fbpx

Kynoch se Tuinjoernaal – Junie

Liewe Tanya…

Ek het dié in my kompossakke gekry wat ek by ’n kwekery gekoop het. Is dit miswurms of snywurms? Is hulle goed of sleg vir my plante? Baie dankie, Nellie

Hallo Nellie,

Dis renosterkewerlarwes wat op ontbindende groente- en plantmateriaal asook verrottende hout voed en met ontbinding help. Die volwasse kewers voed op nektar en sap. Ek beveel beslis nie optrede aan nie omdat ek glo die outjies is uiters belangrik vir ons ekostelsel. As jy egter ʼn swaar besmetting van hulle in jou grond kry wat plantwortels of stingelweefsel beskadig, kan ʼn insekdoder gebruik word. Ek sal hulle liewer optel en in ʼn park of nabygelee veld gaan aflaai. Lees meer oor die renosterkewer op ons webwerf: www.thegardener.co.za.  Die interessantste feit aangaande die outjies is waarskynlik dat hulle in winkels in Japan as troeteldiere verkoop word!  Lekker jag!

Ek het ’n rooi vyeboom wat vragte vye gedra het. Ongelukkig moes ons die boom drasties snoei omdat dit deur die draadheining gegroei het en die heining vervang moes word. Dis nou drie seisoene later en die boom kry baie vrugte, maar sodra hulle begin swel, val hulle af.  Hoe kan ek die probleem regstel?  Vriendelike groete, Marie Visagie

Hallo Marie,

Vrugval by vyebome kan deur ʼn paar dinge veroorsaak word. Die algemeenste oorsaak is ʼn gebrek aan water. Dit klink wel vreemd omdat ons aanvaar dat hulle, komende van die Mediterreense gebied, nie soveel water nodig het nie. Tydens vrugset en -groei moet hulle egter ʼn bietjie meer gereeld natgemaak word. Dis belangrik om een maal per week diep nat te maak, tensy dit reen. Onthou ook dat die wortels van ʼn vy ver kan versprei, maak dus seker jy maak oral in die wortelsone nat, nie net rondom die stam nie. Nog ʼn rede is ʼn gebrek aan bestuiwers. Wees asseblief versigtig wanneer insekdoders gebruik word wat wespe en bye kan doodmaak wat so belangrik vir bestuiwing by veral vye is. Maak laastens seker jou boom kry genoeg voeding, veral mikrovoedingstowwe. Bemes een of twee maal per jaar met KynoVeg, wat propvol goeie goed is en ʼn geskikte verhouding vir vye het met nie te veel stikstof nie maar wel die aller belangrike kalium vir vrugteproduksie. Onthou om ʼn dun organiese deklaag onderom jou boom te sit.  Alle sukses!

Ek koop gereeld Die Tuinier-tydskrif vir tuininspirasie, maar sien nooit iets vir my streek nie. Ek woon buite Potchefstroom in die Vredefortkoepel, Noordwesprovinsie. Ek is langs die Vaalrivier en het warm somers met baie koue winters met ryp. Ek spandeer elke jaar duisende rande op nuwe plante wat doodryp en moet dan elke lente van voor af begin. Is daar nie raad vir rypbestande plante in groot of plaastuine nie? Ek hoor graag van jou. Vriendelike groete, Hesmé Schoeman

Hallo Hesme, Ons is geseend om in so ʼn diverse land te woon, al het hierdie verskeidenheid sy eie uitdagings, veral as ʼn Tydskrif vir die hele land saamgestel word. Ons skrywers probeer om in alle artikels al die inligting oor die plante te verskaf sodat jy, waar jy ook al woon, die regte keuse kan maak oor of die plant vir jou sal werk. Hier is ʼn paar praktiese wenke wat ek hoop jou tuinmaakreis sal help beter maak:

  1. As jy twyfel, maak dit toe. As jy bekommerd of onseker is oor of ʼn plant jul koue winter sal oorleef, beskerm dit met ʼn laag Frost Gard. Hierdie materiaal kan heelwinter op die plante bly en hulle sal steeds groei en gedy. Verwyder die bedecking as dit begin warmer word.
  2. Bedek altyd, maar altyd. Dit bespaar nie net water nie, maar die belangrikste is dit isoleer die grond en vang die hitte vas tydens die koue en hou dit koel tydens uiterste hitte.
  3. Vra altyd die regte vrae voor jy ʼn plant koop! Sal dit in my klimaat oorleef? As jy twyfel, moenie dit koop nie. Vir my is dit die moeilikste deel van tuinmaak omdat ons meestal plante met ons oe koop en as ons oe blink, wel, dan WIL ons dit he!
  4. Kennis is mag, bring dus ʼn bietjie tyd op ons webwerf deur – daar is soveel wonderlike artikels oor hoe om jou tuin vir die koue voor te berei, en oor kouegeharde en hittebestande plante.

Alles van die beste!

My niggie in Hillcrest het vir my dié blom gegee maar ken nie sy naam nie. Dis in my kompleks in Pietermaritzburg. Ons dink dis ’n krokus, maar ’n vriend se seun, ’n botanis, sê dis ’n romulea. Help asseblief!  Groete, Margaret Shepherd

Hallo Margaret,

Dit word ʼn fee- of reenlelie genoem en die botaniese naam is Zephyranthes candida. Die plant blom heelsomer en tot in die laat herfs, is ʼn gunsteling in klam vleierige gebiede, maar verdra ook droer grond. Dit verkies volson tot halfdagson. Hulle wil vroeglente ʼn hupstoot van Kyno Shrub, Flower & Fruit he. Die reenlelie is inheems in Suid-Amerika en is daarvoor bekend dat dit na swaar reen in blom uitbars, vandaar die naam.  Dit word dikwels met die krokusblom verwar omdat hulle so eenders lyk, hoewel die loof van die reenlelie smal, dun en naaldagtig is vergeleke met die wyer blaar van die krokus.  Alles van die beste!

Stuur jou vrae na info@thegardener.co.za met die onderwerpreël Kynoch’s Dirt Diaries.

-->
The Gardener