fbpx

Timmer ’n sterk, stewige tuinbank

Hierdie mooi tuinbank van behandelde dennehout, is gebou om te hou. 

Wat jy nodig het

CCA-behandelde dennehoutplanke (38 mm x 114 mm) soos volg gesny: 

  • 3 x 2400 mm sitplekplanke
  • 1 x 1880 mm lang verspanstuk 
  • 6 x 400 mm pote 
  • 3 x 320 mm kruisverspanstukke 
  • Woodoc Water-Borne Plus-Life PRIMER
  • Woodoc Water-Borne MARINE Exterior 
  • Wood Sealer Matt Clear 
  • 5 mm x 60 mm houtskroewe 
  • 8 mm x 60 mm houtskroefboute en wassers 
  • Houtgom 
  • Verfkwas 
  • Fyn skuurpapier

Gereedskap

Sirkelskuurder, verstek- of sirkelsaag,booraandrywer met 5 mm-houtboorpunt, klampe, 6 mm-ankerspykers (gebruik as spasieerders tussen sitplekplanke), 13 mm-sok 

Stappe

1. Skuur al die hout om enige vuiligheid en growwe rande te verwyder. Wend een laag Woodoc Water-Borne Plus-Life PRIMER op al die oppervlakke aan en gee veral aandag aan die eindgrein. Laat die onderlaag heeltemal droog word. Wend een laag Woodoc Water-Borne MARINE op al die oppervlakke aan. Laat dit heeltemal droog word. Skuur al die oppervlakke liggies met fyn skuurpapier. Wend ʼn tweede en derde laag Woodoc Water-Borne MARINE op dieselfde manier aan en laat heeltemal droog word. Moenie na die derde laag skuur nie. 

2. Sit die drie 2400 mm lang stukke onderstebo plat op die vloer. Steek ʼn 6 mm-ankerspyker as spasieerder tussen elke stuk in om die opening tussen die planke ewe wyd te maak. Klamp die drie stukke saam om hulle in posisie te hou. 

3. Plaas die drie 320 mm-kruisverspanstukke oor die sitplekplanke. Maak seker elke buiterand steek alkante ewe ver verby, 300 mm van die rand af. Wend houtgom aan en skroef elke kruisverspanstuk met houtskroewe aan die planke vas (ses skroewe per verspanstuk). 

4. Saag albei punte van al ses pootstukke (400 mm) met ʼn hoek van 10° af. 

5. Plaas een poot teenaan die buitekant van ʼn kruisverspanstuk aan een kant van die bank. Maak seker die skuins snitte is die regte kant om met die boonste hoek gelyk met die sitplekonderkant en die onderste hoek plat op die vloer. Boor ʼn loodsgat deur die poot in die kruisverspanstuk in. Steek ʼn wasser in die houtskroefbout en draai dan die bout met ʼn 13 mm-sok in die loodsgat in om die poot vas te heg. Doen dieselfde met die ander pote. 

6. Neem die 1880 mm-plank (die verspanstuk). Plaas dit aan die binnekant van die eerste stel pote en laat genoeg plek vir die tweede stel pote om aan die teenoorgestelde kant vasgeheg te word. Heg die verspanstuk aan elke poot vas met behulp van ʼn loodsgat, wasser en twee houtskroefboute per poot. 

7. Heg die oorblywende drie pote volgens dieselfde metode aan die teenoorstaande kant van die kruisverspanstukke vas: loodsgat, wasser en houtskroefbout. Maak seker die hoekige snitte aan elke poot is die regte kant om. 

8. Sodra al die pote en die verspanstuk vas is, draai die bank versigtig regop op sy pote (verwys na foto op bl. 92). 

-->
The Gardener