Bring kleur na jou tuin hierdie winter!
Met die regte plante sal houers en tuinbeddings uitbundige en besielende winterkleur vertoon. Met ons keuse kan jy nie ʼn fout maak nie!



‘Calliope’ vir mandjies en vensterbokse
ʼn Kruising tussen ‘n wildemalva en ʼn rankende kolsuring het Pelargonium ‘Calliope Splash’ tot gevolg gehad. Dit word van ander malvas onderskei deur groot, semi-dubbele blomme, met helder blomblare en donker rooskleurige spatsels.
Die kleurreeks wat plaaslik beskikbaar is, sluit ‘Rose Splash’, ‘Red Splash’ en ‘White Splash’ in. Hulle sorg vir opwindende kleur in hangmandjies, houers en tuinbeddings. Ten spyte van hittebestandheid, is die beste blomseisoene in die koeler maande van herfs en lente, hoewel jy die hele jaar lank blomme kan verwag.
Hierdie plante, wat gehard is teen koue, het ʼn ronde tot semi-rankende groeiwyse (30 cm x 40 cm) en groei goed in volson en ligte skaduwee. Dit maak hulle geskik vir balkonne en patio’s wat oggendson kry.
Pelargonium-sorg
- Baie goeie dreinering
- Medium tot lae waterbehoeftes, laat die grond uitdroog voor natlei
- Voed gereeld deur die jaar met ʼn wateroplosbare kunsmis



Geel aalwyn vir potte en in gruistuine
As jy ‘n fokusplant nodig het wat in die winter blom en min instandhouding en water nodig het, is Aloe ‘Andy’s Yellow’ beslis ʼn goeie aalwynhibried om te plant. Die sukkulente blare is grysgroen, en die wintermaande sorg vir ʼn oorvloed van suurlemoengeel blomme. Volwasse grootte is 1,7 m x 2 m.
Aalwyn-sorg
- Volson
- Goeie dreinering
- Min water
‘Lemon and Lime’ staan uit in gloeiende geel
Abelia-heinings word al eeue lank gekweek as taai plante wat oral groei. Abelia ‘Lemon and Lime’ is ʼn vrolike toevoeging tot die reeks abelias met kleurryke blare.
Die plante is dig en kompak, met opvallende suurlemoengeel blare gedurende herfs en winter. In lente en somer word die blare lemmetjiegroen namate temperature en daglengte toeneem. Hierdie veelsydige plant is koue-verdraagsaam, gehard, en perfek vir gebruik as lae heinings, in beddings, of as fokusstruike in potte.
Abelia-sorg
- Volson of semi-skaduwee
- Enige grondsoort met goeie dreinering
- Medium tot lae watergebruik wanneer gevestig












