fbpx

5 Vrae Vir Franz Gräbe

Die Groenste Vingers is ʼn realiteitskompetisiereeks waarin vyftien van die land se topblommefoendies meeding om as Die Groenste Vingers gekroon te word. Deelnemers neem week na week aan verskillende uitdagings deel waarin elke deelnemer unieke blommerangskikkings moet ontwerp en maak waarna die beoordelaars besluit wie nog blom en wie verlep . . .

Franz Gräbe – Beoordelaar

Franz is ʼn blommemodeontwerpgenie wat, buiten blomme vir troues en korporatiewe funksies, ook ʼn volledige modereeks heeltemal van blomme, stokke en blare vir die Suid-Afrikaanse Modeweek ontwerp het. Sy Moët & Chandon-versameling was die eerste ter wêreld wat die manier verander het waarop mode internasionaal beskou word.

Sy maatskappy, Franz Gräbe Flower Couture, is aangestel deur Colin Cowie, ʼn beroemde geleentheidskoördineerder met sy kantoor in Los Angeles, om blomme te verskaf vir Oprah Winfrey se privaat Suid-Afrikaanse besoek asook vir die bekendstelling van haar Leierskapakademie vir Meisies.

Ons het Franz Gräbe, een van die beoordelaars van Die Groenste Vingers, onlangs ontmoet en hom vyf vrae gevra om ʼn bietjie meer oor hom te wete te kom.

Julle het te doen met ‘n program waar daar blomme in oorvloed is vir die deelnemers om te gebruik. Gee iemand ooit vir julle ‘n groot bos blomme as ‘n geskenk op ‘n spesiale okkasie of is mense te skrikkerig om dit te doen omdat hulle dink julle sal dit nie waardeer nie?

Jy is 100% in die kol! Niemand waag dit ooit nie. Ek veronderstel dit voel vir mense soos om ’n brood vir ’n bakker, of vars mielies vir ’n mielieboer te gee.

Gaps jy ooit ‘n steggie van ‘n plant in iemand se tuin of erens, omdat jy dit nie kan weerstaan nie?

Jy’t my uitgevang! Ek doen die permanent. Ek kan dit nie weerstaan nie. En om my optrede te regverdig, mense gee nie graag steggies nie. (Ek dink nie dis waar nie. Swak verskoning!).

Vir wie is jy die bangste as jy blomme vir ‘n troue moet doen. Die bruid, haar ma, of die aanstaande skoonma?

Oe, dis ’n vreesaanjaende driemanskap wat jy nou genoem het! Ek doen ALTYD eers ’n voorbeeld sodat hulle presies kan sien wat hulle gaan kry, maar die een wat die rekening betaal het altyd my simpatie.

Die blommekuns wat jy beoefen, is nie sommernet vir in ‘n pot druk nie, dit berus op meganika. Het jy al ooit ‘n instellasie gedoen wat meegegee het voor die funksie nog kon begin?

Dank die hemele nog nooit. Jy’t vergeet ek is Afrikaans. Ons is altyd bang dat die kliënt ontevrede gaan wees. Dis seker ’n oer-oue minderwaardigheids kompleks van ons nasie so, ek (ons) oor-presteer atyd en kompenseer gewoonlik vir die ergste en die onvoorsiene.

Wat was die begroting vir die blomme by die Gupta-troue?  

Ja! Ek moes kon dink dat jy my wil uitvang op een of ander manier! Natuurlik mag ek NOOIT sulke inligting bekend maak nie, hoewel ek brand om dit te doen. Ek het nooit publieke fotos van die funksies gesien nie, so verbeel jou een oggendfunksie rondom die enorme groot swembad van Sun City – die hele swembad geraam in een onophoudelike rand-rangskikking, en die palmbome waaraan daar 4-meter stringe van blomme met kristalle tussen in hang. Op die tafels is eksotiese rangskikkings wat jou na jou asem laat snak en op die swembad dryf reuse embleme en Hindu-simbole wat met honderd-duisende blomme uitgelê is… Onthou dis net EEN van die funksies! So dink nou hoeveel sulke oormaat kan kos, maar sit sommer nog BAIE geld daarby want jou raaiskoot sal verseker nog te nederig wees. Maar een ding MOET en WIL ek baie graag onder jou aandag bring… Hulle het my en al my personeel soos konings behandel. Beskaafde en ordentelike behandeling soos ek nooit weer beleef het van enige kliënt nie. Ek veronderstel dis ’n dubbel snydende swaard… Aan die een kant hierdie wonderlike gasvrye mense en aan die ander kant het jou belasting geld my rekening betaal! Nou ja, daar het jy dit!    

Volg seisoen 2 van Die Groenste Vingers vanaf Woensdag 26 Oktober 2022 om 20:00 op kykNET (DStv kanaal 144).

-->
The Gardener