
Verhelder Die Skadu Met Kleur



Van warmpienk en rooi skakerings tot spierwit verskyn in die nuwe Impatiens walleriana-reeks genaamd ‘Glimmer’.
Hierdie glinsterende reeks hibriede het almal die skittering van die outydse impatiëns sonder die donsskimmel van vroeër. Hulle is pragtige dubbele impatiëns in die helderste kleure vir skadu en halfskadu, het ʼn geronde groeiwyse en blom van die lente tot in die somer. Plant hulle in tuinbeddings, hoewel hulle ook uiters geskik in potte of hangmandjies vir skaduryke patio’s is. Die plante is oortrek met blomme en dis onnodig om dooie blomme te verwyder – geniet net die kleuregloed. Hulle verkies warmer streke en word ongeveer 30 cm wyd en 40 cm hoog.
Versorging
- Plant hulle in ryk, klam, goed dreinerende grond.
- Hulle het volop water nodig en vaar nie goed as hulle te min water kry nie. As jy sien hulle hang, moet hulle meer gereeld water kry.
- Voed tweeweekliks in die lente en somer met ʼn vloeibare misstof om hulle aan die blom en gesond te hou.



Waarom Die Naam Impatiëns?
Daar word aangeneem dat die benaming impatiëns ontstaan het vanweë die plant se ongeduld om sy saad te versprei. Een van die beste plante in die tuin vir ʼn bietjie pret is die impatiëns omdat die saadpeule oopspring met die geringste aanraking, ʼn lekker speletjie vir kinders sowel as volwassenes.
‘Beacon’ Impatiëns
Helderrooi, salm, wit, violet, oranje en koraal is net ʼn paar van die kleure wat in die siektebestande ‘Beacon’-reeks van impatiëns te kry is. Hulle hou van ʼn skaduryke of halfskaduryke bedding waar hulle ʼn ronding van sowat 30 cm kan maak en hope mooi blomme dra. Maak gereeld nat, maar moenie oorbenat nie vir die beste resultate.
Aan jou gebring deur die Beddingplant-kwekersvereniging (BPGA)
Find a garden centre near you:
