fbpx

Plant jou jakobregoppe nou

Jakobregoppe het werklik tot hul reg gekom met helder kleure en laag- of hooggroeiende plante, na gelang van wat jy in ʼn tuinbedding of houer verlang.

In die somerhitte gedy jakobregoppe in droë toestande en blom mooi en lank. Gee hulle die nodige basiese sorg en hulle sal heelsomer en tot in die herfs uitmuntend presteer.


Versorging

  • Plant hulle in goed dreinerende grond wat oorvloedig met kompos verbeter is om dit te verryk.
  • Maak seker hulle kry volop son – minstens ses tot agt uur per dag.
  • Berei die plek voor voordat die saailinge oorgeplant word omdat hulle aan oorplantingskok kan ly. Voorkom dit deur die plante versigtig uit die kwekeryhouer te haal deur elke bakkie van onder af op te druk tot die plante uit is. Plant dit in gaatjies wat net so diep as die holtes is.
  • Maak goed nat wanneer geplant word en maak dan onder die plante nat wanneer die grond 5 cm diep droog is. Deur grondlangs nat te maak, sal swamsiektes help voorkom en die toedien van ʼn deklaag sal water help bespaar en onkruid beperk.
  • Voed vierweekliks met ʼn misstof vir blomme en vrugte om hulle aan die blom te hou.
  • Plant jou jakobregoppe jaarliks op ʼn ander plek.


Probleemoplossing

Dis taai plante met min moeilikheid, maar wees hiervoor gereed:

  • Hulle hou nie van ryp nie, plant hulle dus die regte tyd van die jaar.
  • Spasieer jakobregoppe ver genoeg uitmekaar om swamsiektes soos blaarvlek en poeieragtige meeldou te voorkom met genoeg lugomloop om hulle. As jy siektetekens sien, behandel dit met ʼn swamdoder met ʼn koperbasis. As jou tuin vir poeieragtige meeldou vatbaar is, wees op die uitkyk na siektebestande variëteite.


Variëteite

Daar is ʼn paar pragstukke om vanjaar uit te kies. Wees op die uitkyk na hierdie variëteite in jou tuinsentrum:

‘Zahara’ – groot en siektebestande enkel- en dubbelblomme, en tweekleurige variëteite soos ‘Starlight’ en ‘Sunburst’. 30 cm x 45 cm.

‘Profusion’ – vir warm en koel toestande, langblommend en siektebestand. 25 cm x 40 cm.

‘Zydeco’ – groot dubbelblomme en siekte-, hitte- en droogtebestand. 35 cm x 50 cm.

‘Zesty’ – ʼn nuwe variëteit van groot helderkleurige blomme wat bestuiwers uiters goed lok. 45 cm x 60 cm.


Vaasblomme

Hoe meer jakobregoppe jy vir die vaas pluk, hoe meer blom hulle. Hulle hou tot vyf dae in ʼn vaas en kan onderaan die plant afgesny word om die stingels te oes.


ʼn Ietsie oor Kannas

Baie tuiniers wil nie kannas kweek nie weens die indringende aard van Canna indica en sy Kategorie 1b-status in Suid-Afrika, hoewel daar ʼn paar uitstekende bastervariëteite verkrygbaar is wat nie-indringend is en nie sal versprei nie. Wees op die uitkyk na die Canna x generalis ‘Cannova’-reeks wat in verskeie kleure van geel, oranje en room tot pienk met mooi loof te kry is. Hulle is minsorgplante wat baie min aandag verlang en die maksimum lewer.

Aan jou gebring deur die Beddingplant-kwekersvereniging (BPGA)

Find a garden centre near you:

-->
The Gardener