fbpx

Clematis ‘Ithemba’

Die storie agter hierdie pragtige nuwe clematis-kultivar is nog mooier as die plant self. 

Die clematis is bekend as ‘n skouspelagtige klimplant wat baie veelsydig is – dit kan binnenshuis gebruik word of oor raamwerke of heinings gelei word, of dit kan selfs gelaat word om as grondbedekker te sprei. Dit kom ook met ‘n diverse reeks betowerende blomme in verskillende groottes, vorms en kleure. Sommige van die mees betowerende en skouspelagtige clematis-kultivars is deur Raymond J Evison CBE geskep, een van die wêreld se voorste clematis-telers, gebaseer in Guernsey in die Kanaaleilande. Evison het meer as 60 jaar met clematis gewerk en meer as 200 kultivars ontwikkel wat vir hul kompakte groei, lang blomseisoen en oorvloedige blomme bekend is. Hy het al 35 goue medaljes by die Chelseablommeskou verower en is tot Commander of the Order of the British Empire (CBE) benoem, ter erkenning van sy prestasies en bydrae aan die tuinboubedryf. Nuut vir 2026 van Raymond Evison Clematis en sy Guernsey 

Clematis Nursery is Clematis ‘Ithemba’ ™ EviGsy157(PBR). Ek weet wat jy dink: Snaakse naam vir ‘n kultivar uit Guernsey! En jy is reg. Maar daar is ‘n mooi verhaal hieragter. Raymond Evison Clematis het ‘n ‘Hope’-reeks plante ontwikkel om bewustheid te skep vir die werk wat deur uitgesoekte liefdadigheidsorganisasies regoor die wêreld gedoen word, en ‘Ithemba’ is die derde in die reeks. ‘Ithemba’ beteken ‘hoop’ in Zoeloe, en die Trust waaraan dit opgedra is, het dit hierdie naam gegee. Raymond het in Januarie 2020 die Children’s Hospital Trust in Kaapstad besoek, en dit was toe dat hy geïnspireer is deur die ongelooflike werk wat hulle doen. 

Hulle verskaf wêreldklas pediatriese sorg aan kinders van regoor Suid-Afrika, ongeag hul finansiële status. Om die Trust en sy edele missie te vier, het hy besluit om ‘n nuwe clematis-kultivar bekend te stel, en so is ‘Ithemba’ gebore. Clematis ‘Ithemba’ is voorwaar indrukwekkend. Sy helderwit blomme het ‘n delikate pienk streep en is afgerond met geriffelde kelkblare, terwyl die opvallende rooi helmdrade en helmknoppe die wit blomblare nog meer laat uitstaan. Die 8-10 cm-blomme verskyn oorvloedig van laatlente tot vroegsomer, en keer laat in die somer terug vir ‘n tweede vlaag. 

Wat ‘Ithemba’ veral opvallend maak, is die manier waarop dit al langs sy stingels blom, wat ‘n volle vertoning van bo tot onder gee. Hierdie kompakte, bosagtige plant groei tot 90-120 cm hoog en is maklik om te snoei. Sny dit net tot 15 cm in laatwinter of lente terug, en dit sal jou met nog ‘n jaar van asemrowende blomme beloon. Dis perfek om in ‘n houer of aan die voorkant of middel van ‘n bedding te plant, teen ‘n raamwerk op te lei, of tussen ander plante deur te groei, daarom is dit ‘n veelsydige toevoeging tot enige tuin. 

Die plant sal eerste in Suid-Afrika, voor enige ander plek in die wêreld, bekendgestel word, wat ‘n fantastiese erkenning vir die oorsprong van sy naam is. Raymond Evison Clematis sal met Plantipp BV saamwerk om die plant te beskerm en met Samgro Wholesale Nursery, hul grootste Suid- Afrikaanse kliënt, om die plant plaaslik te bemark. 

Kweekwenke 

Ligging: Die ideale plek het halfskadu vir koel, beskadude wortels en kyk suid.

Grond: Vogtige, goed dreinerende, vrugbare grond met organiese materiaal verryk. 

Water: Hou egalig vogtig, veral tydens aktiewe groei en wanneer dit blom. Besproeiing elke 2-3 dae word aanbeveel. Moenie die grond laat uitdroog nie. 

Voeding: Voed met ‘n gebalanseerde, stadig vrystellende kunsmis in die lente en ‘n vloeibare voeding elke 4-6 weke gedurende die groeiseisoen. 

Blomkleur: Helderwit met ‘n delikate pienk sentrale streep en rooi helmdrade en helmknoppe. 

Kenmerke: Kompakte, bosagtige groeiwyse; blom oorvloedig al langs die stingels; lang blomseisoen met 

twee blomfases per jaar. 

Aspek: Beskut teen sterk winde. 

Grond (pH): Neutraal tot effens alkalies. 

Klimaat: Ten volle wintergehard. 

Gebruike: Plant in houers, voor tot middel van ’n bedding, teen klein stellasies of raamwerke, 

of tussen metgeselplante. 

Grootte: 90 x 120 cm. 

Samgro
-->
The Gardener