Tooi jou sipres vir Kersfees
Die kompakte, welige en immergroen sipres in ʼn pot maak ʼn pragtig versierde boom vir die feestyd uit.
Cupressus macrocarpa ‘Goldcrest’ het al die kenmerke van ʼn goeie konifeer – ʼn mooi vorm, helder goudgeel loof wat as dit gekneus word soos suurlemoen ruik, en genoeg van ʼn denagtige voorkoms om as Kersboom in te staan as dit nodig is. Boonop het dit ʼn bekroonde status (RHS) en is daarom ʼn goeie belegging as boom.
Buite kan ‘Goldcrest’ meer as 5 m hoog word, hoewel daar ook dwergvariëteite is wat perfek vir houers binnenshuis is wat ongeveer ʼn meter hoog word. Sommige sipreskonifere kan tot 40 m hoog word, gevolglik is dit betreklik klein vir konifere. Onthou egter hulle is bome en verlang soveel lig as wat jy hulle moontlik binne kan gee – minstens ses tot agt uur per dag.
Hoe om ʼn sipres in ʼn pot te versorg
- Draai potte gereeld sodat die hele plant genoeg lig kry en nie skeef groei nie.
- Hou die grond te alle tye matig klam, maar voorkom oorbenatting en veral onderbenatting. Maak seker die water loop by die dreineergate uit om te voorkom dat die grond versuip raak, wat op sy beurt die wortels sal beskadig.
- Hierdie plante gedy in vogtigheid. Spuit dit van tyd tot tyd nat of sit die pot op ʼn bak vol klippies mits die onderkant nie aan die water raak nie.
- Voed die sipres maandeliks in die lente met ʼn misstof wat spesifiek daarvoor bedoel is of gebruik ʼn algemene misstof teen halfsterkte.
- Knip en vorm dit in die lente voor die nuwe groei verskyn. Snoei stimuleer groei en maak dit digter. Dit kan elke paar weke gevorm word.
Koop ʼn sipres vir jou gesondheid
Sipresbome het die vermoë om ons gesonder te maak. Die plant stel luggedraagde chemikalieë genaamd fitondoders vry wat die plante teen insekte help beskerm. Hierdie fitondoders het antibakteriële en teenswameienskappe wat ons kan inasem. Dit help ons liggame veg teen ʼn menigte goed, waaronder om stres te verminder, bloeddruk te verlaag en die stemming te verbeter. Ons almal ken in ieder geval die kalmerende voordele van tyd in die bos deurbring.
Meer om te kies
Araucaria heterophylla, die norfolkeilandden, word ook dikwels as Kersbome ingespan. Hulle maak ook uitstekende huisplante uit wanneer hulle nie vir die feesgety gebruik word nie. Die volksnaam denneboom is ʼn bietjie misleidend omdat hierdie bome nie ware denne is nie, en dit moet in ag geneem word wat hul versorging betref. Hulle is tropiese plante wat nie goed in die koue vaar nie. Hulle hou van hoë vogtigheid met ʼn weeklikse misbespuiting en volop helder lig, selfs verskeie ure direkte sonlig per dag. Maak nat wanneer die grond droog voel en voed maandeliks in die lente en somer met ʼn vloeibare plantvoedsel.
Pretfeit
Die hout van sipresbome is betreklik homogeen met min lae wat saam met die hoë harsinhoud daartoe lei dat enigiets wat daarvan gemaak word, nie mettertyd sal kraak nie en eeue lank sal hou.
Hierdie plante word deur LVG Plants gekweek en is by kleinhandelafsetpunte en kwekerye te kry.