fbpx
TG0119pg28-1cr.jpg

Saadgekweekte boslelies


Read in English

As jy ʼn skadutuin het met ʼn menigte clivias wat goed in die lente geblom het en jy het hul sade laat aanbly, plant hulle! ʼn Mens kan nooit te veel van hierdie pragtige inheemse plante hê nie.

Plant die sade terwyl hulle nog vars is om suksesvol te ontkiem. Pluk die bessies as hulle rooi is en verwyder die moes en vliese wat die groot sade met hul pêrelglans bedek. Was die sade met ʼn oplosbare swamdoder of flou oplossing van skottelgoedwasmiddel en water.

  1. Maak ʼn diep saadkissie vol gewaste, growwe riviersand wat steeds klam maar nie druipnat is nie.
  2. Druk die sade in die riviersand in en maak seker net die helfte van die saad is onder die sand met die res wat bo uitsteek. As jy sien die sade het ʼn donker kol, plant hulle met die kol na bo. Sprinkel net ʼn bietjie water oor sodat hulle kan vassak.
  3. Bedek die saadkissie met ʼn ou glasruit, of sit dit in ʼn plastieksak, blaas dit op en bind toe met ʼn rekkie. Hou die kissie op ʼn warm plek uit direkte sonlig.
  4. Die sade behoort na ongeveer vier tot ses weke te begin uitspruit en jy sal worteltjies sien uitkom.
  5. Maak klein potjies of ʼn groot, diep kissie vol kommersiële saailingmengsel of fyn bas. Maak goed nat en laat die water uitloop.
  6. Druk klein gaatjies omtrent 2 cm diep in die groeimedium in met ʼn plantstok of stok. Plant die uitgespruite sade versigtig in die gate sonder om die wortels te beskadig. Die saadgedeelte moet ongeveer halfpad in die grond wees.
  7. Sit die saailinge op ʼn warm skaduplek en benat ongeveer twee maal per week met ʼn fyn sproei. (Hou die weer dop. As dit baie warm is, is dit dalk nodig om meer gereeld nat te maak omdat die grond nie toegelaat moet word om heeltemal uit te droog nie.)
  8. Voed die klein plantjies namate hulle groei gereeld met ʼn groeistimulant met seewier as basis soos Kelpak. Die toedien van ʼn wateroplosbare swamdoder van tyd tot tyd kan ook help om wortelvrot te voorkom.
  9. Die saailinge groei stadig en moet ongeveer twee jaar in die klein potjies of kissie bly om sterk te word voor hulle oorgeplant word.
  10. Saadgekweekte clivias blom eers na drie jaar, of meer waarskynlik na vyf jaar, maar is beslis die wag werd!
-->
The Gardener