Plant kleur oral hierdie lente
Of dit nou in die helderste son, of ’n kombinasie van son- en skadukolle is, ons kan jou verseker dat ons absoluut lente-gereed is. Ons plant nou pelargoniums en genistas, en ons nooi jou om dit saam met ons te doen!
Voortreflik
Pelargonium grandiflorum (grootblom-pelargonium) is sedert die Victoriaanse tyd verbou en sedertdien kan niemand die blomme met hul vrolike gesiggies weerstaan nie. Met verloop van tyd is baie variëteite van hierdie koninklike plante ontwikkel, en vandag kan ons die ‘Elegance’-reeks plant met hul uitstekende prestasie in die tuin in ‘n wye verskeidenheid kleure van wit, verskillende skakerings pienk en selfs baie donker wynrooi met groot blomme wat kenmerkend met kontrasterende of komplementêre skakerings ‘gevlek’ is. Hierdie reeks word hoogs aanbeveel, nie net vir die intrinsieke patrone op hul asemrowende blomme wat op stewige stingels gehou word nie, maar ook vir hulle gegolfde, donkergroen, getande blare en bosagtige, maar kompakte groeivorm. Volwasse grootte is ongeveer 40 cm hoog met ‘n verspreiding van 100 cm.
Wanneer is blomtyd?
Hierdie plante begin in Augustus blom en sal voortgaan met herhaalde blomvlae deur die somer tot in die herfs.

Pelargonium grandiflorum ‘David’


Kweekwenke
Ligging: Plant hulle in volson tot ligte skadu (oggendson en middagskadu is ideaal). Gebruik hulle as vullerplante in gemengde struikbeddings en rotstuine. Hulle is ook perfek vir potte, vensterkaste en mandjies – so, gaan groot op jou balkon of patio!
Grond: Die grond moet baie goed dreineer en met kompos en beenmeel verryk wees. Gebruik gehalte-potgrond met waterretensiekorrels bygevoeg vir plante in houers.
Water: Pelargoniums se watergebruik is matig tot laag wanneer hulle goed gevestig is. Laat die grond uitdroog tussen besproeiings. Onthou altyd dat dié wat in potte groei, meer water sal benodig, maar slegs wanneer die boonste laag grond droog voel.
Voeding: Alle pelargoniums benodig gereelde voeding. Dié in die tuin kan elke ses tot agt weke van lente tot herfs met ‘n stadig vrystellende kunsmis gevoed word, terwyl potplante van ‘n vloeibare voeding elke twee weke hou.
Klimaat
Pelargonium grandiflorum ‘Elegance’ is geskik vir tropiese, subtropiese, gematigde en Mediterreense klimate en sal koue weer verdra, maar is sensitief vir ryp. In baie koue streke moet dit as ‘n lank blommende jaarplant hanteer word of in ‘n beskermde plek oorwinter. Hulle sal ook binnenshuis oorleef.



Geel vir die son
Ons kweek Cytisus Racemosus (sweet broom), bosagtige eksemplaarplante wat geskik is vir potte wat in die sonnigste en warmste plekke vertoon word, en ook opgelei kan word in pragtige standaard-vormbome. Hul immergroen, baie netjiese blare op regop takke wat liggies buig soos hulle volwasse word, laat ons toe om met hulle te speel. Maar die waardevolste kenmerk van hierdie kloon, wat vegetatief geproduseer word uit ‘n spesie inheems aan die Kanariese Eilande, moet sy ertjievormige en geurige heldergeel blomme wees wat in die lente in groot hoeveelhede verskyn!
Dit is ‘n plant wat nie te veel van ‘n tuinier se kweekvaardighede vra nie en het nederige vereistes:
- Volson
- Arm, onvrugbare grond wat vinng dreineer
- Lae watervereistes
As jy van plan is om jou potte met hulle te vul, gebruik ‘n kommersiële potgrond van ’n hoë gehalte en verseker dat hulle behoorlike dreineringsgate het. Plante in potte sal gereeld water benodig, so doen die vingertoets om te bepaal wanneer hulle droog is voordat jy met ‘n gieter nader staan.












