fbpx
Bedding plants

Helder Somervullers

Dis tyd vir kleur! Beddingplante is ’n maklike manier om dadelik kleur in jou tuin of in ’n houer te kry, en daar is ’n beddingplant vir elke kol, of dit nou in die son of in die skadu is.

Coleus

Vir helder blaarkleur in skaduagtige areas, behoort coleus bo-aan die lys te wees. Die helder kleure herinner ons aan lig, en sommige variëteite bied ‘n kombinasie van kleure wat enige tuinier opgewonde sal maak. Coleus kan ook in volson geplant word. Daar is byna nêrens in die tuin waar hulle nie sal aard nie. Botanikuste het Coleus scutellarioides na Solenostemon scutellarioides verander, maar hulle kan steeds in ʼn kwekery as coleus gevind word.

Nuwe variëteite

Bestudeer gerus die nuwe variëteite in die ‘Premium Sun’ reeks genaamd ‘Crimson Gold’, ‘Pineapple Surprise’ en ‘Watermelon’ – mooi kleure wat enige tuin sal opkikker.

Hoe om te kweek

Grond: Goed gedreineer met bygevoegde kompos.

Lig: Volson of gedeeltelike skadu.

Water: Maak goed nat, veral in houers.

Voed: Organiese bemesting tydens die plantproses. Vloeibare kunsmis in die somer.

Winter: Nie rypbestand nie. Skuif houers binnenshuis.

Snoei: Snoei wanneer die plant langbenig word en knip die groeipunte van jong plante uit om bosserige plante met meer blare te verkry.

Lewisia

As jy ‘n tuin met sanderige grond en warm toestande het, dan is lewisias net die plante vir jou. Hulle vorm deel van die portulaca-familie, en is vetplante met die mooiste blomme in pienk, perskekleur, geel, rooi en wit en blom gedurende die lente en somer.

Variëteite

Die ‘Elize’-reeks is bekend daarvoor dat dit met ‘n lang blomseisoen floreer, en dit kan ook droogte en hitte verdra. Lewisias is uitstekende houerplante en kan selfs binnenshuis in ‘n helder verligte vertrek  gebruik word. Wees op die uitkyk vir die robynrooi en ultraviolet kleure.

Hoe om te kweek

Grond: Skraal, goed dreinerende grond.

Lig: Volson tot ligte skadu.

Water: Matig, met ʼn afname in die winter.

Snoei: Verwyder dooie en verlepte blomme om meer blomme aan te moedig.

Portulaca

Soos lewisias, hou portulacas van die hitte en het hulle baie min aandag nodig. Hulle kan in byna enige grond aard, solank dit goed dreineer. Hulle het die gewoonte om stadig te versprei en die plante se vlesige blare kan gapings bedek en oor rotse rank. Op sonnige dae kan hulle die hele omgewing met helderkleurige blomme ophelder.

Variëteite

Jy sal baie verskillende variëteite by jou plaaslike kwekery vind, sommige met enkelblomme en ander met meer roosagtige semi- of dubbelblomme in kleure wat wissel van geel, wit, rooi, pienk en oranje, terwyl sommige tweekleurig kan wees.

Hoe om te kweek

Grond: Sanderig.

Lig: Volson anders blom hulle nie.

Water: Minimaal, op grondvlak. Droogtebestand.

Gebruik: Grondbedekking. Winter: Vatbaar vir ryp.

Pretfeit

Portulacas staan ook bekend as tydblomme in sekere dele van die wêreld omdat jy jou horlosie daarvolgens kan stel. Hulle sal elke dag op dieselfde tyd oop en toe maak – dit behoort die kinders in die tuin besig te hou.

Celosia (hanekamme)

Nog ‘n reeks helderkleurige beddingplante wat ideaal is vir somertuine, is celosias. Die pluime van hierdie pronkende blomme, word in die somer geproduseer en is werklik indrukwekkend, veral as hulle in massas geplant word. Hulle groei in volson en hou van ‘n bietjie middagskaduwee en is oulike potplante om binnenshuis te hê wanneer die weer kouer word en daar ‘n kans op ryp is.

Variëteite

Daar kan uit ‘n verskeidenheid hibriede soos ‘Armor’, ‘Ice Cream’ en ‘Kimono’ gekies word in kleure soos heldergeel, rooi en pienk, maar kyk ook uit vir ‘Dracula’ wat soos ʼn gapende kakebeen lyk met sy donkerpers tot rooi hanekam bokant groen en rooi loof. Dit is ‘n pragtige snyblom en sal ‘n rukkie in ‘n vaas hou.

Hoe om te kweek

Grond: Ryk met bygevoegde kompos.

Lig: Volson. Water: Hou goed natgemaak.

Voed: Voed gereeld elke 2 weke met vrugte- en blomkunsmis of vloeibare misstof.

Snoei: Sny dooie en verlepte blomme gereeld af om meer aan te moedig.

Aan jou gebring deur die Beddingplant-kwekersvereniging (BPGA)

Find a garden centre near you:

-->
The Gardener