
Swart Binnenshuise Plante



Baie huiseienaars skram daarvan weg om die kleur swart oorvloedig of selfs net as ʼn spatsel kleur te gebruik. Dit hoef egter nie die geval te wees nie. Binneontwerpers keur die terugkeer van swart as ʼn neiging in die ontwerpwêreld goed, wat dié wat avontuurlik voel verskeie maniere gee om dit met elegansie en sofistikasie te doen.
Swart is beslis die kleur van drama. Net ʼn tikkie lok die oog en verskaf intense kontras met enige kleur waarmee dit saamgebruik word. As dit doelgerig gebruik word, kan dit ʼn unieke fokuspunt skep wat sterk maar terselfdertyd vertroostend is. ʼn Sweempie van hierdie modieuse kleur kan fokusmure, meubels en kleiner toebehore soos kussings en matte opkikker.
Wat as swart egter eenvoudig te sterk vir jou huidige ruimte is? Dit beteken nie jy moet die neiging heeltemal laat vaar nie. Kyk na die huisplantwêreld om aan jou (ontwerp- en tuinmaak-)behoeftes te voldoen sonder om te veel veranderings aan te bring.
Swart is net so moeilik om in die plantwêreld as in ontwerp te vind met uiters min plante en blomme wat met die kleur spog. Die meeste plante wat swart genoem word, is tegnies nie eers swart nie, maar eerder so ʼn diep groen of rooi dat hulle in sekere lig swart lyk. Sonlig is gewoonlik die sleutel tot hul drastiese kleur, met hoër ligvlakke wat die naaste kleur aan swart gee wat jy kan kry.
Diegene wat belangstel om ʼn bietjie swart in hul huisplantversameling in te bring, kan hierdie ses keuses beproef. Sommige is dalk moeilik bekombaar omdat hulle so skaars en gewild is, maar is die ekstra soektog dubbel en dwars werd.
Zamioculcas zamiifolia ‘Raven’
Die ZZ-plant ‘Raven’ is bes moontlik die bekendste van al die swart huisplante. Hierdie kultivar met lang stingels en klein boergonjeswart blaartjies hier en daar is maklik bekombaar danksy sy toenemende gewildheid in onlangse jare. As bonus is dié plante ook ongelooflik maklik om te versorg en amper onmoontlik om dood te maak.
ZZ-plante kan grotendeels met rus gelaat word en verkies ʼn bietjie verwaarlosing met versorging bo ekstra moeite. Danksy hul groot wortelstokke wat water opgaar, kan hulle verskeie weke sonder water klaarkom, en het slegs nog nodig as hul grond heeltemal uitgedroog het. Hoewel dié plante se kleur en groeikrag in helder indirekte lig verbeter, is hulle ook van die min wat geskik is vir gebiede met swak lig.
Peperomia caperata ‘Burgundy Ripple’
‘Burgundy Ripple’ is ʼn betreklike skaars Peperomia caperata-kultivar wat die klassieke geriffelde blare van die spesie behou maar aansienlik van kleur verskil. Dit spog met dieprooi, amper swart loof met plek-plek donkergroen kolle, en elke blaar behou sy eie interessante bont kleurpatroon. Onder die regte toestande maak hulle ook die blomme met lang are waarvoor hierdie plante bekend is, wat hoog bo die donker agtergrond hang.
Wanneer ‘Burgundy Ripple’ in die regte omgewing geplaas word, is dit nie moeilik om te versorg nie. Hulle verlang ʼn bietjie meer vog as die vorige plant en moet natgemaak word sodra die boonste laag uitdroog. Maak seker die grond en houer dreineer uiters goed om versuiping en wortelvrot te voorkom. Sit hulle in helder sonlig, maar uit die pad van direkte son om die beste te groei en moontlik te blom.
Ficus elastica ‘Black Prince’
Die rubberboom, een van die gewildste huisplante op die mark, is ʼn moet-hê vir elke binneruimte. Hierdie taai plante het pragtige blink blare, en groei vinnig om hoeke maklik vol te maak. As jy reeds ʼn paar verskillende kleure kultivars versamel het, soek na die dramatiese ‘Black Prince’ met diepsmaraggroen tot swart blare wat in helder lig versterk.
Jong rubberbome het ʼn bietjie meer aandag as ouer en meer gevestigde bome nodig. Hulle gebruik nie geweldig baie water nie en hoef slegs natgemaak te word as die boonste helfte van die grond heeltemal uitgedroog het. Plant dit in ʼn groot pot om die wortels genoeg plek te gee om uit te sprei en hou die ligvlakke hoog maar indirek om blaarskroei te voorkom.



Alocasia reginula
As daar al ooit ʼn plant was wat perfek deur sy noemnaam beskryf is, is dit ‘Black Velvet’. Hierdie gesogte alocasia het groot blare met ʼn donker fluwelige voorkoms. Hoewel dit tegnies donkergroen van kleur is, lyk die blare onder sekere toestande beslis amper swart. Die helder wit are versterk die kleur, wat ʼn fassinerende kontras tussen die twee skep met ʼn voorkoms wat beslis die koppe sal laat draai.
Hierdie alocasia-spesie hou van ʼn warm temperatuur en hoë vogtigheid binne. Hoewel dit stadig groei, groei dit die vinnigste as dit heeljaar in sterk indirekte lig gesit word. Dra handskoene wanneer dit voortgeplant of reggeknip word om te keer dat die sap in die stingels die vel irriteer. Hou dié plant ook van troeteldiere en kinders af weg.
Colocasia ‘Black Magic’
Colocasia-plante wat algemeen as taro of olifantsoor bekend staan, word gewoonlik as loofplante buite gekweek, en word op prys gestel vir hul enorme uittronende blare. Danksy hul aangetrokkenheid tot tropiese toestande is hulle ook pragtige dekorplante as hulle genoeg lig en ruimte gegee word om uit te sprei. Soek na die kultivar ‘Black Magic’ met persswart blare wat met hoër ligblootstelling verdonker.
Moenie verras wees as die nuwe blare van hierdie spesie groen uitkom nie – hulle sal mettertyd tot ʼn dieper pers of swart verouder. Hierdie plant kan verskeie ure van direkte son binne hanteer mits die lig sag is (verkieslik soggens). Hou die grond liggies klam maar nie deurdrenk nie en bemes maandeliks in die lente en somer vir oordrewe groot blare.
READ MORE: Take a look at these succulents that you can keep as indoor plants
Philodendron ‘Black Cardinal’
ʼn Huisplantlys is onvolledig sonder minstens een filodendron, en ‘Black Cardinal’ sal verseker skitter in jou versameling. Die blare is aanvanklik ʼn treffende boergonje as hulle verskyn wat stadigaan verdonker tot die swart kleur waarvoor hulle bewonder word. Afgesien daarvan dat dit anders lyk, is dit nie moeiliker om hierdie variëteit te versorg as enige ander filodendron in jou huis nie.
Filodendrons verdra ʼn verskeidenheid ligtoestande. Hoewel hulle die beste in helder indirekte lig groei, kan hulle ook matige tot swak lig redelik goed hanteer. Maak nat as die grondbolaag droog begin word, maar moenie te lank wag nie – die groot blare kan slap raak en gou begin omval as dit te min water kry.