fbpx

5 Vrae Vir Leon Kluger

Die Groenste Vingers is ʼn realiteitskompetisiereeks waarin vyftien van die land se topblommefoendies meeding om as Die Groenste Vingers gekroon te word. Deelnemers neem week na week aan verskillende uitdagings deel waarin elke deelnemer unieke blommerangskikkings moet ontwerp en maak waarna die beoordelaars besluit wie nog blom en wie verlep . . .

Leon Kluge – Beoordelaar

Leon is ʼn internasionaal erkende landskapontwerper, kunstenaar, botanis, aanbieder en skrywer wat in Laeveldse botaniese tuine gebore en getoë is. Hy het al verskeie pryse oral ter wêreld gewen, waaronder Goue Medaljes vir sy tuine by die Chelsea-blommeskou in 2010 en 2012.

Leon het ook goud gewen by die Shenzhen Internasionale Tuinskou in China – die eerste Suid-Afrikaanse kunstenaar wat dié prys by hierdie wêreldklastuinskou kon wen.

Leon is bekend vir sy moderne en eietydse landskappe, volhoubare gemeenskapsprojekte en spesialisering in vertikale tuine.

Ons het Leon Kluge, een van die beoordelaars van Die Groenste Vingers, onlangs ontmoet en hom vyf vrae gevra om ʼn bietjie meer oor hom te wete te kom.

Julle het te doen met ‘n program waar daar blomme in oorvloed is vir die deelnemers om te gebruik. Gee iemand ooit vir julle ‘n groot bos blomme as ‘n geskenk op ‘n spesiale okkasie of is mense te skrikkerig om dit te doen omdat hulle dink julle sal dit nie waardeer nie?

Ek dink mense is maar bietjie skrikkerig om vir my blomme te gee, want hulle dink ek is dalk bietjie krities, maar als behalwe- ek is lief vir alle blomme maak nie saak watse kleur of geur nie- maar as jy my baie gelukkig wil sien, gee dan liewerste vir my ‘n plantjie wat ek in die tuin kan plant. 

Gaps jy ooit ‘n steggie van ‘n plant in iemand se tuin of erens, omdat jy dit nie kan weerstaan nie?

Ek is defnitief skuldig aan ’n paar saadjies gaps. Ek weet nie van een ernstige tuinier wat nog nooit ’n saadjie in sy broeksak weggesteek het nie. As dit kom by steggies sal ek eers vra want so vriendelik as wat tuiniers is, so kwaai kan hulle ook wees as hulle jou vang met ’n stokkie in die sak.

Het jy al die Koningin van Engeland se hand geskud en met haar gesels by Chelsea?

Ek was bevoorreg om al in die koningin se geselskap te gewees het by Chelsea, maar dit is so vinnig en deurmekaar dat voor jy nog jou kurtsie klaar het, is die geselsie ook verby. Maar, ons tuine by Chelsea was baie gewild onder die koninklikes. 

Het jy al ooit ‘n vinger raakgesny met ‘n blomskêr of ‘n snoeiskêr?

Daar is nie ’n vinger of toon aan my anatomie wat nog nie deurgeloop het nie! Partykeer raak ek bietjie te gemaklik met ’n skêr en dan wys hy my maar net weer wie eintlik baas is. 

Dit moet moeilik wees vir die deelnemers om ingewikkelde blomuitdagings voor die beoordelaars en kameras te doen. Het een al in trane uitgebars of die handdoek ingegooi? 

Dit is inderdaad moeilik om onder sulke druk te werk, maar dit is deel van die bedryf, en as jy besig is met ’n troue of ’n ander okkasie is daar ook streng tydfaktore wat moet gehandhaaf word, om nie te praat van die bruid se ma wat konstant oor jou skouer loer en kopskud nie. Jy byt maar op jou tong en maak of dit seepglad verloop, al huil jy ’n traan of twee binne toe.  

Volg seisoen 2 van Die Groenste Vingers vanaf Woensdag 26 Oktober 2022 om 20:00 op kykNET (DStv kanaal 144).

-->
The Gardener