fbpx

5 Vrae Vir Edrien Erasmus

Die Groenste Vingers is ʼn realiteitskompetisiereeks waarin vyftien van die land se topblommefoendies meeding om as Die Groenste Vingers gekroon te word. Deelnemers neem week na week aan verskillende uitdagings deel waarin elke deelnemer unieke blommerangskikkings moet ontwerp en maak waarna die beoordelaars besluit wie nog blom en wie verlep . . .

Edrien Erasmus – Aanbieder

Edrien is ʼn veelsydige Suid-Afrikaanse sangeres, aktrise en skrywer vol lewensvreugde. Sy het haar loopbaan in die vroeë 2000’s met twee onafhanklike soloalbums begin, en haar musiek het ʼn belangrike plek ingeneem in verskeie Afrikaans rolprente soos Vir die Voëls en Aalwyntyd

Sy is goed bekend in Afrikaanse musiekteaterkringe as ʼn sterk komediespeler met ʼn warm mezzo-sopraanstem, en haar musiekteaterhoogtepunte sluit in produksies soos Ons vir Jou, Ester, Liefling die Musical, Droomkind en Aspoestertjie die Pantomime, om maar net ʼn paar te noem.

Edrien het ook in verskeie televisiereekse gespeel soos Donkerland, Fluiters, Bloedbroers, High Rollers en Elke Skewe Pot, en aanhangers het haar ook haar verskyning sien maak in 7de Laan en Scandal!, en meer onlangs in Binnelanders. Sy het ook op die wye doek gespeel in Vir die Voëls, Raaiselkind en Toorbos

Edrien gee om vir mense en is passievol daaroor om ʼn beter plek van die wêreld te maak as wat sy dit gevind het.

Ons het Edrien Erasmus, aanbieder van Die Groenste Vingers, onlangs ontmoet en haar vyf vrae gevra om ʼn bietjie meer oor haar te wete te kom.  

Julle het te doen met ‘n program waar daar blomme in oorvloed is vir die deelnemers om te gebruik. Gee iemand ooit vir julle ‘n groot bos blomme as ‘n geskenk op ‘n spesiale okkasie of is mense te skrikkerig om dit te doen omdat hulle dink julle sal dit nie waardeer nie?

Ek is mal daaroor om ‘n groot bos blomme te kry en mense wat my ken, weet vir my is dit altyd “hoe bonter, hoe beter”.

Gaps jy ooit ‘n steggie van ‘n plant in iemand se tuin of erens, omdat jy dit nie kan weerstaan nie?

Ek gaps verseker ‘n steggie en probeer dit aan die lewe kry… Ek vra gewoonlik sommer vir my ma, sy het altyd die beste raad en die mooiste tuin.

Kry enige een van julle verhoogvrees as julle aan die woord is?

Maak nie saak hoe lank mens dié al doen nie, ek kry nog steeds elke keer as die kamera rol, daai senuwees wat knaag. Maar gelukkig is dit iets wat mens makliker regkry met tyd.

Hou jy jou huisplante sonder angs aan die lewe?

Ek sweer plante kan jou aanvoel, want as ek rustig voel, groei die plante, as ek gespanne voel, dan sukkel hulle maar so bietjie. Ek probeer… 

Wat is jou gunstelingblom en hoekom?

 Ek is versot op leeubekkies (ek kan dit nie weerstaan om so met die leeubekkie poppekas te hou nie) en affodille, want dit herinner my aan Alice in Wonderland en natuurlik die mooie sonneblom… Wat is daar nie om van ‘n sonneblom te hou nie? 🌻

Volg seisoen 2 van Die Groenste Vingers vanaf Woensdag 26 Oktober 2022 om 20:00 op kykNET (DStv kanaal 144).

-->
The Gardener