Idees Vir Kerskranse
As jy op soek is na ʼn paar prettige handwerkgoed om vanjaar te maak om jou huis te versier en die kinders betrokke te kry, is hierdie vir jou. Vang die vakansiegees met ons pretprojekte vir die feestyd. Hier is drie idees vir Kersfeeskranse wat jy self kan maak.
Kerstafelkrans van roosmaryn
Jy het nodig:
- 2,5 mm dik draad in ʼn 250 mm-ring gesny
- Plastiekbedekte tuindraad
- Goue spuitverf
- Roosmaryntakkies van sowat 300 mm lank
- Kers
- *Ekstra versierings na keuse
Stappe
1. Maak jou draadring vas deur die punte om te buig en in te haak.
2. Draai roosmaryn om die ring en maak met tuindraad vas. Herhaal die proses tot jou krans dik en welig is.
3. Spuitverf die krans liggies goud.
4. Sit dit op jou gunstelingplek en steek die kers aan. (Moet nooit brandende kerse sonder toesig laat nie.) Ander plantkeuses vir tafelkranse is laventel en louriertakkies
Wenk: Stel die delikate roosmaryngeur vry deur die krans te druk. Roosmaryn weer ook sekere goggas af en het kalmerende eienskappe.
Kerskrans met takbokvaring en lugplante
Jy het nodig:
- Lugplante/tillandsias
- Takbokvaring
- Dennebolle en naaldeiksaadpeule
- Lowerbloekomtakke
- Veenmos
- Klapperhaar
- ‘n Ou kous
- Spuitverf
- 2,5 mm dik draad en tang/ sykniptang
- Gomgeweer
- Tou
- Plastiekbedekte tuindraad
- *Feetjieliggies na keuse
Stappe
1. Sny een ring (ongeveer 50 mm in deursnee) van die rol draad af. Buig die punte om, haak hulle inmekaar en krimp die punte vas. Dit is jou raam.
2. Spuitverf albei kante van die draad asook ʼn paar van die dennebolle en saadpeule.
3. Draai die lowerbloekom om die raam en maak met tuindraad vas. Maak ʼn sakkie van die kous en klapperhaar vir jou takbokvaring en bind dit aan die raam vas.
4. Heg mos en saadpeule daaraan vas om die kous weg te steek. Plak dennebolle oral onderom die raam vas. Maak die gate in die krans met tillandsias toe.
5. Maak tou aan die bokant vas en hang die krans op.
6. Sit feetjieliggies by vir ekstra effek.
Hierdie krans sal lank na die feestyd nog hou. Dit kan selfs as permanente fokuspunt op ʼn veranda of binnenshuis gehou word.
Versorging: Hang uit direkte sonlig op. Misbesproei weekliks.
Kerskrans met vetplante
Jy het nodig:
- Vetplantsteggies met 2 cm lang stingels. (Ons het miniaeoniums, echeverias en graptopetalums gebruik.)
- 2,5 mm dik draad
- Sykniptang/tang
- Tou
- Lint
- Gomgeweer
- Houtkrale
- Dun tou
Stappe:
1. Sny twee ringe van jou rol draad af, die een met ʼn deursnee van 500 mm en die ander met ʼn deursnee van 350 mm. Maak die ringe deur die punte alkante om te buig en in te haak. (Dit lyk dalk onnet, maar die tou sal dit bedek.)
2. Begin draai die tou om albei rame. Namate jy vorder, sal die spanning tussen die draad en tou ʼn opening begin vorm.
3. Druk die touwindings gereeld teen mekaar vas namate jy dit om die raam draai en maak seker die draad is heeltemal bedek. Sodra die draad toe is, maak die plek los waar jy begin het en bind dit aan die ander toupunt vas. Gebruik die oorskiettou om die krans aan op te hang.
4. Begin steek die groter vetplante in die breër deel van jou krans in deur gom aan die stingels (nie die blare nie) van die plante te sit en tussen die tou in te druk. Sodoende kan die plante na die feesviering uit die krans gehaal en weer in die tuin geplant word.
5. Steek kleiner vetplante in waar die tourand smaller is. Ryg die houtkrale aan dun tou vir die kraletossels. Bind dit saam vas onderaan jou krans.
6. Maak ʼn strik met die lint en bind dit aan die bokant van die krans vas. Dié krans kan op ʼn sonnige plek opgehang word. As die feesviering verby is, kan die vetplante uit die krans gehaal en weer in ʼn pot of in die tuin geplant word.
Wenk: Gebruik ʼn steekpen om die tou deur die kraalgate te lei.