Kynoch se Tuinjoernaal – Februarie
Liewe Tanya…
Ek wil graag raad vir my grasperk hê. Ek het ’n baie welige en digte kikoejoegrasperk. Verlede jaar sien ek toe die grond maak gate. Die gras is groen en mooi, maar as jy op die grasperk loop, is daar kaal kolle so groot soos pierings. Wat moet ek doen? – Petro Marais
Hallo Petro
Kaal kolle op die grasperk kan deur heelparty faktore veroorsaak word – te min water, swaar verkeer en grasdraertermiete. Maak só: Sit gedurende die dag ʼn nat sak of stuk doek oor die kol en gaan inspekteer dan die doek later – na sowat 5 uur. As daar termiete is, sal hulle onder op die sak vergader het. As dit die geval is, gaan na jou plaaslike tuinsentrum en kry ʼn oplossing om van die termiete ontslae te raak – daar is verskeie spuitstowwe sowel as lokase verkrygbaar.
As daar geen teken van termiete is nie, stel ek die volgende voor: Maak die kaal kolle grond effens los. Spit kompos in hierdie kaal grond in. Jy kan óf klein grasplantjies koop om die kolle te vul óf bloot wag dat die gras dit uiteindelik toegroei. Hou dié kolle goed benat – minstens twee keer per week. Ek sal die grasperk ook voed met KynoGarden volgens die aanwysings en vier weke later met Kynoch TurboGrass.
Alles van die beste, Tanya.
Kan jy my asseblief help om hierdie blom te identifiseer. Dit lyk soos ’n lelie. Ek sal dit baie waardeer as jy vir my ’n naam daarvoor kan gee. – Cecilia Thysse
Hallo Cecilia
Joe, wat ʼn pragstuk het jy nie! Hopelik het jy ʼn bol of twee wat ek by jou kan koop, asseblief. Dis ʼn lid van die amarillisfamilie. Die genus staan bekend as Hymenocallis waarvan daar meer as 60 spesies inheems in streke van die Amerikas is, hoewel sommige ook in Afrika genaturaliseer geraak het. Die vreemde blomvorm lyk soos ʼn affodil en ʼn lelie wat byeengevoeg is wat daaraan die volksnaam spinnekoplelie of Peruviaanse affodil gee.
Hulle blom in die somer wanneer hulle volop water nodig het en raak rustend in die herfs wanneer hulle ʼn bietjie droogte wil hê om blom in die volgende seisoen aan te moedig. Wanneer hulle begin doodgaan, sny die ou blomme en dooie loof af. Jy kan hulle in die grond laat en hulle sal binne drie tot vier jaar ʼn digte pol plante vorm. Haal hulle daarna in die rustende maande uit, verdeel hulle en plant hulle elders uit. Dit kan tot drie jaar duur voor hulle blom, en hou dop vir slakke en naakslakke.
Alles van die beste, Tanya.
Stuur jou vrae na info@thegardener.co.za met die onderwerpreël Kynoch’s Dirt Diaries.