Kynoch se Tuinjoernaal – April
Liewe Tanya…
Kan jy my asseblief raad gee hoe om van dié gras ontslae te raak wat my tuin oorneem, en verkieslik sonder om alles dood te maak wat daar geplant is. Ek dink die gras het van die voëlvoerder gekom, maar ek is nie seker nie. Sodra ek dit uittrek, groei dit terug. Baie dankie, Bridget Hendry
Hallo Bridget
Daar is twee maniere om dié nuwe aankomeling te behandel. Die een is om dit met die hand uit te trek voor dit blom of saadskiet, en die ander is om ʼn nieselektiewe plantdoder te gebruik. Wees uiters versigtig met die plantdoder omdat dit alles sal doodmaak waaraan dit raak. Nog ʼn keuse is om dit net te laat bly. Ek dink die gras is pragtig en bekoorlik, en gaan verseker ʼn voëlmagneet wees. Verwyder dalk net dié wat ander plante verstik.
My raad is om ʼn drukspuit te gebruik met ʼn “keël” wat met kleefband aan die lans vasgeheg word. Maak een van ʼn plastiekkoeldrankbottel deur die onderkant af te sny en dit dan by die opening aan die spuit vas te heg. Op dié manier sit jy bloot die plastiekbottel oor die gras en dien die plantdoder toe sonder om iets anders te spuit.
Lekker tuinmaak, Tanya
Help my asseblief om my rose te red. Ons het ’n jaar gelede van Pretoria getrek, amper die helfte van ons tuin ingepak en hier op die Weskus weer kom plant. Ek het gedink ek sal my tropiese tuin hier kan hê. ’n Groot fout. Ek wil steeds my rose probeer red. Hulle het almal die trek oorleef en het binne vier maande nadat hulle oorgeplant is vir ons die mooiste blomme gegee. Die hitte en droogte ooreis hulle egter tans baie. My vraag is nou hoe om hulle te help oorleef omdat ek nie baie water wil gebruik nie as gevolg van die regulasies en om die planeet te red. Vriendelike groete, Jorina Buys
Hallo Jorina,
Water is nodig om jou rose te red, ongelukkig die kosbaarste hulpbron. Beproef gerus die volgende om die hoeveelheid water te verminder wat hulle nodig het. Gooi ʼn dik deklaag van perskepitte, bas of kompos om elke plant. Dit sal die water help bewaar wat gewoonlik verdamp.
Jy kan ook ʼn gat grawe en ʼn 2 ℓ-plastiekbottel waarvan die onderkant afgesny is, onderstebo naby die roos insit, maar nie te na aan die stam nie. Hou die snyrand net bo die grond en gebruik dit om elke roos direk by die wortels nat te maak.
Laaste moet alle plante gevoed word om sterker en taaier teen stres te raak. Voed jou plante elke vier tot ses weke met Kyno Shrub Flower and Fruit om hulle dié hupstoot te gee!
Alles van die beste, Tanya
Kan jy ons asseblief raad gee oor ons suurlemoenboom. Kyk asseblief na die aangehegte foto. Ons hoop jy kan help omdat ons baie na aan moed opgee is daarmee. Vriendelike groete, Susan en Peter
Liewe Susan en Peter,
Die probleem waarmee julle nou sit, is dat dit nie die oorspronklike boom is wat uit die stomp uitspruit nie. Ons noem dit die onderstam. Dit sal beslis vir julle in die toekoms suurlemoene gee, maar hulle sal nie die gladdeskilsuurlemoene wees wat julle oorspronklik wou hê nie. Alle suurlemoenbome word op ʼn growweskilsuurlemoenonderstam geënt. Die krulblaar is ʼn teken van stres. Gee dit meer water – deurweek dit twee maal per week – en dié outjie moet kos kry. Voed dit vierweekliks met Kyno Shrub Flower and Fruit. Julle sal ʼn merkwaardige verskil sien.
Alles van die beste, Tanya
Stuur jou vrae na info@thegardener.co.za met die onderwerpreël Kynoch’s Dirt Diaries.