fbpx

Stringvetplante vir Binnetuine

Read in English

Vetplante is gewoonlik nie maklik om binnenshuis te kweek nie. Een vetplantkategorie het egter die vetplantwêreld heeltemal verower – stringvetplante. Hierdie unieke plante bied met hul speelse volksname en blare met interessante vorms soveel om te geniet.

Pêrelsnoer

Curio rowleyanus

As ongetwyfeld die gewildste van al die stringvetplante het Curio rowleyanus die harte van huisplantentoesiaste wêreldwyd gesteel. Met sy oulike bolvormige blare aan lang tuimelende ranke is dit nie moeilik om te sien hoekom nie. Onder die regte toestande kan geronde blomme selfs uit die blare verskyn, wat die ertjievorm van die geliefde loof naboots.

Bobbejaantoontjies

Curio radicans

As pêrelsnoer se voorkoms as klassieker beskou word, kan bobbejaantoontjies as sy speelse naverwant bestempel word. Sy interessante blaarvorm onderskei hierdie plant van die ander stringvetplante met ʼn soortgelyke groeiwyse. Die langwerpige blare met gepunte punte en ʼn effense kromming lyk amper presies net soos ʼn groen piesang, vanwaar die Engelse volksnaam “string of bananas”.

Halssnoerranker

Ceropegia woodii

Hoewel die halssnoerranker van ʼn heeltemal ander genus is, lyk die plant baie dieselfde as snoer seeskilpaaie (Peperomia prostrata), veral wat die patroon betref. Die blaarvorm is egter een van die redes waarom hierdie plant so gewild is: Die halssnoerranker word gekenmerk deur sterk hartvormige blare aan lang, druipende ranke wat daarvan die perfekte geskenk vir Valentynsdag maak.

Snoer seeskilpaaie

Peperomia prostrata

Hierdie halfsukkulente Peperomia-spesie wat inheems in Brasilië is, is nie net geliefd vanweë sy oulike knopieagtige blare nie, maar ook vanweë die patroon wat hulle bedek. Met persbruin kolle wat tot diepgroen verkleur namate die plant verouder, is hul ooreenkoms met ʼn seeskilpaddop onmiskenbaar. Gebruik dit saam met snoer dolfyne vir ʼn vertoning met die strand as inspirasie.

Snoer dolfyne

Curio peregrinus

Met die eerste oogopslag, lyk hierdie vetplant dalk nes ʼn string piesangs. By nadere ondersoek sal jy egter klein puntjies aan die kante opmerk wat die blare nes ʼn springende dolfyn laat lyk. Snoer dolfyne is ʼn kruising tussen Curio rowleyanus en Curio articulatus wat die blaarvorm opgelewer het wat oombliklik ʼn internetsensasie geword het.

String trane

Curio herreianus

Ten spyte van die melancholiese naam het string trane die vermoë om elke plek in jou huis met sy vet, geronde blare op te helder. Met sy baie soortgelyke voorkoms as pêrelsnoer word hierdie plant net onderskei op grond van die effens gepunte punte wat die blare van heeltemal sferies na traanvormig verander. Dit staan ook as “string of raindrops” bekend.

Sosatiesbossie

Crassula perforata

Hierdie Suid-Afrikaanse plant is bekend aan talle vetplantliefhebbers wat sy sagte geometriese vorm waardeer. In die regte lig het die dik knoopagtige blare ʼn pienkperserige randjie wat die spiraal van die lang stingel beklemtoon. In plaas van om hierdie vetplant oor hangmandjies te laat tuimel, is dit die beste om dit in potte te plant en te gebruik om tafels en rakke te versier.

Bobbejaankool

Othonna capensis

Bobbejaankool is ʼn stringvetplant met fassinerende langwerpige blare wat onder sekere toestande ʼn persrooi skakering word. Die vorm en blaardikte het daartoe gelei dat die plant in Engels ook “string of pickles” en vanweë die kleur “string of rubies” genoem word. Al wat jy moet doen om die sterk robynrooi kleur na vore te bring, is om net die plant onder ʼn bietjie stres te plaas.

-->
The Gardener