fbpx
perennials

Vier Die Veelsydigheid Van Meerjariges

Read in English

Verklein die grootte van jou veeleisende grasperk deur meer tuinruimte met ʼn verskeidenheid meerjariges vol te maak – dis beter vir die natuur en jou waterrekening, dit verg heelwat minder onderhoud en seën jou met pragtige blomme. Hier is vier kombinasies om te beproef.

Hoogsomertrefkrag

Moderne tuin meerjariges is niks anders as gewese veldblomspesies nie wat veredel is tot blomryke hibriede met beter klimaatsen siektebestandheid, en die verleidelikheid om alle soorte bestuiwers te lok.

Versorg almal: Volson en min tot matig baie water ongeveer een of twee maal per week.

Miscanthus sinensis ‘Cabaret’ (sebragras)

‘Cabaret’ forms a dense clump over 1m tall and about 2m wide. Its slender, ribbon-shaped leaves have creamy white midriffs and very dark green edges. The reed-like flowering stems produce dark pink or coppery plumes in spring, which remain on the plant until late autumn, eventually fading to a creamy colour. Use it as a great accent plant – plant it in groups of 3 – 5 in the middle of a bed.

Bracteantha bracteata (strooiblom)

Die strooiblom of sewejaartjie was ʼn paar jaar uit die mode, maar is met mening terug met die ‘Mohave’-reeks wat bestaan uit ʼn verskeidenheid iriserende kleure. Dit bied ʼn geronde groeiwyse en blom van die lente tot die herfs. Gebruik dit om kaal kolle op die voorgrond toe te maak.

Salvia ‘Salmia’

‘Salmia’ voldoen aan al die vereistes – dit blom lank van midlente tot die herfs, dit groei orals, en bye en skoenlappers is dol daaroor. Die ‘Salmia’-reeks is goed vertak (wat tot ʼn massa blomme aanleiding gee), kan sowat 60 cm hoog word, en is te kry in drie sterk kleure: oranje, pienk en donkerpers. Gebruik dit in groot plate in die middel van jou bedding.

Gaillardia x grandiflora (kombersblom)

Dis ʼn outydse, kortstondige, taai meerjarige met madeliefieagtige blomme in ryk kleure. Dit vorm ʼn stadig verspreidende blomkussing wat ʼn plek bedek en selfsaai graag, gevolglik sal dit waarskynlik nie uit jou tuin verdwyn nie. Gebruik dit in sterk groepe op die voorgrond.

Senecio candicans ‘Angel Wings’

Hierdie rypgevoelige meerjarige (eintlik ‘n sukkulent), groei vinnig tot 40 cm hoog en het ʼn geronde immergroen groeiwyse en groot, hartvormige silwerwit blare met effense inkepings op hul rande. Die kort, digte hare op die blaaroppervlakke voel fluwelig. Dit het ʼn kort rustyd in die winter. Gebruik dit as opvallende loofaksente in groepe van drie tot vyf voor in die tuin.

Salvia leucantha (Mexikaanse bossalie)

Die grasieus buigende stingels is poeierwit en die lansvormige wilgeragtige blare se wollerige onderkante silwerwit. Nuwe groei verskyn vroeglente aan die winterkaal stingels (dis halfbladwisselend en dus soms kaal) en word gevolg deur die lang skerms klein wit blommetjies wat deur hul mooi fluwelige pers kelke beskut word. Dit is ʼn taai, windbestande meerjarige wat heelsomer geil blom en vroegherfs sy blomkruin bereik. Gebruik dit in sterk groepe as agtergrond.

Taaies vir klein randakkers

Sorg vir almal: Hierdie kombinasie sal goed werk in warm, sonnige plekke in enige soort goed dreinerende grond. Dit verlang min water.

Limonium perezii (papierblom)

Papierblom maak ʼn roset van groot leeragtige blare en heeljaar groot trosse blomme wat aan stingels van tot 60 cm hoog ondersteun word. Hierdie tweekleurige blomme wissel van pers, blou en wit en voel soos papier. Die blomme hou lank, vanwaar die Engelse volksnaam everlasting, en is uitstekende snyblomme vars sowel as gedroog omdat hulle hul kleur en vorm behou. Die blomme lok skoenlappers en bye. Gebruik dit in groot plate.

Achillea millefolium (duisendblad)

Duisendblad is interessant vanweë sy baie gebruike: medisinaal en kulinêr asook as insekweerder en komposaktiveerder. Tussen die ander meerjariges wat vir hierdie kombinasie voorgestel word, sal hulle ook ʼn pragtige kontras vorm met hul fyn blaarteksture en skerms fyn blommetjies. Gebruik dit as vullerplant en as metgesel vir die ander meerjariges op die voorgrond.

