Kynoch se Tuinjoernaal – Maart
Liewe Tanya…
Ek het ’ n vetplant in die tuin wat daagliks water kry omdat dit vreeslik warm in die Noord-Kaap is. Dit het nou gryserig van kleur geword en gaan nie oop nie. Kan dit wees as gevolg van al die water wat dit kry? Baie dankie, Carlene Fisher
Liewe Carlene
Ek is baie bekommerd omdat dit lyk of daar ʼn wit neerslag op die blare is. Gebruik jy boorgatwater? Indien wel, kan dit die rede wees waarom die blare so sleg lyk. Boorgatwater bevat soms groot hoeveelhede van sekere minerale en soute wat die blare kan beskadig.
My raad is dat jy net die grond om die plant natmaak en glad nie die blare nie. Ek stel ook voor dat jy ʼn laag organiese materiaal of klippies as deklaag om die plante aanbring – dit help regtig om die grond koeler te hou en beskerm die wortels. Al is dié plant, ʼn Aeonium, ʼn vetplant, sal dit in konstante voldagson brand. Dit behoort te herstel as dit net brand is. Moet asseblief nie die plant daagliks natmaak nie – dit sal sy wortels laat vrot – gee dit liewer ʼn deklaag en maak die grond twee maal per week diep nat. Ek sal ook twee teelepels Kyno Shrub, Flower & Fruit voor een van sy twee weeklikse natmaaksessies onderom die plant toedien.
Die misstof sal die plant van belangrike spoorelemente voorsien om dit te help om teen die uiterste hitte en stres bestand te wees. Dien dit elke vier tot ses weke toe. Jy kan dit trouens op alle struike, plante en ook vrugdraende plante toedien vir ʼn bietjie lekker woema!
Alles van die beste en lekker tuinmaak Tanya
Ek wil net vra of jy my kan help om uit te vind watter myt op my Amazon lelie en luiperdplant is en hoe ek daarvan ontslae kan raak. Ek het al verskeie middels beproef en hulle kom elke keer weer terug. Baie dankie, Groete, Cathy
Hallo Cathy,
Jy het ʼn ernstige wolluisaanval. Hierdie klein goggatjies kan baie skade aanrig aan loof en vrugte. Dis suigende insekte wat gewoonlik saam met miere aangetref word en vanweë dié kombinasie word in baie gevalle ook swart roetskimmel op plante opgemerk. Hulle pak veral al met die blaar se hoofnerf langs saam omdat hulle hier die beste sap kry!
Ek sal eers die blare van die aangetaste plante goed afwas. Met ligte besmettings kan jy die aangetaste blare verwyder en vernietig sonder om die plant in gevaar te stel. As die goggas egter bly lewe, gaan besoek jou plaaslike tuinsentrum en vra hulle vir ʼn oplossing om van wolluis ontslae te raak. Daar is talle middels verkrygbaar. Kry meer inligting oor wolluis op ons webwerf www.thegardener.co.za.
Ek wens jou alles van die beste toe! Tanya
Send your questions to info@thegardener.co.za using the subject line: Kynoch’s Dirt Diaries.