Kleurparade



Die somer sorg vir die helderste eenjariges van die jaar. Plante wat in die son floreer en kleurryke opsies vir die skaduwee – dit is van die beste variëteite om nou te plant.
Zinnias
Vir die sonnige tuin sal zinnias of jakopregoppe bewys dat hulle taai is en die hele somer lank blom. Die reeks kleure wat deesdae beskikbaar is, is verstommend – dramatiese pienk, helderoranje en sonnige geel is onder die wye reeks om van te kies.
Variëteite
- ‘Profusion’ is ‘n variëteit wat deurlopend blom met ‘n reeks pragtige kleure. Hulle hanteer koue en warm weer sowel as hoë humiditeit. Uitstekende weerstand teen siektes. 25 cm x 38 cm.
- Die ‘Zahara’-reeks het groot blomme en goeie weerstand teen siektes. Hulle het lae waterbehoeftes en is ideaal vir warm, droë toestande. 30 cm x 45 cm.
- ‘Double Zahara’ het al die eienskappe van ‘Zahara’ met groter dubbel blomme in helder kleure. 40 cm x 50 cm.
- ‘Zesty’ het dubbelblomme op sterk plante met ‘n ronde groeiwyse. Baie goed vir houers. 46 cm x 61 cm.
Zinnias verkies
- Goed dreinerende, ryk grond en om in warm weer geplant te word.
- Gereelde natmaak maar nie deurdrenking nie.
- Ruimte vir goeie lugvloei.
- Sny vir die vaas en verwydering van dooie blomme.
- Ligte bemisting



Fuschias
Fuchsias is gewild oor hul elegante, hangende blomme en floreer in koel, gedeeltelik
skadukolle met beskerming teen die fel middagson. Hulle groei goed in houers en hangmandjies, waar die ballerina-blomme skouspelagtig oor die rande kan tuimel.
Fuchsias verkies
- Ryk, goed dreinerende grond met baie bygevoegde kompos.
- Vogtige grond, maar nie papnat nie.
- Terugknip van nuwe lote om die plante bosagtig te maak.
- Gereelde voeding met ‘n vloeibare kunsmis deur die somer.
Kyk na ‘Bella’ – Hierdie pragtige reeks bevat fuchsias met meisiename wat deur die somer op kompakte, netjiese plante blom.



Polka Dot Plante
Hypoestes, algemeen bekend as ‘polka dot’-plante, maak treffende beddingplante met hul kleurryke, gespikkelde blare. Hulle kan in potte geplant word vir binnenshuise gebruik of by terrariums gevoeg word, maar hulle kan ook in tuinbeddings onder hoër eenjariges geplant word om te voorkom dat die fel son die blare brand.
Variëteite
- ‘Confetti’ is in ‘n reeks kleurryke blare te kry wat uitstekende binnenshuise plante en geskenke maak. 10 cm x 15 cm.
- ‘Splash’ is ‘n reeks hitte- en skaduwee-verdraagsame plante met eenvormige patrone op die blare en ‘n ronde, spreidende groeiwyse. 10 cm x 36 cm.
‘Polka dot’-plante verkies
- Warm toestande en gedeeltelike skaduwee.
- Goed dreinerende, vrugbare grond.
- Konstant vogtige grond, maar nie deurdrenk nie.
- Gereelde terugknip van die groeipunte om ‘n voller, bosagtige vorm aan te moedig en te voorkom dat die plante langbenig raak.
- Voeding elke paar weke met ‘n gebalanseerde kunsmis.



Cupheas
Cupheas word beskryf as geharde plante wat min onderhoud vereis en wat die hele seisoen kleur verskaf. Hulle is uitstekend vir die omranding van blombeddings, maar is ook uitstekende houerplante. Hulle is uitstekende plante om bestuiwers soos bye en skoenlappers te lok.
Cupheas verkies
- Volson, maar kan ligte skaduwee verdra.
- Goed dreinerende grond met kompos verryk.
- Gereelde water om die grond vogtig te hou, veral gedurende warm tye.
- Sodra gevestig, kan hulle redelik droogte verdra.
- Voeding nou en dan met ‘n gebalanseerde kunsmis.
- Ligte snoei om ‘n kompakte, bosagtige vorm te handhaaf.
Variëteite
- ‘Sweet Talk’ is ‘n Cuphea procumbens-variëteit met baie helderkleurige blomme wat bye en voëls met sy ryk nektar lok. 20 cm x 35 cm.
- ‘Pink Shimmer’ is ‘n Cuphea ramosissima-variëteit met skakerings van pienk en pers blomme wat deur die somer blom. ‘n Baie mooi, klein plantjie wat sy glans deur die seisoen behou en dis nie nodig om sy dooie blomme te verwyder nie. 35 cm x 45 cm.
Aan jou gebring deur die Beddingplant-kwekers vereniging (BPGA)