Coreopsis grandiflora (coreopsis)

As jy op soek is na ʼn vrolike plant wat lank blom, uiters min sorg verlang en droogtebestand is, kies coreopsis – ʼn tipiese prêrieplant wat onweerstaanbaar vir bye, skoenlappers en voëls is. Die nuwe ‘Uptick’– reeks is bestand teen witroes en het mooi tweekleurige blomme. Gebruik dit as die perfekte randakkerplant wat die res afrond.

Helichrysum petiolare (kooigoed)

Grys fluwelige blare is ʼn aanduiding van gehardheid en uithouvermoë, maar is ook ʼn belangrike kleur as kontras en agtergrond vir ander plante in ʼn meerjarige bedding. Die helichrysum is die perfekte keuse met sy spreidende groeiwyse en heuninggeurige geel blomme met roomkleurige papieragtige skutblare in die lente. Grootte 1 x 1 m. Gebruik dit in sterk groepe agter waar dit baie effektief is.

Agapanthus-hibriede

Danksy intensiewe teling kan ons nou agapante plant wat kompakter as die outydse spesies is. Geen meerjarige bedding moet sonder hierdie pragstukke wees nie: Beproef ‘Lapis Lazuli’, ʼn blomryke dwerghibried met 60 cm lang stingels met intense blou blomme wat van tyd tot tyd in die somer verskyn, of ‘Buccaneer’, met ʼn middelmatige grootte van 30 by 30 cm en donkerblou blomme met dieppers are van vroeg tot midsomer. Gebruik dit in groepe wat deur die tuin herhaal word, en moenie suinig wees nie omdat jy ook ʼn paar vir die vaas sal wil hê.

Jacobaea maritima (wilde asblom)

Hierdie meerjarige wat tevore as Senecio cineraria of dusty miller bekend was (wat soms as jaarplant behandel word), verleen treffende looftekstuur en kleur aan gemengde aanplantings. Die klein geel blommetjies is onbelangrik, maar die silwergrys tot amper wit en diep ingesnyde blare met hul viltagtige tekstuur het nog altyd die harte van tuiniers aangegryp. Dit is waarlik ʼn tawwe tienie! Gebruik dit deur dit in groepe in die middel aan te plant om ʼn kleuraksent tussen groepe groenblarige meerjariges te verleen.

Feit: Die gebruik van mengsels van verskillende soorte meerjariges ontmoedig skadelike insekte en siektes.

Meerjariges vir waar dit skaduryk en klam is

Laat ons nou maar eerlik wees: Die meeste grasperke sukkel om in halfskadu te groei (selfs al kan jy die bestaande grasperk gereeld oorsaai met mengsels wat vir skadu geskik is). Hoekom omskep jy dus nie daardie gebiede in skaduprêries nie?

Feit: Digte plate meerjariges verminder onkruid en dus onderhoud.

Begonia x hybrida

Die ‘Dragon Wing’-reeks, wat pienk- en rooiblommige rietvormige begonias insluit, het oor die jare ʼn ikoniese plant geword. Die groeiwyse is bosagtig en buigend, met blinkgroen blare en groot druipende blomme. Gebruik dit in groot getalle in die middel vir ʼn pragtige kleurkontras teen groen loof.

Plectranthus ‘Lemon Lime’

Net toe ons begin dink daar kan nie nog ʼn kleurryke plectranthus op die toneel wees nie, verskyn ‘Lemon Lime’ met sy geelgroen blare en boergonje stingels. Dit word verwelkom as rankende pot- of hangmandjieplant, maar is eintlik ook ʼn wonderlike grondbedekker vir skadukolle. Gebruik dit om kolle heldersuurlemoengeel voor by te voeg.

Chlorophytum saundersiae ‘Starlight’ (watergras)

Kan jy grasagtige plante in ligte skadu kweek? Ja! ‘Starlight’ sal gelukkig in skadu groei waar sy bont lynvormige blare kleurkontras en lig sal verleen. Wit stervormige blomme aan lang hangende stingels verskyn van die somer tot die herfs of heeljaar. Gebruik dit in die middel waar dit met ʼn volwasse hoogte van 75 cm ʼn helder en lugtige rol sal speel.

Heuchera-hibriede (koraalklokkies)

Koraalklokkies is te kry in baie blom- en blaarskakerings, en is so geliefd soos begonias en impatiëns wat skadugebiede betref. Heucheras is goed bestand teen hitte en vogtigheid, maar kan ook droë toestande verdra. Skoenlappers en voëls is dol oor die nektar van die klein blommetjies. Gebruik dit deur verskillende hibriede hier en daar te versprei vir ʼn kaleidoskoop van kleur, of net een hibried as grondbedekker voor.

