Seisoenale sterre
Sluit by Freddie aan om uit te vind wat nuut en mode is in die wêreld van blomplantjies. Die volgende blomgunstelinge is hierdie maand landwyd beskikbaar by tuinsentrums en net reg om in jou tuin of in ‘n pot geplant te word.
Begonias
Bekend vir hul lae onderhoud, kompakte vorm en delikate blomme in baie helder en pastelskakerings, is eenjarige begonias (Begonia semperflorens) die ideale keuse vir ‘n plek in die tuin met gedeeltelike skaduwee. Sommige variëteite, soos ‘Senator’, ‘Dragon Wings’ en ‘Big’, sal selfs volson verdra.
Hierdie begonias verkies ‘n warmer klimaat, maar sal kan ook in houers geplant word wat beskerm kan word in kouer streke. Hulle is grootliks teen hitte en humiditeit bestand.
Variëteite
Daar is baie variëteite van eenjarige begonias. Hier is ‘n paar wat jy hierdie seisoen in kwekerye sal sien:
- ‘Sprint Plus’ – ‘n kompakte plant met blomme in pastel skakerings.
- ‘Eris’ – donker blare met pastel blomme wat lank hou.
- ‘Senator’ – brons blare met kontrasterende blomme en hitte- en droogtebestand.
- ‘Ambassador’ – heldergroen blare, eenvormig en betroubaar.
- ‘Emperor’ – sterk en blom aanhoudend.
- ‘Dragon Wings’ – ‘n groter begonia met pienk of rooi blomme en ‘n hangende groeivorm, perfek vir potte en hangmandjies.
- ‘Big’ – groot blink blare met groot pienk-enrooi blomme
Begonia-versorging
Plant eenjarige begonias in goed dreinerende, ryk, effens suur grond. Gee hulle gereeld water, maar moenie oorwater nie, want dit kan tot wortelvrot lei. Gee water wanneer die boonste 2 cm grond droog is. Voed elke paar weke in die somer en tot in die herfs. Moedig nuwe blomme aan deur gereeld dooie blomme te verwyder. Snoei enige lang lote om hulle netjies te hou.
Begonia x tuberosa
Ons kan nie hierdie tyd van die jaar van die knolbegonias met hul spesiale dubbel en semidubbel blomme vergeet nie, perfek om kleur binnenshuis te bring. Wees op die uitkyk na variëteite soos ‘Non-Stop’ in ‘n reeks kleure om die woonkamer op te kikker.
Echinaceas
As jy nog nie echinaceas in die tuin het nie, is dit tyd om hulle te kry. Hulle is treffend en, nog belangriker, sal die oog van baie bestuiwers vang. Hierdie meerjariges is baie maklik om te versorg en sal vir maande blom.
Variëteite
Wees op die uitkyk na dié variëteite hierdie seisoen:
- ‘Pow Wow’ – baie blomme, droogtebestand en lae onderhoud.
- ‘Pollynation’ – groot blomme in treffende kleure, hou lank en gehard.
Echinacea-versorging
Plant in volson met minstens ses tot agt uur sonlig daagliks. Voeg kompos by die grond wanneer jy plant en maak seker dit dreineer goed. Gee slegs water wanneer die grond droog is. Sodra gevestig, is hulle droogtebestand. Hulle benodig nie voeding nie, maar sal baat by ‘n voeding in die lente om hulle aan die gang te kry. Verleng blomtyd deur dooie blomme te verwyder. Laat die saadkoppe op die plante vir die voëls in die winter.
Komkommers
Die somerseisoen is ideaal vir die kweek van komkommers. Wees hierdie seisoen op die uitkyk na die produktiewe erfenisvariëteit ‘Ashley’. Hulle groei goed in houers en hangmandjies.
Aan jou gebring deur die Beddingplantkwekersvereniging (BPGA)