Vetplante vir Binne Kweek
Dit kan ʼn uitdaging wees om vetplante binne gelukkig te hou omdat hulle oor die algemeen minstens vier uur sonlig per dag nodig het, hoewel daar uitsonderings is. As jy egter die toestande in ʼn plant se natuurlike habitat verstaan en weet wat met die terme “helder”, “indirek” of “swak lig” bedoel word, sal jy gou kan bepaal waar om hulle te hou.
ʼn Gelukkige gedagte is egter dat plante baie aanpasbaar is en daar is dié wat heeltemal gewillig is om die habitat van Moeder Natuur te verruil vir een wat deur Homo sapiens verkies word…
Verligting in ʼn neutedop
Helder lig beteken daar is geen vorm van skadu, soos ʼn gordyn, tussen die plant en ʼn venster nie. Slegs sonliefhebbers sal dit verdra, veral as dit ʼn venster is wat in die namiddagson bak.
Indirekte of gefilterde lig beteken daar is ʼn paar uur sonskyn, soos deur ʼn venster wat oos kyk. In die tuin sal dit oor die algemeen oggendson en namiddagskadu wees.
Swak lig beteken sonlig word afgeskerm deur ʼn boom of gebou buite of ʼn ander hindernis in ʼn kamer, soos gordyne of dekor.
Olifant-se-tandestokkie
Hierdie boorling van Angola versprei horisontaal deur middel van ʼn ondergrondse wortelstok waaruit lang, dik silindriese blare met baie skerp punte uitspruit – die perfekte plant vir ʼn uiters hoë en smal pot. Dit is baie droogtebestand en kan snaaks genoeg toestande met óf helder óf swak lig verdra. Die botaniese naam is Dracaena angolensis, hoewel dit ook onder die sinoniem Sansevieria cylindrica bekend is.
Mammillaria-kaktus
Daar is talle spesies in dié genus, meestal Mexikaanse boorlinge, en hulle word algemeen as huisplante gekweek. ʼn Algemene kenmerk is areoles (tepels) wat dorings dra wat volgens die Fibonaccivolgorde gerangskik is. Koel weer sit blom in ʼn krans aan die gang. Hulle hou nie van vogtigheid nie en verkies indirekte lig.
Beestong
Die inheemse genus Gasteria het sy naam gekry van die woord “gaster” wat maag in Latyn beteken en na die blomvorm verwys. Die plante groei in skadu in die natuur, en die lang blare het ʼn growwe tekstuur en is dikwels met interessante patrone en kleure gevlek. Kweek hierdie stadige groeier in indirekte tot swak lig.
Kersfeeskaktus
Hibriede van Schlumbergera-spp. dra die mooiste, delikate blomme in die winter, en die blare is dik, afgeplatte segmente wat in ʼn lang ketting gerangskik is. Schlumbergeras is epifiete (lugplante) en boorlinge van tropiese reënwoude in Brasilië, wat beteken hulle hou van gereelde natmaak en ʼn vogtige atmosfeer. Hulle is skitterende binnenshuise vetplante wat geskik is vir ʼn kol met indirekte of gefilterde lig.
Paaskaktus
Rhipsalis-spp. is tipies deel van die onderbos onder enorme tropiese oerwoudbome, meestal in Brasilië en Uruguay. Hulle is ook epifiete met uiters treffende dun druipende sukkulente blare. Hierdie stadiggroeiende plante hou van gereelde natmaak en vogtigheid om hulle. Die beste kol vir hulle is in indirekte of gefilterde tot swak lig. Hulle is hoegenaamd nie sonliefhebbers nie!