fbpx

Lentejaarplante aan die blom

Kleurryke jaarplante vir son en skadu roep ʼn gevoel van welwees op namate hulle in die lente begin blom. Hoe meer blomme, hoe meer vreugde!


Cineraria

Die kleurryke blommende meerjariges is ʼn kitsmanier om sterk en helder kleur op ʼn skaduplek in ʼn tuin met spikkelskadu te kry. ‘Resort Mix’, die minsorgreeks van die cineraria of asblom soos hulle ook genoem word, word eerder soos jaarplante behandel en kan teruggesny word vir ʼn ekstra blommedrag. Hulle groei besonder sterk en het ʼn kompakte geronde vorm met blomme wat diepblou, magenta, violet en verskeie tweekleure is. Hulle kan ook in potte geplant word vir binne en gedy in koeler klimaatstreke.


Kweek

Die reeks vaar goed in die vroeë lente, na die gevaar van ryp verby is en voor die temperatuur te hoog raak, en hou van ʼn plek in halfskadu in die tuin. Waar ryp voorkom, gebruik hulle liefs as patioplante of kweek binnenshuis in helder lig vir lieflike kleur. In rypvrye gebiede sal jy hulle aantref as saailinge of in potte en reeds aan die blom. Te veel skadu lei tot langbenige plante met min blomme en helder son sal hulle skroei. Plant hulle in ryk grond met volop kompos in en maak seker dit dreineer voldoende. Hulle hou van volop water om goed te blom, maar is ook vatbaar vir wortelvrot weens oorbenatting. Voed maandeliks met ʼn vloeibare plantvoedsel.


Hou jou oë oop vir

Sunflower ‘Sunbuzz’

Die kompakte ‘Sunbuzz’ met kleiner blare val op met sy heldergeel blomme en die feit dat dit ook in potte geplant kan word. Dié sonneblom blom onophoudelik en die blomme hou lank van vroeglente tot in die herfs. Hulle het ʼn regop groeiwyse en word 30 cm tot 50 cm hoog.

Digitalis ‘Dalmation’

Vir hoë are in ʼn pragtige kleur aan die agterkant van ʼn blombedding is vingerhoedjies net die ding. Die ‘Dalmation’– reeks het ʼn verskeidenheid sagte kleure soos perske en room en word ongeveer 40 cm tot 50 cm hoog. Elke Dalmation-gekolde buisagtige blom is ʼn by- en skoenlappermagneet. Hulle is bekend daarvoor dat hulle baie maklik is om te versorg met net die basiese behoeftes – son of halfskadu, gereelde natmaak, uitbreek van dooie blomme vir meer blomme en ʼn goeie deklaag.

Digitalis ‘Camelot’

Die hoër vingerhoedjie in die ‘Camelot’- reeks (1 m – 1,2 m) het groot blomare wat heelsomer aanhou blom met kleure soos room, laventel, roos en wit. Hulle is treffend na agter in ʼn tuinbedding, gaan goed saam met ander plante en is ʼn moet vir ʼn kothuistuinstyl. Ook maak hulle uitstekende houerplante vir groot potte uit. Plant hulle in vol- of halfskadu, hou hulle nat en verwyder gereeld dooie blomme. Sny hulle terug ná die eerste blomme af is, gee die plant ʼn goeie voeding met ʼn gebalanseerde misstof en kyk hoe nog blomme ontwikkel.

Aan jou gebring deur die Beddingplant-kwekersvereniging (BPGA)

Find a garden centre near you:

-->
The Gardener