Yslandse papawers en gypsophilas
Dit is die perfekte tyd van die jaar om solank vonkelende papawers in die grond te kry om betyds te wees vir ‘n lenteontploffing van kleur.
Papawers
Papaver nudicaule, ook bekend as Yslandse papawers, is van die beste blomplante wat jy kan kry om kleurvolle blomme en baie bye en skoenlappers in jou tuin te hê. Hulle is ook uitstekende snyblomme.
Plant só
Papawers vaar beter in gebiede met koel somers, maar sommige variëteite doen goed met warm dae en koeler nagte. Kies ’n posisie in volson of ’n bietjie skaduwee en berei die grond voor met hope kompos, ’n paar handevol stadigvrystellende kunsmis en ’n paar handevol beenmeel of superfosfaat wanneer jy plant. Die grond moet goed dreineer en hou dit regdeur die seisoen goed natgemaak, veral in warm weer.
Plant in groot groepe in blombeddings of strooi hulle rond in ‘n veldblomtipe tuin. Die lang blomstingels groei tot ongeveer 38 cm bo die blare.
Alhoewel hierdie papawers as meerjariges beskou word, is hulle kortstondig en moet dus elke jaar geplant word vir die beste resultate. Hulle is maklik om te kweek en vereis baie min sorg. Verwyder getrou ou blomme om meer blom aan te moedig en kyk uit vir plantluise en donsskimmel. Andersins, afhangende van grondtoestande, kan hulle in die lente ‘n hupstoot nodig hê om meer blomme en ‘n langer blomtyd aan te moedig met ‘n misstof hoog in superfosfaat.
Vanjaar se variëteite sluit in ‘Champagne Bubbles’ wat bekend is vir hul sterk stingels, bosagtige blare en groot blomme in oranje, pienk, skarlakenrooi, geel en wit.
Gypsophila
Die baie mooi Gypsophila muralis het wolke klein blommetjies op draderige stingels wat by bloemiste gesog is vanweë hul sagtheid as vuller, veral vir bruidsruikers. In die tuin is dit ook goeie vullers in ‘n blombedding en baie mooi in hangmandjies.
Hulle hou van baie son en ruimte om te groei (35 x 25 cm) waar hul wortels nie versteur word nie. Hulle verkies goed dreinerende neutrale grond aan die sanderige kant, maar met baie organiese materiaal wat bygevoeg word wanneer hulle geplant word. Voed plante gereeld met ‘n algemene kunsmis in die somer vir langdurige blom.
Gereelde water is nodig in warm weer, maar wees versigtig vir te veel omdat dit wortelvrot kan veroorsaak.
Die nuwe ‘Gypsy’-variëteite sluit blomkleure in soos roos, pienk en die gewone wit waarmee ons bekend is. Die blommetjies hou baie lank in ‘n vaas en droog ook goed.
Aan jou gebring deur die Beddingplant-kwekersvereniging (BPGA)
Find a garden centre near you: