisplantversameling sal laat uitstaan.
![](https://www.thegardener.co.za/wp-content/uploads/2021/12/Peperomia-rotundifolia-685x1024.jpg)
Peperomia rotundifolia
![peperomia](https://www.thegardener.co.za/wp-content/uploads/2021/12/IMG_9585-683x1024.jpg)
Peperomia caperata ‘Napoli Nights’
![](https://www.thegardener.co.za/wp-content/uploads/2021/12/Peperomia-angulata-1024x683.jpg)
Peperomia angulata
Peperomia rotundifolia
Hierdie variëteit lyk baie anders as sy vorige naverwante. Die delikate P. rotundifolia het klein geronde blaartjies aan rankende stingels en bly deurlopend kompak. Sy klein grootte en vogtigheidsvereistes is uitermate geskik vir binnenshuise terrariums, anders kan die rankende stingels as fyn versiering oor enige binnenshuise pot hang.
Peperomia ‘Amigo Marcello’
Voeg Peperomia ‘Amigo Marcello’ by jou versameling as kontras met die geronde blare van die meeste peperomiasoorte. Hierdie variëteit het dik, gepunte groen blare wat aan bruinrooi stingels groei. As dit as hangplant gebruik word, sal die stingels skouspelagtig ver neerhang, anders kan dit as klimop gekweek word. Dit is ʼn absolute moet-hê-plant (as jy gelukkig genoeg is om een te kry).
Peperomia verticillata
Hierdie spesie het klein geronde blaartjies waarvan die bokant groen en die onderkant ʼn kontrasterende rooi-pers kleur is. Dit word in Engels ook die “belly button peperomia” genoem, is een van die helderder soorte en is opvallend in enige vertrek. Al groei die plant maar stadig, verkry sy blare ʼn fluwelige tekstuur namate dit volwasse raak – soos goeie wyn verbeter dit net met ouderdom.
![](https://www.thegardener.co.za/wp-content/uploads/2021/12/Peperomia-Ámigo-2-copy.jpg)
![](https://www.thegardener.co.za/wp-content/uploads/2021/12/Peperomia-obtusifolia-copy.jpg)
![The leaf of Peperomia clusiifolia](https://www.thegardener.co.za/wp-content/uploads/2021/12/Peperomia-clusiifolia-Rainbow-copy.jpg)
Peperomia obtusifolia
Hierdie peperomia wat as die babarubberplant bekend staan, het dik, helder blare en ʼn kort, dik voorkoms. Jonger blare is gerond en raak ʼn ovaal vorm wat daaraan sy naam gee (“obtusifolia” beteken “stompblarig”). Daar is talryke kultivars – soos ‘Albomarginata’ of ‘Golden Gate’ – waarvan die bontheid en blaarpatrone verskil. Dikker stingels en sappiger blare hou meer water, wat meebring dat hulle effens meer verwaarlosing as die ander variëteite kan verdra.
Peperomia argyreia
Die uiters gewilde waatlemoenpeperomia is oral uitverkoop – as jy dit regkry om een in die hande te kry, ag jouself gelukkig. Dit het sy naam gekry omdat sy dofgroen blare met heldergroen strepe na waatlemoenskil lyk. Van al die peperomiavariëteite laat hierdie een beslis die koppe draai.
Peperomia ‘Zorro’
Hierdie netjiese klein plantjie met donkergroen blare met ʼn treffende rooi onderkant. Elke blaar is langwerpig en amper lepelvormig met opvallende riwwe oorlangs terwyl die blomme dofgroen is. Die plante is rond met ʼn simmetriese vorm, wat hulle ideaal maak om in die middel van ʼn lae koffietafel uit te stal.
Die groot verskeidenheid fassinerende vorms en kleure maak van peperomias ʼn absolute moet vir enige huisplantliefhebber. Of jy nou ʼn ou versamelaar of groentjie met plante is, sal jy in die peperomiafamilie iets kry waarna jy soek.