Vrolike Gesiggies
Sluit by Freddie aan om uit te vind wat nuut en mode is in die wêreld van blomplantjies. Die volgende blomgunstelinge is hierdie maand landwyd beskikbaar by tuinsentrums en net reg om in jou tuin of in ‘n pot geplant te word.
Dit is weer tyd om gesiggies in die tuin te plant, in potte, en sommer oral waar daar ‘n oop gaatjie is.
Hoekom?
Behalwe dat dit mooi blommetjies is, het gesiggies die volgende eienskappe:
- Lang blomseisoen: Plant gesiggies enige tyd van herfs, winter en tot in die lente en hulle sal vir maande aaneen kleur verskaf. As dit nie te warm raak vir hulle nie, sal hulle selfs tot in November blom.
- Waarde vir geld: Die blomkrag van hierdie taai eenjariges is groot waarde vir geld.
- Baie om van te kies: Die aantal variëteite op die mark is enorm met meer wat heeltyd bygevoeg word. Jy kan omtrent enige kleuren kleurkombinasie vind wat jou oog vang.
- Maklik om te kweek: Pamperlang is nie nodig nie, knyp net gereeld die ou blomme uit.
Wat hulle nodig het
- Ten minste 4 uur volson per dag.
- Goeie dreinering, komposryke grond en ‘n handvol organiese kunsmis per vierkante meter. Gebruik kommersiële potgrond wat met bygevoegde kompos en organiese bemesting verryk is vir houers.
- Gereelde water, maar nie oordoen in die winter nie.
- Bemes een keer per maand met ‘n gebalanseerde vloeibare kunsmis om hulle op hul beste te laat lyk.
- Voeg ‘n dik laag organiese deklaag by om vog te behou en onkruid te ontmoedig.
Variëteite
‘Matrix’ – ‘n hitteverdraagsame gesiggie en een van die vroegste om te blom met groot blomme op kort stele.
‘Punch’ – groot blomme in ‘n reeks pragtige kleure, van koel blou tot pragtige geel.
‘Prima Punch’ – voortreflike plante in unieke kleure. Eenvormige groot blomme.
‘Power’ – ekstragroot blomme met opvallende kleure, ‘n kompakte groeiwyse en hitteverdraagsaam.
‘Premier’ – ‘n goeie reeks in baie kleure van lig tot donker.
‘Magnum’ – groot blomme in mooi kleure. ‘n Betroubare, variëteit wat nie yl word nie.
‘Inspire’ – ekstragroot blomme op ‘n kompakte, netjiese plant. ‘n Verskeidenheid pragtige kleure.
Viooltjies vir skaduwee
Die kleiner blommetjies van viooltjies (viola) is ewe mooi en kan ‘n bietjie meer skaduwee verdra. Hulle is eetbaar en mooi garnering vir koeke en poedings en kan in slaaie gegooi word vir ‘n bietjie kleur.
Aan jou gebring deur die Beddingplant-kwekersvereniging (BPGA)
Find a garden centre near you: