fbpx

Dit is Primula-Tyd!

’n Wye verskeidenheid van primula-variëteite gee kleur aan enige skadukol in die tuin.

Sommige soorte primulas (ook sleutelblom genoem) is geharde meerjarige plante wat koueverdraagsaam is, terwyl ander variëteite vol geite is en eerder as lank blommende jaarplante beskou kan word. Hulle kan ook op meer beskutte plekkies as kleurryke potplante gebruik word. Terwyl ons steeds die helder kleure van Primula acaulis en die ligte, feeagtige Primula malacoides bewonder, hét ons hul hoedanighede in die verlede al gereeld besing. Dit is dalk tyd om die kollig op ’n paar ander te gooi wat kleur aan die tuin kan gee.


Primula obconica

Dié primulas se kleurpalet verskil heeltemal van die ander en is in lieflike skakerings van salm, persblou, wit, oranje, rosig en magenta beskikbaar. Hulle het ’n geronde vorm en spog met ’n oorvloed blomme op kort stingels. Die heldergroen blare dien as basis vanwaar die blomstingels groei. Hulle kan ook as dekoratiewe huisplante gebruik word.  Hulle verkies koel, skaduryke areas en moet verkieslik in ryk grond geplant word wat goed dreineer. Gee heelwat water en moenie toelaat dat die grond heeltemal uitdroog nie, maar pasop ook vir te veel – dit kan wortelvrot veroorsaak. Dien elke 1-2 weke gebalanseerde kunsmis toe tydens die aktiewe groeiseisoen. Dooie blomme moet gereeld afgesny word om nuwe bloei te bevorder, en wees op die uitkyk vir plae soos plantluise en rooispinmyt. Vra gerus jou plaaslike kwekery of hulle ‘Libre’ en dieOriginal F1’-reeks beskikbaar het.

LET WEL: Wees bedag daarop dat Primula obconica, ook bekend as Duitse sleutelblom of giftige primula, sap produseer wat die vel kan irriteer en dus versigtig hanteer moet word. Hou weg van kinders en troeteldiere.


Primula elatior

Vir ’n skouspel in die vroeë lente, probeer gerus Primula elatior in koel en vogtige toestande met ’n bietjie skadu. Reekse soos ‘Piano’ bied groot opvallende blomme in helder kleure soos diepblou, skelpienk, sonnige geel en skerp wit. Ander kombineer verskillende kleure – almal met ’n perfekte geel kern. Hulle verkies gesonde grond wat goed dreineer, ’n goeie deklaag om die vog te bewaar, en gereelde water sonder dat hulle deurweek raak. Hulle is relatief plaag- en siektevry. Blomme moet net af en toe verwyder word om nuwe blomvorming aan te moedig. Voeding kan nou en dan in die groeiseisoen toegedien word. Hulle kan ook in die vroeë herfs geplant word.

READ MORE: Dompel jouself in ‘n wêreld van kleur en leer meer oor Freddie se gunstelinge


Wees op die uitkyk vir

Petunia ‘Sophistica’ ’n Mens kan nie anders nie as om die kleure van dié pronkpetunias as “ontwerpkuns” te beskryf: die kombinasie van ‘Blackberry’, ‘Lime’ en ‘Lime Bicolor’ verleen sofistikasie en styl aan enige pot.


Viooltjies

Plant nou viooltjies in elke hoekie of vaal kol vir kitskleur wat die hele lente lank sal hou. Die kleure bekoor en die plante is sonnig en moeiteloos.


Gesiggies en viooltjies – wat is die verskil?

Behalwe vir die feit dat viooltjieblomme kleiner as gesiggies is, het viooltjies twee blomblare wat opwaarts wys en drie, afwaarts. ’n Gesiggie het vier blomblare wat na bo wys en een wat ondertoe kyk.

Aan jou gebring deur die Beddingplantkwekersvereniging (BPGA)

Advertisements
-->
The Gardener