fbpx

Bou ’n Pragtige Dekorrak

Met ’n paar gewone stukke gereedskap kan jy hierdie wonderlike muurdekorstuk met ’n kleurlose Woodocfluweelafwerking maak wat dekades lank sal hou.

Wat jy nodig het

  • 3 x dennehoutrakplanke 21 mm (1800 mm x 305 mm)
  • 1 liter Woodoc 10 Interior Polywax Sealer (Velvet, Clear)
  • 180-grint skuurpapier
  • Staalwol
  • 24 x 3,5 mm x 40 mm-skroewe
  • 1000 mm skroefstaaf van 10 mm dik, ’n 10 mm-muurprop en houtgom
  • Minerale terpentyn

Gereedskap

Verfkwas, ’n plat roerspaan, skoon lap, maatband, potlood, waterpas en ’n liniaal, sirkelsaag, figuursaag en booraandrywer, Phillips-boorpunt, 12 mm-houtboorpunt, 6 mm- en 12 mm-betonboorpunt.

Stappe

1.Meet, merk en sny die planke soos volg:

  • 2 van 1600 mm x 230 mm
  • 4 stukke van 453 mm x 230 mm.

2.Maak die boonste en onderste hoek van die twee lang kantstukke rond. Gebruik ’n Woodoc-blik om die ronding af te trek en sny dit dan met die figuursaag uit.

3.Meet 100 mm van bo op albei kantstukke af en trek ’n lyn. Meet en merk dan van daar drie keer 453 mm af om die rakposisies aan te dui. Merk die skroefplekke op hierdie lyne af en boor loodsgate.

4.Meet 20 mm onder elke loodsgat op die lang buiterand van elke kantstuk af en boor 100 mm diep gate met die houtboorpunt. Herhaal dit vir die posisies van die boonste, eerste en laaste rak.

5.Skuur al die hout glad. Verwyder die stof en vee dan die hout met ’n lap, klamgemaak met minerale terpentyn, af.

6.Roer die Woodoc 10 Interior Polywax Sealer goed voor, sowel as gedurende aanwending. Moenie dit skud of verdun nie. Wend ’n laag met ’n kwas van goeie gehalte aan, laat dit heeltemal droog word en skuur liggies met staalwol. Verwyder die stof, vee weer met minerale terpentyn af en herhaal vir die tweede en derde laag, maar moenie weer skuur na die derde laag nie.

7.Laat staan een stuk regop op sy lang kant. Plaas een 453 mm x 230 mm-rak by elke stel loodsgate en skroef dit op sy plek vas. Herhaal dit vir al die rakke en heg dan die tweede kantstuk vas.

8.Plaas die rak op jou verlangde hoogte teen die muur. Gebruik die waterpas om seker te maak dis reguit, merk dan die bokant van die binne- en buitehoeke van die eerste rak en herhaal dit vir die onderste rak. Bepaal die middelpunt van die rak en merk 100 mm na onder van die hoek af.

9.Boor met die 6 mm-betonboorpunt en dan die 10 mm-betonboorpunt in die muur in. Steek die proppe in, kap die skroefstawe in, wend houtgom aan die skroefstawe aan en druk die rak op sy plek in.

-->
The Gardener