Acanthus mollis (wilderabarber)

Die blare is dramaties groot en blink donkergroen, en die wit blomme word beskut deur interessante doringagtige skutblare in skakerings van groen, grys, pers en pienk. Die blomme word van die lente tot midsomer gedra. Hierdie meerjarige kan in son of skadu groei en vorm polle van ongeveer 1 tot 2 m hoog uit ondergrondse knolle. Gebruik dit deur dit ruim plek te gee om op die agtergrond te versprei, omdat dit ʼn aggressiewe groeier is wat geneig is om sy ander beddingmaats te verdring.

Gomphostigma virgatum (besembossie)

Plant hierdie pragtige inheemse meerjarige wat eintlik hoër as 2 m kan word, op plekke wat ʼn bietjie meer son kry. Hierdie wilgeragtige plant het skraal silwergrys takke en fyn blare, en is uiters indrukwekkend as dit in die somer met klein geurige wit blommetjies bedek is. Daar word gesê dat voëls die takke vir nesmaak oes. Gebruik dit deur dit agter en tussen ʼn paar wilderabarbers te plant: Maak jou oë toe en stel jou dit voor!

Die lente ontwaak in pienk

Hoewel elke seisoen van die jaar waarde en prag het, verlang ons die meeste na die lente en beplan ons die meeste daarvoor.

Gaura lindheimeri (engelvlerkies)

Ons hou van meerjarige vullerplante wat soos onkruid groei, nie deur die hitte van stryk gebring word en nie ʼn dam sal leegdrink nie, en gaura pas hierin. Dit verskaf bosagtige groei en delikate blomare wat soos skoenlappertjies lyk en vol soet nektar is, wat hulle vir die natuurlewe onweerstaanbaar maak. Gaura groei vinnig, is taai en blom herhaaldelik van die lente tot laatherfs met ʼn kort rustyd in die winter. Beproef die ‘Belleza’-reeks in pienk, wit en donkerpienk. Gebruik dit vir massa-aanplanting, waarvoor gauras perfek is. Hulle sal pragtig lyk langs shastamadeliefies.

Dianthus barbatus (baardangelier)

Baardangeliere was nog altyd ʼn gunsteling by die snyblomtuinier, en die moderne interspesifieke enkelblommige baardangeliere is geteel om taai en hittebestand te wees. ‘Dash’ het lang, reguit en sterk stingels wat balle diggepakte blomme vashou. Hierdie basale vertakker hoef nie gestut te word om vir sy hoogte van 50 cm en verspreiding van 35 cm voorsiening te maak nie. ‘Rockin’ is ʼn tweejaarplant wat helder, effens geurige blomme dra met goeie oorwinteringsvaardighede. Gebruik dit om golwe in die middel te plant.

Digitalis purpurea (vingerhoedjie)

‘Camelot’ is romanties en dramaties as dit in sagte pastelkleure blom. Wat hierdie reeks tweejaarplante van die res onderskei, is die eenvormige groeiwyse en blomare aan sterk stingels met groot, geurige blomme. Die plante blom heelsomer mits die are gereeld vir die vaas gepluk word. Gebruik hulle hier en daar herhaaldelik in groepe tussen ander plante omdat vingerhoedjies se stingels van 1 tot 1,2 m hoog kan word.

Leucanthemum ‘Daisy Mae’ (shastamadeliefie)

Die shastamadeliefie verskyn in die lente, blom heelsomer en laat weet jou die herfs is op pad deur te vra om goed teruggeknip te word voor dit in die winter rustend raak. Die stingels is stewig en sterk, en die spierwit kroonblare wat die sonnige geel hart omring, sal meerjarige beddings opvrolik. Gebruik dit in ʼn groot massa wat voor in jou bedding geplant word.

Alstroemeria-hibriede

Hooggroeiende (en dwerg-)alstroemerias is in verskeie kleure en strepe te kry, maar ons getoetste en beproefde gunstelinge vir ʼn meerjarige randakker is te kry in die ‘Summer Paradise’-reeks, wat vir jou ʼn groot blommeoes vir die tuin en vaas sal gee. Gebruik hulle in opvallende groepe in al die kleure van hierdie reeks, en sorg dat jy hulle ʼn bietjie stut.

Liriope muscari ‘Evergreen Giant’ (leliegras)

Dis ongetwyfeld een van die mooiste siergrasse ter wêreld (hoewel dit eintlik ʼn lelie is). Hierdie polvormende plante met lintvormige donkergroen blare kan tot 90 cm hoog word en 45 cm versprei, dus sal hulle sterk tref in enige meerjarige randakker. Are lila blomme aan hoë stingels verskyn in die somer en herfs, en word later deur swart bessies gevolg. Hulle is koue- en rypbestand. Gebruik dit vir aksent- en massaaanplanting omdat dit heeljaar mooi bly.

Fotogalery

-->
The Gardener