
Koeler dae wat voorlê? Gee jou patiopotte die perfekte seisoenale verfrissing!
Kikker jou patio, balkon en tuinpotte op met ‘n keuse van die beste plante wat in Mei en Junie beskikbaar is!



Gras in ’n pot
Dit is geen geheim dat die meeste siergrasse op hul beste is in die koeler maande nie – hulle is lief vir lae temperature, wat hul blaarkleure intensiveer! Dit is ook geen geheim dat grasse in die tuin een van die gewildste plant-temas geword het nie, met hul pluime wat ritmies in die wind wieg. Maar het jy al ooit daaraan gedink om van hierdie grasieuse gras as ‘n enkele eksemplaar in ‘n pot te plant?
Probeer Carex oshimensis ‘Feather Falls’, wat ’n yslike bos met geboë en hangende wit-en-groen blare vorm. Die blare van hierdie robuuste plant met sy smal blare sal nie in volson brand nie, en die veeragtige en delikate pluime wat dit produseer, bly lank behoue. Dit is immergroen, koue- en rypbestand, en sou die dun blare hul lewenskragtigheid verloor, kan dit in die lente taamlik hard teruggesny word, en sal dit vinnig herstel met nuwe groei.
Kweekwenke
- Volson tot ligte skaduwee
- Grond ryk aan kompos.
- Gereelde water en voeding vir dié in potte.
- Volwasse grootte ongeveer 50 cm x 50 cm.
Pelargoniums in potte
Suid-Afrika is welbekend vir ons fantastiese pelargoniums wat selfs die mees kieskeurige versamelaar sal bevredig, maar as jy net ‘n pragtige ‘malva’ of ‘geranium’ wil hê om kleur by jou patio te voeg, gaan vir die beste en die beste is Pelargonium ‘Calliope’, wat ‘n kruising is tussen twee inheemse spesies – die kolsuring (rankmalva) en sonale pelargonium. Die geregistreerde naam ‘Calliope’ staan vir “intense kleur wat hou”. Hierdie reeks hibriede is te kry in skakerings van rooi, oranje, pienk en rooskleur en dra semi-dubbele blomme op ‘n bolvormige en semirankende groeiwyse.
Maak ‘n knoop
• Pelargoniums hou nie van te veel water nie – laat die grond tussen watergee-sessies uitdroog.
• Pelargoniums hou van gereelde bemesting met ‘n wateroplosbare produk aangesien hulle honger plante is.
Hallo aloe!



Die kompakte en vryblommende aalwyne wat ons deesdae in potte kan plant, is meestal hibriede wat deur ywerige plaaslike telers geteel is. Dit lei tot die beste moontlike gehalte plante, met beter siekteweerstand en fantastiese blommeprag.
Hul blare is gesond, sommige met interessante dorings en skakerings van groen en grys, en hul blomme is oorvloedig in ‘n manjifieke reeks helder kleure van vroegwinter tot in die lente. Sommige blom selfs herhaaldelik.
‘Porcupine’
Hierdie pragtige dwergplant wat herhaaldelik blom met sy tweekleurige rooi-en-roomwit blomme het ons asem weggeslaan toe dit ‘n paar jaar gelede bekend gestel is. Die blommeprag bereik ‘n hoogtepunt in Mei, maar dit blom ook op ander tye gedurende die jaar. Grootte 25 cm x 25 cm.
‘Peri Peri’
Gryserige blare met dorings is in netjiese, kompakte rosette gerangskik, en dun blomtrosse in vurige oranje tot rooi blom van April tot Junie. Grootte 20 cm x 40 cm.
‘Orange Delight’
‘n Middelslag-en bosserige aalwyn met smal blare met dorings en aantreklike dieporanje blomme op lang stingels van Junie tot Augustus. Grootte 80 cm x 70 cm.
‘Sunrise’
Kompakte groepe breë, dowwe groen blare met baie helderkleurige rooi-en-geel blomme op stewige stingels. Grootte 40 cm x 40 cm.
Kweekwenke
Aalwyne hou van volson tot ligte skaduwee en goed dreinerende grond en benodig slegs water wanneer dit droog is.
Vir aalwyne in potte, gebruik spesiaal geformuleerde vetplantgrond of gewone potgrond waarby skerp gruis of riviersand gevoeg is. En ja, jy kan hulle nou en dan met ‘n stadig vrystellende kunsmis voed om hul prestasie te verbeter. Aalwyne is bestand teen koue, maar moet teen ryp beskerm word.