Geheime vir ʼn Tuin met Eindelose Kleur
Krismisrose en bougainvillea verseker eindelose somerkleur – en elke tuinier is dol daaroor…
Manjifieke mopkoppe
Die moderne reeks Hydrangea macrophylla ‘Endless Summer’ blom op nuwe lote sowel as op die vorige seisoen se groei, wat ’n herhalende en verlengde vertoning van Oktober tot April beteken. Hierdie plante het ’n geharde, geronde groeiwyse met blink, donkergroen blare en is bestand teen koue wintertoestande. Die volwasse grootte is gewoonlik sowat 90 cm x 150 cm. Kyk veral uit vir ‘Blue’, ‘Blushing Bride’ (wit blomme), ‘Bloomstar’ (helderpers of roospienk) en ‘Love’ (pienk blomme).



Kweekwenke
Omdat dit bladwisselend is, is Hydrangea macrophylla koudgehard en sal dit ryp oorleef indien dit met rypdoek beskerm word.
- Hulle groei goed aan die kus as dit beskut is, en kan selfs binnenshuis vir ’n ruk floreer terwyl dit blom.
- Plant in die tuin in oggendson en middagskadu.
- Gebruik komposverrykte grond wat goed dreineer, en verskaf ‘n deklaag met blaarvorm of bas.
- Lei gereeld nat op grondvlak.
Bougainvilleas – vegters teen hitte
Baie hibriede is ontwikkel uit die kragtige spesies wat inheems is aan Suid-Amerika, en die papieragtige skutblare kom in ’n wye verskeidenheid kleure voor.



Goed om te weet
- Bougainvilleas benodig minstens ses uur helder son per dag om volop te blom – soos teen ’n sonnige, noordelike muur.
- Hou die grond klam totdat jy die eerste tekens van nuwe groei sien. Daarna kan jy die grond tussen natleisessies laat uitdroog.
- Voed in die lente, midsomer en herfs met ’n stadige vrystellende kunsmis wat ryk aan kalium is, en bedek dan met ’n vars laag kompos. Moenie oorvoed nie, want dit sal blare bevorder en min blomme lewer.
- Hulle blom op nuwe groei. Indien dit te uitbundig raak, kan dit ná ’n blomfase gesnoei word. Jong plante kan tot bosserige eksemplare opgelei word deur die stingels se groeipunte gereeld uit te knyp.
Beste oorlewingswenk
Bougainvilleas hou glad nie van gesteurde wortels nie en moet nooit sommer uit hul kwekerysakke of -potte geruk word nie. Plaas die plant (nog in sy houer) in die regte posisie en diepte, sny die houer versigtig oop langs die kant en verwyder dit voordat jy die gat of pot met grond opvul. Hoe minder jy dit versteur, hoe beter!














