Ontmoet Die Wenner Van Die Groenste Vingers Seisoen 2
Stefan Smuts, wenner van Die Groenste Vingers Seisoen 2, se liefde vir blomme kom al van ‘n baie jong ouderdom af waar hy as kind gereeld sy ouma gehelp het met blomdekorasies vir funksies. Op sestienjarige ouderdom het hy self al die blomme vir ń troue gedoen. Vandag het Stefan sy eie blomme- en dekorbesigheid genaamd “Black Tulip Floral & Décor Styling” waar hy spesialiseer in blomme en dekorstilering vir troues en enige ander funksies. Stefan se inspirasie en styl is verseker geïnspireerd deur ons Suid-Afrikaanse / Afrika natuur en hy beskryf sy styl as “fine art” afgerond met elegansie en drama. Stefan is dol daaroor om gebruik te maak van ons land se aardse elemente, produkte, teksture en kleur. Droë elemente en grasse is sy gunstelinge.
Ons het Stefan Smuts, wenner van Die Groenste Vingers Seisoen 2, onlangs ontmoet en hom tien vrae gevra om ʼn bietjie meer oor hom te wete te kom.
Toe jy as deelnemer aan Die Groenste Vingers gekies is, het jy van die begin af ʼn wedstrydplan gehad?
Ek het nie noodwendig ‘n wedstrydplan gehad nie. Ek het nie geweet wat verwag gaan word of wat die uitdagings gaan wees nie, so my sterkste plan was om my beste te gee en te vertrou in wat ek kan doen. Ek het wel my strategiese plan ontdek na my eerste uitdaging. Skuif jou persoonlike smaak en styl opsy en doen wat van jou gevra word om die uitdaging te voltooi. Ek dink dit is definitief een van die strategieë wat my deurgedra het tot die einde.
Wat was vir jou die uitdagendste deel van die kompetisie?
Daar was twee. Een van my grootste uitdagings was die skilderyuitbeelding, omdat ek gesukkel het om inspirasie van die skildery af te trek. Dit was vir my ‘n moeilike kleurpalet en ook glad nie my styl nie. My ander groot uitdaging was die loopplankrokke wat deur modelle gedra moes word. As ‘n man het ek nie regtig die nodige ervaring gehad as dit kom by die ontwerp en pas deel nie, en dan was daar natuurlik ook die druk van die titel “wenner van die groenste vingers seisoen 2”. Die ironie was dat dit die einste twee uitdagings was waar ek as wenner weggestap het, wat my geleer het dat ek beter presteer en goed kan werk onder druk.
Wat was die grootste fout wat jy in een van die uitdagings gemaak het waar jy geïmproviseer het?
Ek het een van die mini-skeppings heeltemal misverstaan en het die tyd onderskat. My blomkeuse was verkeerd vir die ontwerp en ek het die verkeerde styl gekies en kon nie my mini-skepping in die toegelate tyd voltooi nie. Ek het probeer improviseer om van die blomstele te gebruik om my oasis weg te steek weens te min blomme, maar ongelukkig was my tyd verstreke voordat ek kon klaar maak. Ek is net dankbaar dit was nie ‘n uitkloprondte nie.
Watter raad het jy vir toekomstige deelnemers aan Die Groenste Vingers?
- My belangriskste wenk is om dit net te geniet, dit is immers hoekom ons doen wat ons doen.
- Luister AANDAGTIG na wat van jou verwag word.
- Moet nie jouself onderskat nie.
- Fokus op jou eie werk en instink, en moenie rondkyk nie.
Vir watter beoordelaar was jy die bangste?
Myself. Ek is krities oor my werk en dit vat baie om myself te beïndruk. Die tydbeperkings was vir my ‘n uitdaging omdat daar nie tyd was om te hard op jouself te wees nie. Ek was nie geïntimideerd deur Leon of Frans nie, inteendeel, ek was bitter opgewonde om hulle te kon ontmoet. Dit was ‘n voorreg om komplimente sowel as kritek van hulle af te kon ontvang.
Watter blom is die moeilikste om in ʼn rangskikking te gebruik?
‘n Krismisroos (Hydrangea) is vir my een van die mees uitdagendste blomme om mee te werk, omdat dit so vinnig verlep en deur ‘n hele proses van behandeling moet gaan om dit net aan die lewe te hou. Dit verg baie aandag wat omgesit word in tyd om te verseker dat die blom oorleef vir die geleentheid.
Skep jy blommekunsmeesterstukke tuis of druk jy sommer net ʼn bos blomme in ʼn pot en klaar?
Ek is defnitief nie die persoon wat ‘n bos blomme sommer net so in ‘n pot sal druk nie. Met my besigheid “Black Tulip Floral & Décor Styling” is daar altyd ‘n blom of twee oor waarmee ek dan sal speel. Ek glo nie blomme moet ooit afgeskeep word deur net in ‘n pot gedruk te word nie.
Was jy daaraan skuldig dat jy die laaste bos blomme weggeraap het toe jy naakte begeerte in die oë van jou naaste mededinger gesien het?
Ek is nie seker nie. Ek het net gefokus om te vat wat ek kon en genoeg daarvan om my uitdagings te kon voltooi tot die beste van my vermoë. As ek nou terug dink, was ons almal ‘n bietjie skuldig om die beste blomme moontlik vir die uitdagings eerste te gryp. Dit was immers ‘n kompetisie.
As jy alles weer kon doen, wat sou jy anders gedoen het?
Met meer selfvertroue, en dit is al.
Noudat jy as wenner van Die Groenste Vingers gekroon is, wat is jou planne vir die toekoms?
My doelwit is om my besigheid uit te brei. Ek het besluit om met my wenprys dekor items aan te koop om met my eie dekor verhuringsbesigheid ook te begin (Black Tulip Edition) wat deel vorm van my blomme en dekor (Black Tulip Floral & Décor Styling). Ek dink daar is definitief ‘n gaping in die mark hiervoor.
Facebook: Black Tulip Floral & Decor Styling
Instagram: Black_Tulip_Styling