Somertuine: Hortensia’s en Laventel
As die woorde blomryk, geurig en gunsteling by jou opkom, droom jy waarskynlik van krismisrose en laventel. Het jy hulle al geplant?



Hydrangea ‘Endless Summer’-reeks
Moderne reekse en variӫteite neem krismisrose na die volgende vlak. Anders as die ouer mopkop-tipes blom Hydrangea macrophylla ‘Endless Summer’ op beide die nuwe en ‘n vorige seisoen se groei, wat dit die potensiaal gee om herhalend te blom met ‘n lang blomseisoen van so vroeg af as Oktober tot April!
Hierdie plante het ’n sterk, geronde groeiwyse met donkergroen, glansende loof. Die volwasse grootte is oor die algemeen ongeveer 90 cm x 150 cm, wat hulle ook perfek maak om in potte te kweek.In hierdie reeks kan jy ‘Endless Summer Blue’ en ‘Pink’, ‘Blushing Bride’, ‘Bloomstar’ en ‘Summer Love’ koop.
Dinge om te weet
- Krismisrose hou van gereelde, diep natmaak. Gevestigde plante sal minder water nodig hê, maar die grond moet nooit vir lang tye heeltemal uitdroog nie. Gee water op grondvlak om die blomme droog te hou. Op baie warm dae kan jy die loof liggies sproei om humiditeit te verhoog, wat kan help om blaarbrand en rooispinmytbesmetting te beperk. Potplante moet klam gehou word.
- Om blomstele vir die vaas af te sny, is ’n manier om die plante gedurende die blomseisoen te snoei. Buiten dit, is die verwydering van dooie, swak, beskadigde en siek stingels meer as genoeg. Verlepte blomme kan oor die winter aan die plante gelaat word, wat nuwe ogies teen ryp en koue beskerm. In die vroeë lente kan jy hulle verwyder deur die stingels net onder die ou blomkop af te sny.

Die elegantste laventel
Vir ’n langblommende laventel wat lief is vir die somerhitte, kies die Franse variëteit genaamd Lavandula dentata‘Elegans’. Die fyn getande loof is donkergroen en baie geurig, en die ewe geurige blomare is donkerpers. Dit is ’n pragtige meerjarige plant met ’n groot hart.
Die blomme lok bestuiwers, kan vir blommeruikers gesny word, en kan vars in bakwerk en roomys maak gebruik word; beide die blare en blomme kan ook vir potpourri gedroog word om jou huis te verfris.Dit hou van volson en gebruik medium tot min water sodra dit gevestig is, en bereik ongeveer 80 cm x 1,5 m. Plant dit langs ’n paadjie, tussen ander meerjariges, of kweek dit in potte. ‘Elegans’ is ryp- en kouegehard.









