Geskenke Uit Die Tuin
Niks is so bevredigend as om jou eie geskenke te maak nie. Deur die tyd te bestee om te dink aan die persoon vir wie die geskenk bedoel is, maak dit ook soveel meer spesiaal. Hier is drie idees om jou aan die gang te kry.
Kruiegegeurde Kerskaartjie
Jy het nodig:
- Onbeskrewe kaartjie
- Bruinpapier
- Waspapier
- Tou
- Kers en aansteker
- Gedroogde kruie na keuse: Ons het tiemie gebruik.
- Skêr
- Gomstiffie
- Inkpen
Stappe:
1. Vou die bruinpapier in die helfte en sit in die onbeskrewe kaartjie. Sny die bruinpapier ongeveer 1 cm groter as die onbeskrewe kaartjie en gom die twee op die vou aan mekaar vas.
2. Sit die kaartjie teen ʼn hoek van 45° op waspapier en sny ʼn vierkant om die kaartjie uit.
3. Sny die bokant af. Skryf ʼn boodskap in die kaartjie en voeg die kruietakkies by. Maak die kaartjie toe en vou die waspapier toe.
4. Bind tou om die kaartjie vas en maak seker die middelknoop kom waar die waspapier oorvleuel. Sit kruie bo-op en verseël met kerswas.
Tuingeskenk in ’n boks
Jy het nodig:
- Kartonboks
- Klein gereedskapstel
- Gegalvaniseerde emmer (Maak seker jy maak dreineergate daarin.)
- Palmveen
- Plastiekkoevert vir palmveen
- Saadpakkie van jou keuse: Ons het Starke Ayres Garden Mix gebruik.
- Klein bruin koevertjie
- Newelspuitbottel
- Houtnaambordjies
- Lint
- Dun tou
- Saagsels
Stappe:
Gooi die palmveen in die plastiekkoevert en maak toe. Bind die gereedskap en houtnaambordjies saam vas met die tou. Skryf die saadpakkie-inligting op die koevert en gooi die saad in die koevert. Pak al die tuingoed in die boks en gooi saagsels in om te keer dat die voorwerpe beweeg. Bind die boks se deksel met die lint vas.
’n Drietal vetplante in glasflesse
Jy het nodig:
- 3 glasflesse
- 3 vetplante: Ons het Echeveria ‘Secunda’, Crassula ovata ‘Sunset’ en Sedum x luteoviride gebruik.
- Growwe gruis
- Silikasand
- Klein handgrafie
- Dun tou
- Batterygewerkte feetjieliggies
- Gomgeweer en -stiffies
Stappe:
1. Sit ʼn dun lagie growwe gruis onderin die flesse – dit vorm die waterput.
2. Haal die vetplante uit hul potte uit en pluis enige oormaat grond uit. Sit in die flesse en maak tot bo vol met silikasand.
3. Gom die drie flesse aan mekaar vas met die gomgeweer.
4. Draai dun tou om al drie flesse en gom die toupunte vas.
5. Sit die liggies om die vetplante en druk die batterypak in die holte in wat deur die tou geskep is. Maak ʼn eenvoudige kaartjie en sit dit met ʼn groot skuifspeld in een van die flesse.