fbpx
Calla Lilies

Gelukbringers

Terwyl jy deur ons land reis, tref jy dikwels groepe Zantedeschia aethiopica aan met hul groot groen blare en wit skedes wat trots in ʼn vleiland of moerasgebied staan waar die risome voordeel trek uit die nat toestande en ryk grond wat hulle immergroen hou.

Nog voor Van Riebeeck ʼn verversingspos aan die Kaap die Goeie Hoop gestig het, het dié aronskelk (arum lily in Engels) die aandag van botaniste getrek en in die 17de eeu sy pad na Europa gevind. Die bladwisselende somerreënvalspesies Z. pentlandii en Z. rehmannii met hulle smal swaardvormige blare het egter ook aandag getrek en uit hulle het NieuSeelandse en Nederlandse kwekers fantastiese aronskelke in die ongelooflikste kleure gekweek wat wêreldwyd gewild is en na verwys word as calla lilies. Hierdie wonderlike plante kan in die tuin gekweek word, maar is bekender as huisplante om ʼn tikkie kleur en helderheid binnetoe te bring.

Hoe om hulle binne te kweek

• Plant dit in ryk, goed dreinerende grond met bygevoegde kompos en dreineermateriale soos fyn bas en vermikuliet.

 • Gee hulle volop water. Hou die grond klam maar nie versuip nie.

• Sit dit op ʼn helder verligte plek uit direkte sonlig, weg van verhitting of lugversorgingseenhede en uit trekke.

• Voed gereeld – minstens maandeliks in die groeityd – met ʼn gebalanseerde vloeibare plantvoedsel.

• Gee minder water en kos wanneer die plant in die herfs begin terugsterf en bêre die potte op ʼn koel, donker plek tot die lente toe. Sny alle dooie loof en stingels af. Jy kan ook die risome uithaal en bêre om weer te plant.

Probleemoplossing

Met behoorlike versorging is dit maklik om na gekleurde aronskelke om te sien. Soms kan dit egter gebeur dat hulle meer sorg nodig het. Hier is ʼn paar algemene probleme en hoe om dit reg te stel.

• Blomme wat hang – Oormatige vog kan tot wortelvrot lei en maak dat die plantstele slap raak. Dit veroorsaak weer dat die blomme hang. Verander die natmaakskedule, gee minder water en kyk na die dreinering om seker te maak die water loop vrylik uit wanneer natgemaak word en dat water nie in die pierings opgaar nie. Blomme kan ook hang as die plante te min water kry. As die blare van groen na bruin verkleur, is die probleem te min water, wat maklik is om reg te stel.

• Vergelende blare – Dis ʼn teken dat die plante nie genoeg stikstof kry nie. Sonder stikstof kan hulle hul kleur verloor, geel word en kan hul groei verpot wees. Voed met ʼn stikstofryke misstof en verwyder alle vergelende blare onder. As dit nie die toestand verbeter nie, voeg ʼn ysterchelaatproduk by vir die behandeling van chlorose. Wees egter daarvan bewus dat ʼn oormaat stikstof kan veroorsaak dat die plante te veel blare en geen blomme het nie, en dit kan daartoe lei dat hulle slap raak. Dis net ʼn korttermynoplossing en die gewone voedingskedule moet ʼn beter gebalanseerde misstof bevat.

• Blomme verloor kleur – As meerjariges is hierdie plante op pad na hul rustyd in die herfs en begin hul kleur verloor of groen en bruin word. As dit nie die seisoen vir dié natuurlike verloop is nie, kry jou aronskelke dalk nie genoeg lig nie. Verskuif hulle na ʼn helderder plek in indirekte lig of vir ʼn tydjie na die patio toe. Hou ook by om hulle gereeld maandeliks te voed.

• Blomme wat oorhel – Zantedeschiaplante is fototropies nes sonneblomme en sal na die son toe keer. Ten einde die stele regop te hou, draai gereeld die potte.

Wenk:

Molle is lief vir aronskelkrisome. As jy dit in die tuin plant in ʼn gebied wat vir molle bekend is, is dit die beste om hulle in hul potte direk in die grond te plant sodat die molle nie by die risome kan uitkom nie.

Interessante feite

• Die naam Zantedeschia is vernoem na Giovanni Zantedeschi (1773–1846), ʼn Italiaanse botanis en geneesheer, wat baie in gemeen gehad het met die Duitse botanis en geneesheer Kurt Sprengel (1766–1833). Zantedeschia aethiopica dra die afkorting ‘Spreng’ ná sy naam omdat die plant deur Kurt Sprengel vernoem is. Die twee botaniste het ʼn tyd lank met mekaar gekorrespondeer.

 • Aronskelke word by troues beskou as gelukbringers vir ʼn gelukkige getroude lewe as hulle in die ruikers aanwesig is. Hulle is ʼn gewilde keuse vir bruide, en is volgens berigte derde op die lys na rose en egte lelies.

 • Die naam calla beteken “pragtig” in Grieks en vandag is hulle steeds ʼn simbool van prag.

Hoekom huil aronskelke?

Sommige plante vertoon druppelvorming (guttasie) wat die afskei van waterdruppeltjies deur plantporieë is. Dit gebeur dikwels wanneer die grond versuip is. Wanneer die grond klam is, bou druk om die wortels op en die plant hanteer dit deur sy huidmondjies op die blaaroppervlak oop te maak en water vry te stel om die druk te verlig. Snags bly die huidmondjies toe daarom maak die plant dan ʼn ander soort porie, genaamd ʼn hidatode of waterporie, oop en skei sap deur dié porieë uit. Hierdie verskynsel beteken nie dat die plant te veel water kry nie, maar dat die water te lank in die grond bly, wat kan wees as gevolg van swak dreinering of verdigte grond. Stel die dreineerprobleem reg of pot dit oor in vars grond sodat dit kan afneem.

-->
The Gardener