’n Plek In Die Son Vir Vincas
Sluit by Freddie aan om uit te vind wat nuut en mode is in die wêreld van blomplantjies. Die volgende blomgunstelinge is hierdie maand landwyd beskikbaar by tuinsentrums en net reg om in jou tuin of in ‘n pot geplant te word.
Spesiale eienskappe
- Hitte- en droogtebestand.
- Plaag- en siektebestand.
- Lok skoenlappers.
- Kompakte plante met blink blare.
- Jy hoef nie die dooie blomme af te knip nie.
As eenjarige plante in kouer streke en meerjarige plante in warmer klimate, is vincas perfek.
Of jy nou ‘n spasie in die tuin het of net ‘n pot of twee, sal vincas ‘n doel vervul met hulle glansende groen blare en ‘n groot keuse in blomkleur. Hulle het boonop ‘n lang blomseisoen tot aan die einde van die herfs.
Wat hulle nodig het
- Volson tot halfskadu.
- Skraal grond (ons sê dit nie gereeld nie) mits dit goed dreineer. Grond wat te vrugbaar is inhibeer blomproduksie. Die dreinering is belangrik om wortelvrot te voorkom – een van min probleme wat hulle met enige tipe plae of siektes het.
- Beperkte water (weer eens nie iets wat ons baie sê nie). Los dit vir die reënval of maak een keer per week by die wortels nat.
- Knip die plante gereeld terug om bosagtige groei aan te moedig.
- Hulle baat met ‘n vloeibare misstof so elke twee tot drie maande. Vincas groei tot ongeveer 35 cm hoog en wyd. Alhoewel vinca-alkaloïede gebruik word om sommige medisyne te maak, moet jy nooit jou tuinvincas vir enigiets anders gebruik as om net na te kyk nie, aangesien dit giftig is.
Variëteite
- ‘Titan’ – groter blomme in ‘n reeks van rooi, pienk, pers en wit.
- ‘Pacifica’ – kragtige bloeiers in helder en sagte kleure. Die blomme bedek die plant sodat jy nie eers ‘n gaping kan sien nie.
LET WEL: Die spesie Catharanthus roseus (voorheen Vinca rosea) met die volksnaam begraafplaasblom, is ‘n kategorie 1b indringerplant en kan nie gekweek word nie, maar daar is baie nie-indringende hibriede om van te kies by jou plaaslike kwekery of tuinsentrum.
Ook sonnig
Nog ‘n plant wat in die hitte floreer, onophoudelik blom en maklik is om te kweek is die lieflike ‘SunPatiens’ in pienk, lila, oranje, magenta en wit. Hulle presteer ewe goed in die son sowel as in skaduwee en sorg dus vir ‘n goeie dosis kleur oral in die tuin.
Aan jou gebring deur die Beddingplant-kwekersvereniging (BPGA)
Find a garden centre near you: